Sy is in Lady Frere in die Oos-Kaap gebore, maar Stuttgart in Duitsland is deesdae Pumeza Matshikiza se tuiste
Deur JOHAN MYBURG
Tot en met haar eerste professionele optrede in Suid-Afrika in Maart vanjaar was TV-uitsendings en CD-opnames die enigste manier waarop Suid-Afrikaners hier te lande met die stem van Pumeza Matshikiza in aanraking kon kom.
In 2011 het sy by die troue van prins Albert II van Monaco en Charlene Wittstock gesing, en in Julie 2014 het sy Freedom Come All Ye tydens die opening van die Statebondspele in Glasgow voor ’n wêreldwye gehoor van ’n miljard TV-kykers gesing. Met haar weergawe van dié lied met sy Suid-Afrikaanse konneksies het sy in die harte van die Skotte gekruip. Vir Decca het sy twee CD’s opgeneem: Voice of Hope in 2014 en Arias verlede jaar met arias van Purcell en Puccini, asook liedere van Fauré, Hahn en Tosti.
Haar eerste twee optredes in haar vaderland was eers in die RMB Starlight Classics-konsert op die Vergelegen-landgoed en die ander in die Linder in Johannesburg. Gehore kon hulle eerstehands vergewis van die lewenskrag en eie persoonlikheid wat sy met haar stem en hele wese na die musiek bring. Haar Johannesburgse konsert het ’n klein venster op die lewe van dié 38-jarige sopraan, wat in Lady Frere in die Oos-Kaap gebore is, gebied. Sy het in Kaapstad grootgeword en Stuttgart is deesdae haar huis. Die Concertgebouw, La Scala en Covent Garden is vir haar gereelde bestemmings.
LEES OOK:Klassieke musiek: Pretty Yende
Ná haar verpligtinge by die Stuttgart Opera, waar sy ’n vaste kontrak gehad het, het sy tans die geleentheid om op uitnodiging in Europa op te tree, onlangs in Kopenhagen, Gotenburg en Krakow. Saam met die Frans-Mexikaanse tenoor Rolando Villazón onderneem sy konserttoere met besoeke aan die Royal Festival Hall in Londen, die Théâtre des Champs-Élysées in Parys, die Konzerthaus in Wene en die Tonhalle in Düsseldorf en later dié maand ook in Salem in Duitsland. Hoewel Matshikiza in die Europese operatradisie en -repertorium geskool is, slaag sy daarin om ’n Afrika-band te behou.
In Oktober het sy in Rome by die aanvang van die Orchestra di Santa Cecilia se konsertseisoen opgetree in die première van Luca Francesconi se Bread, Water and Salt, op tekste van Nelson Mandela gegrond. Die keuse van musiek op haar CD’s eggo dié band. Op die album Voice of Hope is daar benewens Mozart en Puccini ook ’n georkestreerde weergawe van Enoch Sontonga se Nkosi Sikelel’ iAfrika en Miriam Makeba se Pata pata, wat sy op die Monegaskiese troue gesing het en meer onlangs ook vir Villazón leer sing het. Die Suid-Afrikaanse komponis wat jare lank al in Ierland woon, Kevin Volans, se Umzi watsha is ook op die album ingesluit. In 2002 het Matshikiza ’n rol in Confessions of Zeno, Volans se opera, saam met die Handspring Puppet Company vertolk.
Matshikiza was ’n student van Virginia Davids aan die Universiteit van Kaapstad se musiekskool toe Volans onder die indruk van haar talent gekom en vir haar ’n vliegkaartjie Londen toe gekoop het om vir oudisies te gaan. Haar eerste afspraak by die Royal College of Music het haar onmiddellik ’n volle beurs besorg en dit is waar sy rolle vertolk het in The Minotaur (Birtwistle), Don Carlo (Verdi) en Hänsel und Gretel (Humperdinck). In 2010 het sy die Veronica Dunneinternasionale sangkompetisie gewen en die volgende jaar het sy ’n driejaarkontrak met Stuttgart Opera gesluit. Voor haar het soveel sangers die crossover-koers ingeslaan. Gaan Matshikiza daarin slaag om die nodige brug tussen Westerse opera en Afrika-musiek te slaan? Hier is ’n loopbaan om dop te hou. Besoek ook www.pumezamatshikiza. com