Konstantin Scherbakov is al beskryf as “een van die ondernemendste, uitdagendste en interessantste pianiste vandag”.
Johan Myburgh
Konstantin Scherbakov, die Russiese pianis wat hom onder meer ten doel gestel het om die volledige versameling Liszt-transkripsies van die Beethoven-simfonieë te speel, is op 15 Oktober in die Linder in Johannesburg vir ? konsert te sien, aangebied deur die Johannesburg Musiekvereniging (JMS).
Op 22 Oktober is hy in die Baxter in Rondebosch vir ? uitvoering as deel van die Kaapstad-konsertreeks. Hy sluit albei die programme af met die Liszt-transkripsie van die Simfonie no. 3 in E-mol, op. 55 (“Eroica”). Die hele program bestaan trouens uit Beethoven-werke: Eerste op die program is die ses bagatelle, op. 126, en daarna die 15 variasies in E-mol, op. 35, die sogenaamde Eroica-variasies.
Scherbakov was in 2012 ook in Johannesburg met ? program bestaande uit werk van Liszt, Berlioz, Myaskovsky, Rachmaninoff en Saint-Saëns.
Daar is al na hom verwys as “een van die ondernemendste, uitdagendste en interessantste pianiste vandag”. Sy repertorium is wyd en stel besonder hoë eise – sover dit tegniek én interpretasie raak. Het die volledige soloklavierwerke van Godovsky, Respighi en Sjostakowitsj opgeneem asook die volledige werke vir klavier en orkes van Medtner, Respighi en Scriabin.
Oor sy uitvoering van die volledige Preludes en Fugas van Sjostakowitsj wat oor twee aande gestrek het tydens die 2005 Salzburg-fees, is in die Oostenrykse media geskryf “? mens kan nie ? beter vertolking van Sjostakowitsj kry nie”.
Scherbakov, wenner van die eerste Rachmaninoff-klavierkompetisie in 1983, is in 1963 in Siberië gebore. Hy het op vyf begin klavier speel en op 11 sy eerste konsertoptrede gehad in ? uitvoering van Beethoven se Klavierkonsert no. 1. Hy het vir homself naam gemaak in die Sowjet-unie en in meer as 100 Sowjet-stede uitvoerings gegee saam met dié land se voorste orkeste. Nietemin het sy internasionale deurbraak in 1990 gekom toe hy in vier uitvoerings vertolkings gelewer het van die volle omvang van Rachmaninoff se komposisies vir solo-klavier op die kamermusiekfees in Asolo in Italië.
In 1992 het hy hom in Switserland gevestig en onder die EMI-etiket opnames gemaak van Johann Strauss II-walsparafrases deur onder andere Reger, Tausig, Rosenthal, Cziffra en ander. Vir die Naxos-etiket het hy talle opnames gemaak, waaronder die werk van uiteenlopende komponiste – van Scarlatti tot Liapunov. In 1994 is sy opname van die Transendentale etudes van Liapunov uitgegee onder die Marco Polo-etiket.
Vir die Stellenbosse etiket Two Pianists het hy verskeie opnames gedoen. Tot dusver het hy 35 CD’s opgeneem met meer as 300 werke.
Met die 20ste herdenking van sy sege in die Rachmaninoff-kompetisie het hy in 2003 weer in vier uitvoerings die musiek vir soloklavier van dié Russiese komponis aangedurf.
Hy is in 1998 aangestel as professor aan die musiekskool van die Zürich-universiteit en benewens konsertreise bied hy ook meesterklasse reg deur die wêreld aan – van Kuba tot Japan.
Sy konsertoptredes sluit in uitvoerings in die roemrykste konsertsale – van die Filharmonie van Keulen en die Gewandhaus Leipzig tot Londen se Wigmore Hall, die Tonhalle in Zürich, die Grootsaal van die Moskou-konservatorium en die Casals-saal in Tokio.
Scherbakov woon in Zürich, Moskou en Palamos, noord van Barcelona, aan die Spaanse kus.
Die konsert op 15 Oktober in die Linder in Parktown begin om 20:00. Kaartjies kos R200 deur Computicket. Die uitvoering in die Baxter op 22 Oktober begin om 20:00 en kaartjies kos R130 en R150.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/EwqzH2gN0wU” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Konstantin Scherbakov speel Beethoven se Bagatelle no. 2, op. 126.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/UOr1372oUQY” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
? Voorsmaak van die Liszt-transkripsie van Beethoven se Simfonie no. 3 gespeel deur Konstantin Scherbakov.
Twee CD’s van Konstantin Scherbakov uitgegee deur Two Pianists.