Neo Muyanga, komponis, musikus en kulturele aktivis, is vanjaar die feeskomponis op die Johannesburgse Internasionale Mozartfees
Deur JOHAN MYBURG
Die negende Johannesburg Internasionale Mozart-fees (JIMF) word van 27 Januarie tot 5 Februarie in die Goudstad aangebied. Die leuse vir dié fees is: “That’s all folk(s)!”
Soos die afgelope paar jaar die geval was, sit die JIMF sy vennootskap met die roemryke Duitse Hochschule für Musik und Tanz in Keulen vanjaar voort. Dié samewerking het in 2012 begin toe prof Josef Protschka ‘n meesterklas vir jong sangers kom aanbied het.
Uit die deelnemers aan dié eerste meesterklas het twee soprane, Nombuso Ndlandla en Andiswa Makana, asook die tenoor Siyabonga Maqungo in 2013 met behulp van ‘n JIMF-beurs en die finansiële steun van Rand Merchant Bank ‘n jaarkursus afgehandel. Dié drie het in die herfs van 2013 in Keulen aangekom en intussen hul meestergraadprogramme afgehandel. Nog twee sangers, Aron Mahlohla en Makudupanyane Senoana, is uit die 2015-meesterklas gekies. Mahlohla het sy studie vroeër vanjaar voltooi terwyl Makudupanyane saam met die 2016-kandidaat, Eddie Mofokeng, hul studie eersdaags gaan begin.
Protschka is vanjaar terug om meesterklasse by die Universiteit van Pretoria aan te bied.
Soos voorheen wys die JIMF jaarliks ‘n feeskomponis aan. Vanjaar val dit Neo Muyanga te beurt: ‘n komponis, musikus en kulturele aktivis wat tydens die struggle-jare in Soweto gebore is. Hy het weliswaar filosofie en fisika aan die United World College of Italy in Trieste gaan studeer en daar ook onder leiding van Piero Poclen madrigaal-voordrag bemeester. Daarna het hy sy studie in politieke wetenskap aan die destydse RAU voortgesit.
In die 1990’s was hy saam met Masauko Chipembere deel van die akoestiese popduo Blk Sonshine en hulle het plaaslik en in die buiteland opgang gemaak.
In 2011/12 het Muyanga met The Flower of Shembe vorendag gekom, ‘n kameropera vir vertellers, sangers, koor en ‘n kamerensemble. In sy musiek maak Muyanga van tradisionele Sesotho- en Zoeloe-elemente gebruik wat hy met Afrika-musiek kombineer, onder meer dié van Ethiopië, asook jazz en Westerse kunsmusiek.
In 2013 het Opera Africa hom opdrag gegee om ‘n opera oor ‘n episode uit die lewe van Nelson Mandela te skryf, The Struggle is My Life.
Werke van Muyanga sal op die JIMF uitgevoer word en hy sal ook as deel van ‘n komposisieprojek aan ‘n werksessie deelneem.
Enkele hoogtepunte op vanjaar se program is ‘n optrede deur die Bloemfonteinse Odeion-strykkwartet op 29 Januarie. Dié kwartet het verlede jaar ook aan die fees deelgeneem en was uitmuntend. Vanjaar tree die Odeion saam met die Duitse pianis Florian Uhlig op, wat ook die artistieke direkteur van die JIMF is.
Op 28 Januarie is daar ‘n uitvoering deur die sopraan Magdalene Minnaar, begelei deur José Dias in Northwards. ‘n Konsert deur die Buskaid Soweto-strykensemble wat Rosenary Nalden in 1997 op die been gebring het – wat vanjaar 20 jaar oud is – vind op 4 Februarie in The Edge by die St Mary-skool plaas.
Die openingskonsert van die JIMF vind op Mozart se geboortedag (27 Januarie 1756) plaas, maar oudergewoonte is ‘n Weense Nuwejaarskonsert reeds op 21 Januarie in die Linder-ouditorium aangebied.
Die fees word op 5 Februarie met ‘n gesinskonsert om 11:00 en die slotkonsert om 15:00 afgesluit.
Die uitvoerings vind hoofsaaklik in die Linder, Northwards, The Edge by die St Mary-skool in Waverley en die St Francis Anglikaanse Kerk in Parkview plaas.
Besoek www.join-mozart-festival.org vir nog inligting