Uitvoerings van Chopin se polonaises is ten tyde van die Tweede Wêreldoorlog in Warschau verbied as gevolg van die sterk nasionale simbolisme in dié stukke
Voor 1850 was die musiek wat uitgevoer is eietydse werk – met die uitsondering van die kerk se korale en gesange. Teen die helfte van die 19de eeu het uitvoerings toenemend “klassieke” stukke begin insluit en dié neiging het dekade ná dekade al meer momentum begin kry.
Die daarstelling van ‘n klassieke repertorium of “kanon” het meteen ook belangstelling in die musiek van weleer aangewakker. Komposisies van meesters soos Schütz, Lasso, Palestrina, Handel en Bach is opgediep, maar eweso dié van Mozart, Beethoven, Mendelssohn, Schubert en Schumann.
Aangesien die oorgrote meerderheid van dié komponiste van Duitse oorsprong was, het Duitse nasionalisme op dié manier ‘n hupstoot gekry, onder meer in die publikasie van bladmusiek deur Duitse uitgewers.
Hoewel dié kanon so ver teruggaan as 1600 is dit die musiek uit die Klassieke era (1750-1820), veral Duitse orkes-, kamer- en koormusiek, wat dié lys oorheers het. Nie net in die 19de eeu nie, maar vandag nog. Miskien vandaar dat kunsmusiek algemeen bekend staan as “klassieke musiek”.
Nietemin het die komponiste van die laat 19de eeu te staan gekom voor die uitdaging om musiek te komponeer vir gehore wat gewoond geraak het aan bekende musiek. Komponiste soos Brahms het die uitweg gevolg om musiek te skryf wat neffens dié Beethoven en ander kon staan. Ander, soos Wagner en Liszt het Beethoven as rigtingwyser geag en het nuwe maniere van uitdrukking verken – soos musiekdrama en simfoniese toondigte.
Teen die einde van die 19de eeu het ‘n beslister onderskeid tussen ernstige en ligter musiek sigbaar begin word. Waar Beethoven byvoorbeeld ligte rondo’s sou skryf of verwerkings maak van volksmelodieë, was daar teen die laat 19de eeu komponiste wat uitgeblink het in musiek as vermaak – soos Johann Strauss II met sy Weense walse. Dieselfde soort onderskeid wat tussen opera en operette ingetree het, het ook van toepassing geword in “klassieke” musiek.
Soos voorheen genoem was die 19de eeu, die Romantiese era, ook die eeu van nasionalisme. Nie net Duitse nasionalisme nie, maar ook dié van minder prominente lande in die musiekgeskiedenis soos onder meer Pole en Finland. In Chopin se masurkas en polonaises is die volksidioom só duidelik hoorbaar dat die Nazi’s die speel van Chopin se polonaises ten tyde van die Tweede Wêreldoorlog in Warschau verbied het as gevolg van die sterk simbolisme in dié stukke.
Eweso is Jean Sibelius se Finlandia, op. 26 gesien as ‘n verklaring van Finse onafhanklikheid van Russiese oorheersing.
Bedrich Smetena se Má vlast (My vaderland), ‘n versameling van ses simfoniese toondigte, was nie net tekenend van die omgewing van die Moldau-rivier en die landskap van die huidige Tsjeggiese Republiek nie, maar bowenal ‘n verheerliking van die nasionale strewe. Die tweede van dié toondigte, “Vltava”, in Duits genoem “Die Moldau”, is verreweg die bekendste van die ses.
In Spanje was dit Isaac Albeniz wat met sy Suite Española, oorspronklik geskryf vir klavier, gestalte gegee het aan nasionalisme in dié land, ‘n land waarvan die musikale tradisie oorskadu is deur die Duitse musiekskat. Waarin Albeniz meesterlik slaag is om die agt streke (Kuba was toe nog deel van Spanje) van die land in dansstyle besonder akkuraat en met emosionele uitdrukking te vergestal.
Albeniz was boonop een van die eerste nasionalistiese eksponente in Spaanse musiek en staan bekend as die stigter van die Spaanse moderne skool.
https://www.youtube.com/watch’nv=KZGi49Bnghs
Vladimir Horowitz speel Chopin se Polonaise op. 53 in A-mol.
https://www.youtube.com/watch’nv=gTKsHwqaIr4
‘n Opname van “Die Moldau” uit Ma vlast van Bedrich Smetena. Die dirigent voor die Berlynse Filharmonie is Herbert von Karajan.
https://www.youtube.com/watch’nv=NT6GdusNZBo
Alicia de Larrocha (klavier) speel Isaac Albeniz se Suite Española met die agt dele:
Granada (Serenade)
Cataluña (Courante)
Sevilla (Sevillanas)
Cádiz (Canción)
Asturias (Leyenda)
Aragón (Fantasía)
Castilla (Seguidilla)
Cuba (Capriccio)