Daar is heelwat komponiste wat musiek vir die viool kan skryf, maar slegs enkeles wat vioolmusiek kan skryf
Johan Myburg
Daar is heelwat komponiste wat musiek vir die viool kan skryf, maar slegs enkeles wat vioolmusiek kan skryf
Die Hongaarse violis Kristóf Baráti en die Amerikaanse pianis Bryan Wallick is op 18 Junie in die Linder-ouditorium in Parktown, Johannesburg, vir ‘n uitvoering wat aangebied word deur die Johannesburg Musiekvereniging (JMV). Dis die sesde konsert wat die JMV vanjaar aanbied.
Die program sluit werke in uit bykans tagtig jaar van Romantiek – van Beethoven se Lente-sonate van 1801 tot en met drie danse van Sarasate wat dateer van die laat 1870’s.
Baráti is in 1979 in Boedapest gebore en het as kind onderrig van sy ma, ‘n violis in eie reg, ontvang.
‘n Groot deel van sy grootwordjare het hy in Venezuela deurgebring waar hy by verskeie geleenthede saam met orkeste opgetree het. Op 11 het hy ‘n uitvoering gegee vir die Festival de Radio France in Montpellier, Frankryk.
Later het hy sy studie voortgesit onder leiding van Vilmos Tátrai, stigter van die beroemde Tátrai-kwartet en ook aan die Franz Liszt-musiekakademie in Boedapest.
In 1996 het hy in Parys daan studeer onder leiding van Eduard Wulfson wat op sy beurt ‘n student van Yehudi Menuhin, Nathan Milstein en Henryk Szeryng was.
Baráti het verskeie musiekkompetisies gewen en in 1997 het hy die derde plek en die gehoorprys ontvang in die Koningin Elizabeth-kompetisie – waarin hy die jongste deelnemer was.
In 2010 het hy die Paganini-kompetisie gewen en in 2014 het hy die Kossuth-prys, Hongarye se hoogste kulturele toekenning, ontvang. Dié prys is voorheen toegeken aan musici soos György Ligeti, Iván Fischer en András Schiff.
Baráti speel op die “Lady Harmsworth”-viool wat in 1703 deur Antonio Stradivarius gemaak is en wat in besit is van die Stradivarius-vereniging van Chicago.
Wallick is dikwels op Suid-Afrikaanse verhoë te sien. Benewens dié uitvoering saam met Baráti tree hy ook op 16 September op in Kaapstad as deel van die Trio Elagiaque saam met die Russiese violis Sergey Malov en die Suid-Afrikaanse tjellis Peter Martens. Dié trio is op 17 September ook in die Linder in nog ‘n JMV-konsert.
Wallick, ‘n oudstudent van die New Yorkse Julliard-musiekskool, het sy debuut in 1998 in Carnegie se Weill-konsertsaal gemaak. Die vorige jaar het hy ‘n goue medalje verwerf in die Vladimir Horowitz- internasionale klavierkompetisie in Kiëf.
Hy het sy studie in Londen aan die Royal Academy of Music voortgesit onder leiding van Christopher Elton.
Baráti en Wallick se program vir die Linder-uitvoering bestaan uit Franz Schubert (1797-1828) se Vioolsonate in A, D 574; Ludwig von Beethoven (1770-1827) se Vioolsonate no. 5 in F, op. 24; Pyotr Tsjaikowski (1840-1893) se Meditation uit Souvenir d’un lier cher, op.42; Johannes Brahms (1833-1897) se Hongaarse dans no. 17 in f-kruis en drie danse van Pablo de Sarasate (1844-1908): Andalusiese romanse, Habañera en Malagueña.
Van al genoemde komponiste is Sarasate die minder bekende een. Pablo Martín Melitón de Sarasate y Navascués was ‘n Spaanse komponis en virtuose violis wat hom in Parys gevestig het. Verskeie komponiste het sy briljante viool-vaardigheid besef en werke aan hom opgedra – onder andere Camille Saint-Saëns, Édouard Lalo, Max Bruch en Henryk Wieniawski.
Oor sy vermoë om vir die viool te skryf het George Bernard Shaw, dramaturg en musiekkritikus, gesê daar is heelwat komponiste wat musiek vir die viool kan skryf, maar slegs enkeles wat vioolmusiek kan skryf.
Die Linder-uitvoering begin om 20:00. Kaartjies kos R200 by Computicket.
[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/zWRawgoT8yw” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Luister na Baráti se uitvoering van JS Bach se Sonate vir viool in g. Die opname is in 2008 tydens ‘n uitvoering in die Moskou-konservatorium gemaak.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/PGFs7n6n3-8″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Luister na ‘n opname van Beethoven se Lente-sonate – No. 5 in F, op. 24 – uitgevoer deur Anne-Sophie Mutter (viool) en Lambert Orkis (klavier).
[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/ZurjUxUgoh4″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Luister na Joshua Bell se vertolking van De Sarasate se Zigeunerweisen, een van Sarasate se bekendste komposisies. Bell tree op saam met die Royal Philharmonic Orchestra onder leiding van Andrew Litton.
Vir meer inligting oor die JMV besoek die webwerf www.jms.org.za.