Richard Strauss se Also sprach Zarathustra is waarskynlik Strauss se bekendste musiek te danke aan die openingsdeel wat gebruik is in Stanley Kubrick se 1968-rolprent 2001: Space Odyssey
In sy poging om ná Beethoven vernuwend te werk te gaan en steeds gehore te lok en te bekoor het Richard Strauss (1864-1949) hom op programmusiek toegelê. Hoewel dié genre innig verweef was met die simfoniese tradisie, was dit ook nuut en daarmee het Strauss nuwe gehore gelok.
Programmusiek sou ‘n mens kortweg kon beskryf as musiek wat benewens die inherente verhaal in die musiek ook ‘n buite-musikale verhaallyn het, en wat dikwels weergegee word in programaantekeninge. In dié opsig het Strauss op die skouers van Franz Liszt en Hector Berlioz gestaan en op literêre verwysings voortgebou – soos dié na Don Quixote, Don Juan en Till Eulenspiegel. Maar dan het Strauss ook simfoniese toondigte tot ‘n nuwe hoogte geneem.
Ná sy aanvanklike twee vroeë simfonieë in 1880 en 1884 het Strauss hom in 1885 op toondigte begin toelê. Die volgende jaar het hy Aus Italien die lig laat sien en in 1888 Don Juan. Daarna het gevolg Macbeth, Tod und Verklärung (Dood en verheerliking), Till Eulenspiegels lustige Streiche (Die skelmstreke van Tyl Uilspieël), Also sprach Zarathustra (Aldus Zarathustra), Don Quixote, Ein Heldenleben (‘n Heldelewe), Symphonia Domestica en laastens die Alpe-simfonie in 1915.
Soos blyk uit dié repertorium dek programmusiek ‘n wye spektrum, van die weergawe van spesifieke omstandighede tot die uitdrukking van filosofiese idees.
Waar Don Juan dalk meer van ‘n gevoel as ‘n spesifieke storielyn vergestalt, vertel Till Eulenspiegel (1894-‘95) byvoorbeeld meer oor die grappige verhaal van dié vabond se streke.
Dié stuk musiek van net minder as 15 minute is geskryf in rondo-vorm met ‘n statige opening wat iets laat val van “eens op ‘n tyd”, die manier waarop verhale mos begin. Die eerste van die twee Tyl Uilspieël-motiewe kom aan die beurt – ‘n guitige melodie voortgebring deur die horings. Dié motief kom ná ontwikkeling tot ‘n einde en die vol orkes sluit dit af met iets van ‘n tada! Die tweede motief word voortgebring deur die klarinet en ‘n mens hoor daarin die humor en die musikale skater.
Die ritme verander voortdurend. Met tye verbeel ‘n mens jou jy hoor ‘n galop en selfs klanke wat iets van hansworsery vergestalt. Daar is dramatiese musiek kompleet met tromgeroffel en wat nie al nie wanneer Tyl na die galg gelei word (hy word op grond van godslastering ter dood veroordeel).
Teen die einde, wanneer Tyl ook haas op sy einde gekom het, word die klarinet weer ingespan, gevolg deur die “eens op ‘n tyd”-tema. Maar omdat ‘n vabond soos Tyl Uilspieël die vermoë het om uit alle penaries – selfs die dood – te kom, eindig Strauss die stuk met nog ‘n triomfantelike grap in die laaste paar mate. Luister op www.vrouekeur.co.za na ‘n opname van Till Eulenspiegels lustige Streiche deur die Tonhalle-orkes van Zürich onder leiding van David Zinman.
Strauss se Also sprach Zarathustra is waarskynlik Strauss se bekendste musiek te danke aan die openingsdeel wat in Stanley Kubrick se 2001: Space Odyssey gebruik is, dié deel wat gebruik is om die daeraad mee aan te kondig en eweso om iets te verbeeld van die geboorte van argumentasie.
Sy Vier laaste liedere, geskryf kort voor die einde van sy lewe, handel oor die dood. Die laaste een, “Im Abendrot” (Teen sononder), eindig met die vraag: “Is dit dalk die dood?” As antwoord op dié vraag haal Strauss gewoon uit sy vroeëre Tod und Verklärung aan.