Dié operageselskap met die slagspreuk “Opera vir almal”, poog inderdaad om vir verskillende gehore verskillende gedaantes van opera aan te bied
Johan Myburg
Ná sy aanbieding van Giuseppe Verdi se La traviata in Wits se Grootsaal op die Braamfontein-kampus in Johannesburg, is Gauteng Opera se volgende projek drie Suid-Afrikaanse operas wat in die Soweto-teater opgevoer word.
Dié operageselskap met die slagspreuk “Opera vir almal” poog inderdaad om vir verskillende gehore verskillende gedaantes van opera aan te bied.
Vir Jabulani se Soweto-teater bied Gauteng Opera in Cula Mzansi: 3:20 min South African Operas drie kort operas aan van drie Suid-Afrikaanse komponiste: Bongani Ndodana-Breen, Peter Klatzow en Martin Watt.
Die drie operas is deel van ’n opdrag van die Universiteit van Kaapstad aan vyf Suid-Afrikaanse komponiste om elk ’n opera ter viering van die eeufees van die Suid-Afrikaanse musiekkollege van die Universiteit van Kaapstad te skryf. Dié projek, Five:20 – Operas Made in South Africa, is deur die Gordon-instituut vir die uitvoerende en kreatiewe kunste (GIPCA) geborg.
Die ander twee operas is Hendrik Hofmeyr se Saartjie en Out of Time van Péter Louis van Dijk.
• Ndodana-Breen se Hani, ’n opera geskryf vir drie karakters en ’n koor, gaan oor die vermoorde anti-apartheidleier Chris Hani. Dié opera, met die libretto deur Mfundi Vundla, is saam met die ander vier operas vir die eerste keer in 2010 in die Baxterteater in Kaapstad opgevoer.
Die verhaal van Hani is dié van ’n librettoskrywer wat terugdink aan ’n ontmoeting met Hani toe dié nog in Los Angeles in ballingskap was. Die skrywer kom in ’n droomstaat ’n waarsêer, ’n imbongi (lofsanger) en ’n koor van voorvaders teë.
Die regisseur van Hani is Warona Seane.
• Ndodana-Breen is in 1975 in Queenstown gebore, het aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad studeer asook onder Roelof Temmingh aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1998 is Ndodana-Breen as Standard Bank se Jong Kunstenaar vir musiek aangewys.
Tronkvoël, geskryf deur Martin Watt en met ’n Afrikaanse libretto deur Alwyn Roux, is op die tronkverse van Breyten Breytenbach geskoei. Die sentrale gevangenis in Pretoria is die plek waar dié opera afspeel, die plek waar Breytenbach die eerste twee jaar van sy tronkstraf deurgebring het. Hy is in 1975 tronkstraf van sewe jaar vir hoogverraad opgelê.
Van karakters soos Swartman, Boerseun en Hond sien ’n mens net die silhoeët as gevolg van die beligting. Watt se uitgangspunt was nie om musikale simbole aan Breytenbach se poësie te koppel nie, maar eerder ’n spesifieke klankomgewing te skep.
Die regisseur is Tshepo Ratona.
• Watt is in 1975 in Standerton gebore. Hy het aan die universiteite van Potchefstroom en Kaapstad asook die Royal College of Music in Londen studeer. Hy is sedert 2008 dosent in musiekanalise, komposisie en orkestrasie aan die Universiteit van Kaapstad.
Peter Klatzow, die meester onder wie Watt aan die Universiteit van Kaapstad studeer het, is die komponis van Words from a Broken String, volgens die libretto van Michael Williams. Dié opera vertel die verhaal van Lucy Lloyd, die 19de-eeuse linguis wat destyds saam met haar swaer, Wilhelm Bleek, die taal van die San opgeteken het.
Die is op Pippa Skotnes se boek Claim to the Country opera geskoei. Die regisseur is Marcus Desando.
Die soliste wat optree, is Natalie Bath en Khumbuzile Dhlamini (sopraan), Elizabeth Lombard (mezzosopraan) en Kagiso Boroko, Coert Grobbelaar en Phenye Modiane (tenoor). Die dirigent is Graham Scott en die lig- en stelontwerp word deur Wilhelm Disbergen gedoen.
SOURCES
Tommy Ga-Ken Wan met vergunning van die Gordon Institute for Performing and Creative Arts