Die digter van die viool. So is daar al verwys na die Amerikaanse violis Joshua Bell wat teen die einde van Augustus die Kaap besoek en kort daarna ook Johannesburg.
Johan Myburg
Joshua Bell se bekoring strek wyd. Vir die ywerige ondersteuners van kunsmusiek het hy uitmuntende opnames met knap orkeste en dirigente gemaak, en eweso het hy fliekgangers geboei met die temamusiek uit Ladies in Lavender en John Corigliano se klankbaan vir The Red Violin.
Bell (48) het sy konsertdebuut op 14 gemaak saam met die Indianapolis-simfonieorkes onder leiding van Raymond Harvey in Tsjaikowski se Vioolkonsert, en in 1985, op 17, sy debuut in Carnegie Hall saam met die St. Louis-simfonieorkes onder leiding van Leonard Slatkin is Bruch se Vioolkonsert no. 1 in g.
Sy vioollesse het op vierjarige ouderdom begin toe sy ma besef het haar seun pluk ’n melodie uit rekkies wat hy gespan het oor die handvatsels van ’n laaikas. Dit was die begin van ’n loopbaan wat verskeie toekennings insluit en meer as 40 CD-opnames.
Sedert 2011 is Bell musiekdirekteur van die Academy of St Martin in the Fields, die Londense orkes wat in 1958 begin is deur sir Neville Marriner. Dié orkes se eerste CD-opname saam met Bell, dié van Beethoven se Simfonie no. 4 en Simfonie no. 7, het onmiddellik die eerste plek op die Billboard-trefferslys vir klassieke musiek gehaal.
Luister hier na die tweede beweging uit Beethoven se Simfonie no. 7
[iframe width=”350″ height=”263″ frameborder=”0″ src=”https://www.youtube.com/embed/cwvILm0SqV0″ allowfullscreen=””]
In plaas daarvan van ’n podium te dirigeer (soos dit gebruiklik is) verkies Bell om as lid van die eerste viole die orkes uit sy stoel as konsertmeester te lei. Die simbiose wat tot stand kom blyk duidelik uit talle opnames.
Bell gee klas aan verskeie universiteite, onder meer as besoekende professor aan die Royal Academy of Music in Londen en ook as mede-professor aan die Massachusetts Institute of Technology.
Die Avery Fisher-prys, ’n prys wat by geleentheid slegs aan die voorste instrumentaliste gegee word, is in 2007 aan Bell toegeken.
Bell se Strad
Oor die instrumente waarop Bell speel is wyd geskryf. Een daarvan is ’n Stradivarius-viool wat in 1713 gemaak is, die sogenaamde “Gibson ex Huberman”. Dis bekend dat die Italiaanse Antonio Stradivari (1646-1737) in sy leeftyd 1 116 strykinstrumente gemaak het. Daarvan is vandag nog net 540 viole, 50 tjellos en 12 altviole oor. Stradivarius-viole word genoem na die vorige eienaars aan wie dié instrumente behoort het.
Hier is ’n video waarin Bell praat oor sy viool wat sowat R120 miljoen werd is.
‘The Washington Post’-eksperiment
In 2007 het ’n rubriekskrywer van The Washington Post met die idee vorendag gekom om Bell met ’n bofbalpet op as straatmusikant te laat viool speel in die moltreinstasie by L’Enfant Plaza in Washington. Die eksperiment is op video opgeneem. Van die 1 097 wat verbygeloop het, het net sewe stil gaan staan om te luister en net een het hom herken.
Van 27 verbygangers wat geld in sy viooltas geplaas het, het hy R381.31 verdien.
Bell op besoek
• Joshua Bell tree op 26 en 27 Augustus op in die Kaapstad-stadsaal in ’n uitvoering van Tsjaikowski se Vioolkonsert saam met die Kaapstadse Simfonieorkes. Die dirigent is Bernhard Gueller. Ook op die program is Beethoven se Leonore-ouverture en Mendelssohn se Simfonie no. 4 in A, die “Italiaanse simfonie”. Bespreek by Computicket.
• Op 2 en 3 September tree Bell op saam met die Johannesburg Philharmonic (JPO) in die Linder-ouditorium. Die program is nog nie bekend nie.
• Op 7 September is Bell in die Endlersaal in Stellenbosch vir ’n uitvoering saam met die US Camerata. Bespreek by Computicket.
‘Vier seisoene’
Joshua Bell, Vivaldi, The Four Seasons, Academy of St. Martin in the Fields. Sony Classical – 88697-11013-2.