Die digter van die viool. So is daar al verwys na die Amerikaanse violis Joshua Bell wat teen die einde van Augustus die Kaap besoek en kort daarna ook Johannesburg.
Johan Myburg
Joshua Bell se bekoring strek wyd. Vir die ywerige ondersteuners van kunsmusiek het hy uitmuntende opnames met knap orkeste en dirigente gemaak, en eweso het hy fliekgangers geboei met die temamusiek uit Ladies in Lavender en John Corigliano se klankbaan vir The Red Violin.
Bell (48) het sy konsertdebuut op 14 gemaak saam met die Indianapolis-simfonieorkes onder leiding van Raymond Harvey in Tsjaikowski se Vioolkonsert, en in 1985, op 17, sy debuut in Carnegie Hall saam met die St. Louis-simfonieorkes onder leiding van Leonard Slatkin is Bruch se Vioolkonsert no. 1 in g.
Sy vioollesse het op vierjarige ouderdom begin toe sy ma besef het haar seun pluk ’n melodie uit rekkies wat hy gespan het oor die handvatsels van ’n laaikas. Dit was die begin van ’n loopbaan wat verskeie toekennings insluit en meer as 40 CD-opnames.
Luister hier na Bell wat oor sy R120 miljoen-viool praat
[iframe width=”350″ height=”197″ frameborder=”0″ src=”https://www.youtube.com/embed/qkKVAXlfPVQ” allowfullscreen=””]
Sedert 2011 is Bell musiekdirekteur van die Academy of St Martin in the Fields, die Londense orkes wat in 1958 begin is deur sir Neville Marriner. Dié orkes se eerste CD-opname saam met Bell, dié van Beethoven se Simfonie no. 4 en Simfonie no. 7, het onmiddellik die eerste plek op die Billboard-trefferslys vir klassieke musiek gehaal.
Luister hier na die tweede beweging uit Beethoven se Simfonie no. 7
In 2007 het ’n rubriekskrywer van The Washington Post met die idee vorendag gekom om Bell met ’n bofbalpet op as straatmusikant te laat viool speel in die moltreinstasie by L’Enfant Plaza in Washington. Die eksperiment is op video opgeneem. Van die 1 097 wat verbygeloop het, het net sewe stil gaan staan om te luister en net een het hom herken.
Van 27 verbygangers wat geld in sy viooltas geplaas het, het hy R381.31 verdien.
Kyk hier na ’n video-opname van dié eksperiment