JOHAN MYBURG
Hoewel indelings soos Klassiek en Romantiek algemeen gebruik word, is sulke afbakenings selde volledig waterdig. ? Groot deel van die musiek wat tussen 1770 en 1900 geskryf is lê op ‘n kontinuum, met ‘n basiese harmonie-register en gemeenskaplike harmoniese progressie, ritme en vorm.
ETA Hoffmann (1776-1822) was die eerste skrywer wat verwys het na die beginsels van Romantiek in musiek. Dit het hy gedoen in ‘n bespreking van Beethoven se Vyfde simfonie van 1810 en weer in ‘n 1813-artikel oor Beethoven se instrumentale musiek. Hoffmann het die begin van die Romantiek sover terug geneem as die latere instrumentale werk van Haydn en Mozart.
Nietemin het die era van die Romantiek, die tyd van min of meer 1800 tot 1850, sy eie kenmerke wat gekoppel kan word aan gebeure van die tyd.
Die klem op emosie en individualiteit, tesame met ‘n verheerliking van die verlede en die natuur, was gedeeltelik as gevolg van ‘n reaksie op die nywerheidsrevolusie, die ontwikkeling van die natuurwetenskappe en die politieke nadraai van die Franse revolusie. Namate mense na stede gestroom het om die kapitalistiese droom na te jaag, het die Romantici die ongeskondenheid van die landelike opgesoek. Geld was nie die oogmerk vir die kunstenaars van die Romantiek nie, maar wel die nastreef van hoër ideale wat buite die voorhande gelê het.
Boonop het die Duitse Sturm und Drang-beweging met sy nadruk op emosie en intuïsie, asook ‘n intense verlange na die onvervulbare verdere trefkrag aan die Romantiek gegee.
Dié sentimente het geseëvier in Romantiese skilder- en digkuns, maar dit was in musiek waarin die indrukke, gedagtes en gevoelens van dié beweging ten beste gestalte gekry het. Die huwelik tussen Romantiese digkuns en musiek het gelei tot die totstandkoming van die kunslied.
Dit was veral Franz Schubert (1797-1828) en Robert Schumann (1810-1856) wat vroeë bydraers was tot die skat van Duitse Lieder. In dié tyd was daar talle vrouekomponiste wat uitgeblink het in kunsliedere wat tydens kleiner uitvoerings aangebied is. Dis dalk omdat hulle nie simfonieë of operas nagelaat het nie dat hulle nie opgeneem is in die kanon van komponiste nie. Fanny Mendelssohn Bartholdy (1805-1847) en Clara Schumann (1819-1896) is die van die vrouekomponiste uit die Romantiek wat wel, dog nie genoeg erkenning kry.
Benewens Lieder en klaviermusiek het die Romantiek ook sy merk gelaat op orkesmusiek, onder meer ten opsigte van die opkoms van programmusiek, en op opera (maar later meer hieroor). Orkeste het ‘n al groter instrumentbesetting gekry en die rol van die dirigent het al prominenter geword. Teen 1840 was die dirigent nie net meer die pasaangeër vir die orkes nie, maar die interpreteerder van die inhoud. Dié ontwikkeling het gestrook met die al groter plek wat aan die individu toegeken is.
Wat is 19de-eeuse Romantiek?
Die woord “romantiek” gryp terug na die Middeleeuse romans, epiese gedigte waarin die seges van ridders verhaal is. Dié helde was mense soos koning Arthur en Karel die Grote. Die verhale het gewoonlik gegaan oor goed wat vir die gewone mens fabelagtig en veral onbereikbaar was.
In die 19de eeu, en veral in Duitsland, het dié woord weer sy opwagting gemaak, maar toe as ? aanduiding van ? beweging teenoor die Klassieke voorstelling van die visuele kunste, poësie en musiek.
Luister hier na Martha Argerich se vertolking van Robert Schumann se agt Fantasiestücke, op. 12 (1837). Die opname is in 1976 gemaak.
Die agt dele is die intieme “Des Abends” (In die aand); die besonder vinnige “Aufschwung” (Opswaai); die tere “Warum” (Waarom) en die humoristiese “Grillen” (Grille). Daarna volg die evokatiewe “In der Nacht” (In die nag); die stadige “Fabel” (Fabel); die opgewekte “Traumes Wirren” (Droomverwarring) en ten slotte die opgewekte “Ende vom Lied”
(Einde van die lied).
Luister hier na die Nederlandse sopraan Elly Ameling se vertolking van twee liedere van Franz Schubert: “Im Frühling” (In die lente), op. 101/1, D 882, en “Der Jüngling an der Quelle” (Die jong man by die fontein), D 300. Die begeleier is Jörg Demus. Die 82-jarige Ameling was een van die voorste vertolkers van Schubert-Lieder