JOHAN MYBURG
In die laat-18de eeu, die tyd toe instrumentale musiek begin sing het, het die klaviersonate, strykkwartet en simfonie deel geword van die standaard repertorium. In al hierdie musiekvorms het Joseph Haydn (1732-1809) uitgeblink. Benewens 104 simfonieë, 68 strykkwartette en 47 klaviersonates het hy ook nog talle ander werke waar onder 15 operas en 12 misse gekomponeer.
Haydn was die een komponis wat nie net sukses gesmaak het nie, maar wat boonop vereer is as die grootste komponis van sy tyd.
Nadat Haydn as koorknaap in St. Stephan-katedraal in Wene gesing het, waar hy benewens sangonderrig ook klavesimbel en viool leer speel het, het hy op 17 vir homself moes sorg as vryskut-musikus, -komponis en -onderwyser.
Teen 1757 is hy eindelik aangestel as Kapellmeister of musiekdirekteur in diens van graaf Morzin. Dis in dié tyd dat hy simfonieë begin skryf het vir die graaf se orkes.
In 1761 het Haydn in die diens getree van die Hongaarse prins, Paul Anton Esterházy, bekend as Nikolaus I, en tot sy dood op 77 ’n werknemer van dié familie gebly, waar hulle ook al vertoef het. Of dit nou Schloss Esterházy in Eisenstadt was of later in Eszterháza, ’n nuwe paleis in Hongarye wat gebou is as teenvoeter vir Versailles.
Die isolasie van Eszterháza het soms vir Haydn te veel geword en daarom het hy dikwels na Wene gegaan, waar hy onder andere Wolfgang Amadeus Mozart (1756-1791) om en by 1784 ontmoet het.
Teen 1790 was Haydn in die bisarre posisie: Hy was Europa se mees gevierde komponis hoewel hy as Kapellmeister verbonde (én gebonde) was aan ’n afgeleë paleis op die Hongaarse platteland. Maar toe prins Nikolaus in daardie jaar sterf, het sy opvolger die hofmusikante verminder en Haydn op pensioen gesit. Dié het hom onmiddellik in Wene gaan vestig en dieselfde jaar nog, in Desember, na Engeland vertrek.
Op pad na Londen het hy in Bonn die jong Ludwig van Beethoven ontmoet.
Op 1 Januarie 1791 het Haydn in Londen aangekom en daar gebly tot die volgende jaar. In 1794/5 het hy ’n tweede besoek aan die stad gebring.
In Londen het hy van sy bekendste werk gelewer, waar onder sy laaste 12 simfonieë, die sogenaamde Londen-simfonieë. Onder dié is die Simfonie no. 94 in G, die Verrassing-simfonie, en die Simfonie no. 100 in G, die Militêre-simfonie.
Luister na Haydn se Simfonie no. 94 in G, die Verrassing-simfonie, uitgevoer deur die Weense Filharmoniese Orkes onder leiding van Leonard Bernstein.
[iframe width=”350″ height=”250″ src=”https://www.youtube.com/embed/eVXalu0p1wo” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Dié simfonie het dié bynaam gekry as gevolg van die skielike fortissimo-akkoord in die andersins sagte tweede beweging. In Duits staan dié simfonie bekend as “mit dem Paukenschlag” (met ’n hou op die pouke).
Die legende is dat Haydn sy slapende gehore wou wakker skud.
As “vader van die simfonie” het Haydn aan dié genre ’n statuur gegee waarop latere komponiste voortgebou het. Die tipiese Haydn-simfonie het vier bewegings: ’n vinnige sonate-vorm-beweging; ’n stadige beweging; ’n minuet en trio; en ’n finale in sonate- of rondo-vorm.
Daar is mense wat meen selfs meer as “vader van die simfonie” verdien Haydn die benaming “vader van die strykkwartet”. Dié kwartette bestaan dikwels uit “gesprekke” tussen die vier instrumente, met die eerste viool die leidende party.
Anders as die simfonieë wat vir professionele musici geskryf is, is die kwartette gemik op amateur-spelers.
In sy laaste kwartette het hy reeds aanduiding gegee van ’n komende Romantiese harmonie met chromatiese progressie.
Sy laaste openbare optrede was in 1808 by die uitvoering van Die Schöpfung (Die skepping), ’n oratorium wat hy tussen 1797 en 1798 geskryf het, en wat ter viering van sy 76ste verjaardag in Wene aangebied is.
Kyk hier na “Die Himmel erzählen”, ’n gedeelte uit Haydn se Die Schöpfung. Die dirigent is die Nederlander Klaas Stok.
[iframe width=”350″ height=”250″ src=”https://www.youtube.com/embed/rkb54z8i4l0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Luister na Hamish Milne se vertolking van Haydn se Sonate in E-mol Hob. XVI:52. Die Hob.-nommer wat by Haydn se werke verskyn dui op die katalogisering deur Anthony van Hoboken van 750 van Haydn se werke.