Bach se Kersfees-oratorium gryp al die emosies rondom Kersfees meesterlik in musiek saam
Deur JOHAN MYBURG
Kommersiële Kersmusiek kan uitputtend wees – dikwels omdat ’n mens nie beheer het oor waarna jy in winkelsentrums moet luister nie. En dis benewens die herhaling daarvan. As jy behoefte aan Kersmusiek met oemf het, kan jy dalk die volgende lysie oorweeg. Bo-aan pryk ongetwyfeld Johann Sebastian Bach se Kersfees-oratorium, BWV 248, wat hy vir die Kersfees van 1734 geskryf het. Dit is ’n lywige werk – in totaal duur dit bykans drie uur – maar die bedoeling was dat dit oor ’n paar dae, op en ná Kersdag, uitgevoer (en deesdae op CD gespeel) kan word.
Die ses dele (elkeen ’n kantate in eie reg) waaruit die oratorium bestaan, beskryf die geboorte van Christus (Kersdag); die aankondiging aan die herders (26 Desember); die aanbidding deur die herders (27 Desember); die besnydenis en naamgewing van Jesus (Nuwejaarsdag); die reis van die wyse manne (eerste Sondag ná Nuwejaar) en die verering deur die wyse manne (Epifanie). Bach se Kersfees-oratorium gryp al die emosies rondom Kersfees meesterlik in musiek saam – van die aanvangsnote deur die keteltromme, dan met fluit en hobo, gevolg deur die strykers en daarna die koor wat triomfantlik inkom met “Jubel van vreugde, verhef, staan op, prys die dag …” tot die laaste koraal waarin die jong loot wat die boom sal word waaruit die kruis gemaak sal word as ’t ware verbeeld word. (Oorweeg gerus die opname met Nikolaus Harnoncourt as dirigent.)
LEES OOK: Klassieke klanke: Nessun dorma
’n Mens sou kwalik aan Franz Liszt dink as ’n komponis wat Kersmusiek geskryf het. Maar moenie glo nie. In die herfs van 1881 het Liszt in ’n hotelletjie in Rome vertoef terwyl sy kleindogter Daniela von Bülow hom geselskap gehou het. Hy was 70 en sy musiek het milder geword, soos uit sy Weihnachtsbaum (Kersboom-suite) blyk. Die eerste uitvoering voor ’n paar gaste was op Kersdag in 1881 in Daniela – aan wie die suite opgedra is – se hotelkamer. Die suite is aanvanklik vir soloklavier geskryf, hoewel Liszt dit later vir vier hande verwerk het. In die suite herken ’n mens ’n hele aantal Kersliedere – met tipiese Lisztbehandeling. In 1854 het Hector Berlioz ’n oratorium geskryf geskoei op Josef en Maria se vlug na Egipte met Jesus. L’enfance du Christ (Die kinderdae van Christus), op. 25, is ’n driedelige werk waarvoor Berlioz self die teks geskryf het.
Die werk begin met pastorale hoboklanke van die herders wat afskeid neem van Jesus en sy ouers voordat hulle die tog na Egipte onderneem. Dit is die naïwiteit en onopgesmuktheid waarmee dié oratorium begin wat ’n mens van meet af aan betower. As jy vir Kersliedere in ’n orkesgedaante lus het, is Victor Hely-Hutchinson se Carolsimfonie dalk net die ding. Dié simfonie is in 1929 geskryf en bestaan uit vier bewegings, elk geskoei op tradisionele Engelse liedere: O Come, All Ye Faithful, God Rest You Merry, Gentlemen, The First Noel en Here We Come A-wassailing. Christian Victor Hely- Hutchinson (1901–1947) is in Kaapstad gebore, waar sy pa goewerneur van die Kaapkolonie was.
Ná sy studie in Engeland, onder meer aan Oxford in die dirigeerkuns onder leiding van sir Adrian Boult, is Hely-Hutchinson in 1922 terug Kaap toe, waar hy begin klas gee het aan die Suid-Afrikaanse musiekkollege wat deesdae die Universiteit van Kaapstad se musiekskool is. Die Carol-simfonie is in 1929 die eerste keer in Londen uitgevoer in ’n konsert wat ook die musiek van Edward Elgar en Ralph Vaughan Williams ingesluit het.