Mpofu is tans ? lid van Kaapstad Opera se Studio, die enigste omvattende en gevorderde onderrigkurrikulum van sy soort vir jong gegradueerde sangers in die land
Johan Myburgh
Die Oos-Kaapse sopraan Noluvuyiso Mpofu is in Julie aangewys as naaswenner sowel as wenner van die gehoorprys in die 35ste Hans Gabor Belvedere- internasionale sangkompetisie wat vanjaar in Kaapstad aangebied is. Mpofu het boonop die Margaretha Deysel-prys, ? prys wat dié Suid Afrikaanse sopraan toeken aan ? verdienstelike landgenoot, ontvang.
Die Amerikaanse basbariton Nicholas Brownlee is as die wenner aangewys en in die derde plek was die Amerikaanse mezzosopraan Raehann Bryce-Davis. Die internasionale media-jurieprys is toegeken aan die Italiaanse sopraan Selene Zanetti.
Mpofu is tans ? lid van Kaapstad Opera se Studio, die enigste omvattende en gevorderde onderrigkurrikulum van sy soort vir jong gegradueerde sangers in die land. Sy het onlangs haar nagraadse diploma in opera behaal.
Sy het op skool as tiener kennis gemaak met opera deur middel van eisteddfods. In die eerste jaar waarin sy vir ? sangkompetisie ingeskryf het, het sy nie hond haaraf gemaak nie. Toe sy die jaar daarna deelneem, het sy provinsiaal sowel as nasionaal presteer. Dit was toe dat sy besluit het op musiek as ? loopbaan. In 2010 het sy die Ruth Ormond-prys vir die belowendste student verower.
Die afgelope paar jaar het sy aan verskeie sangkompetisies deelgeneem en wyd sukses behaal. In 2013 het sy die derde plek behaal in die ATKV se Muziqanto en die volgende jaar die tweede plek behaal in die Amazwi Omzantsi-eindronde in Durban. In 2014 is sy aangewys as die wenner van die Universiteit van Kaapstad se Schock-stigting se sangkompetorise en in ook in 2014. Verlede jaar is sy aangewys as die wenner van die ATKV se Muziqanto-sangkompetisie.
Verlede jaar het Mpofu ? bronsmedalje in die vroueafdeling verower op Operalia, die internasionale sangkompetisie wat Plácido Domingo in 1993 begin het in ? poging om die loopbaan van belowende sangers tussen 18 en 32 ? hupstoot te gee. Operalia 2015 is in die Royal Opera House in Londen aangebied. Die wenner by dié geleentheid was die Noorweegse sopraan Lise Davidsen en die naaswenner die Suid-Koreaanse sopraan Hye Sang Park.
In November verlede jaar het Mpofu die rol van Mary, Queen of Scotts gesing in Kaapstad Opera se voorstelling van Donizetti se Maria Stuarda.
Haar operarolle sluit in dié van Leila in ? uittreksel saam met die UK Kaleidoskoop van Les pêcheurs des perles (Bizet); Woglinde in Das Rheingold (Wagner); Despina in Così fan tutte (Mozart); Rosina in Il barbiere di Siviglia (Rossini); Madame Cortese in Il viaggio a Reims (Rossini), The Lady with a Hand Mirror in Postcard from Morocco (Argento) en Violetta in La traviata (Verdi). Sy het ook deelgeneem aan ? uitvoering van die Simfonie no. 9 van Beethoven op ? jeugmusiekfees wat Kunstekaap en die Kaapstad Filharmonie aangebied het.
Tydens die basbariton Bryn Terfel se besoek aan Suid-Afrika in 2014 het Mpofo ? duet uit L’elisir d’amore (Donizetti) saam met dié Walliese operasanger gesing.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/hlOrNNYDkYA” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Noluvuyiso Mpofu (sopraan) saam met Juan Burgers (klavier) in ? uitvoering van “Caro nome” uit Verdi se Rigoletto.
Hans Gabor Belvedere-sangkompetisie
Die prys is genoem na Hans Gabor (1924-1994), ’n Hongaarse dirigent en stigter van die Weense Kameropera en die Belvedere-kompetisie.
Kaapstad was vanjaar die eerste stad buite Europa waar dié sangkompetisie nóg aangebied is – juis omdat Suid-Afrika al twee wenners, Pretty Yende (2009) en Levy Sekgapane (2015), opgelewer het asook talle ander pryswenners. Vanjaar was daar vier Suid-Afrikaners onder die finaliste – benewens Mpofu ook die egpaar Lukhanyo Moyake (tenoor) en Siphamandla Yakupa (sopraan), en die sopraan Caroline Nkwe.
Die beoordelaars was Michael Ajzenstadt (Israeli Opera, Tel Aviv), Marcus Desando (Gauteng Opera), Toni Gradsack (Teatro alla Scala, Milaan), Guy Montavon (Theater Erfurt), Hein Mulders (Aalto Theater und Philharmonie, Essen), Björn Peters (Sächsische Staatsoper, Dresden), John Roos (Unisa internasionale musiekkompetisie), Christina Scheppelmann (Gran Teatre del Liceu, Barcelona), Melissa Wegner (Metropolitan Opera, New York), Matthew Wild (Kaapstad Opera) en Diane Zola (Houston Grand Opera, Texas).