Péter Louis van Dijk was vanjaar die komponis-in-residensie op die agtste Johannesburg Internasionale Mozartfees (JIMF) wat van 23 Januarie tot 7 Februarie in Johannesburg aangebied is. Dié fees gee onder meer jaarliks prominensie aan die werk van ‘n Suid-Afrikaanse komponis.
Johan Myburg
Die JIMF vind jaarliks plaas rondom Mozart se verjaardag op 27 Januarie. Vir dié verjaardagviering vanjaar was Van Dijk se Iinyembezi op die program saam met Mozart se Kwartet in E-mol, K 428. Dié twee werke is voorgedra deur die Bloemfonteinse Odeion-strykkwartet.
Iinyembezi, wat “trane” beteken in Xhosa, is geïnspireer deur die Engelse komponis John Dowland (1562/63-1626) se lied “Flow My Tears”. Van Dijk het dié werk opgedra aan sy seun en altvioolspeler Zandi van Dijk wat dit in 2000 saam met lede van die Universiteit van Kaapstad-strykkwartet vir die eerste keer op die Grachten-fees in Amsterdam uitgevoer het.
Maar die hoogtepunt sover dit Van Dijk betref was die uitvoering van twee van sy werke in die fees se slotkonsert in die Linder-ouditorium in Parktown. Die uitvoering is begin met sy San Gloria en afgesluit met sy guitige verkenning van die simfonieorkes (bedoel vir kinders en eweveel geniet deur volwassenes), The Musicians of Bremen.
In die San Gloria het Van Dijk met die Latynse woorde van “Gloria in excelsis Deo” en oorspronklike San-temas ? brug probeer slaan tussen twee onverwante kulture.
Luister na Péter Louis van Dijk se San Gloria (1990). Die dele is “Gloria in excelsis”, “Et in terra pax”, Laudamus Te”, “Domine Deus” en “Quoniam”. Die dirigent in dié opname saam met die SAUK se Nasionale Simfonie-orkes is Richard Cock.
[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/_IY__wOGL1w” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
In The Musicians of Bremen kom Van Dijk se humor heerlik na vore. Die vertrekpunt vir dié werk met opvoedkundige waarde (in die trant van Prokofiëf se Peter en die wolf en Benjamin Britten se Young Persons Guide to the Orchestra) is die Broers Grimm-verhaal van die vier diere, ‘n donkie, ‘n hond, ‘n kat en ‘n haan, wat saam ‘n bende boewe uitoorlê. Van Dijk begin dié werk met ‘n aanhaling van Victor Hugo: “Die opperste geluk in die lewe is om te weet dat ons geliefd is.”
Sy kantate The Selfish Giant, geskoei op Oscar Wilde se kinderverhaal, is in 2013 tydens die Stellenbosch internasionale kamermusiekfees uitgevoer met emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu as verteller.
Van Dijk as opvoeder wat onderrig so aantreklik moontlik wil maak, blyk uit werke soos “Beethoven or Bust”, ‘n concerto wat hy beskryf as “’n tweestryd vir klavier, blaaier en orkes” en “Brandenburg 7.2”, ‘n komiese stuk vir sopranino-blokfluit, altviool, slagwerk (koekbaktoerusting) en strykorkes.
Van Dijk is in 1953 in Rotterdam, Nederland, gebore, maar het in Kaapstad grootgeword. Hy het op sewe met musieklesse begin en onder meer kitaar, viool, mandolien, tenoortuba en perkussie onder die knie gekry.
Op 19 het hy sy eerste opera, The Contract (met as libretto ‘n kortverhaal van Giovanni Papini) geskryf wat in 1973 onder regie van Van Dijk opgevoer is. Daarna het nog vier operas gevolg asook twee ballette.
Sy leermeesters sluit in komponiste soos Gideon Fagan, Stefans Grové en Peter Klatzow. Van Dijk het sy doktorsgraad in 2004 aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.
Ná onderrig aan verskeie skole in die Kaap, die Universiteit van Kaapstad asook die Universiteit van Wes-Kaapland, het Van Dijk in 1984 assistent musiekbestuurder van Kruik in Kaapstad geword en sedert 1986 is hy heeltyds komponis en deeltydse musiekdosent.
Luister na ‘n opname van Horizons, ‘n koorwerk vir twee kontratenore, tenoor, bariton en bas (geskryf in opdrag van die King’s Singers). Dié opname is in 2008 deur die Emory Concert Choir in die Schwartz Center for the Performing Arts gemaak. Die dirigent is Eric Nelson en die tenoor is Charles Snell.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/5kp5zFRNK10″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Meer inligting oor die Johannesburg International Mozart Festival by www.join-mozart-festival.org