Brahms was nie net die vernaamste Duitse komponis van sy tyd nie, maar het ook die weg berei vir 20ste-eeuse musiek
Toe Johannes Brahms 20 jaar oud was, was soveel as 60 persent van die musiek wat in konsertsale uitgevoer is, dié van komponiste wat reeds dood was. Dié onbenydenswaardige posisie het verder vererger en het gestyg na soveel as 75 persent toe hy 40 geword het.
Gehore het geheg geraak aan die “klassieke treffers” van Mozart, Beethoven, Schubert en dies meer en vir iemand soos Brahms was daar een van twee uitweë: Hy moes of heeltemal wegbreek en radikaal “anderse” musiek skryf, of hy moes musiek skryf wat soos die bestaande repertorium klink terwyl hy subtiel sy eie stempel en vernuwing vestig.
Brahms (1833-1897) het laasgenoemde uitweg gekies.
Aan sy eerste simfonie, in c, het Brahms langer as 14 jaar gewerk, juis omdat die spook van Beethoven so wyd geloop het. En toe hy dié simfonie eindelik in 1876 uitvoer, is dit meteen en spontaan gedoop: Beethoven se 10de.
Kyk ‘n mens nou, jare later, verder as die blote voortsetting van die Beethoven-tradisie as ‘n kriterium, blyk dit Brahms het in dié werk wel ‘n ander idee van wat die simfonie kan wees gepropageer. Dit is ‘n werk waarmee hy as’t ware die geskiedenis en tradisie stormgeloop het – en gewen het.
Brahms het versigtig gewerk gegaan en teruggeval op sy intieme kennis van sy voorgangers – sover as die musiek van die Barok en die Renaissance – en elemente uit dié musiek gekombineer met eietydse volksidiome en op dié manier ‘n eie stem ontwikkel. Dit is bekend dat Brahms om den brode populêre musiek in restaurante en tavernes gespeel het. Van Hongaarse sigeunermusiek tot kerkmusiek het hy met groot sukses in sy komposisies geïnkorporeer.
In dié en ander opsigte het Brahms nie net die vernaamste Duitse komponis van sy tyd geword nie, maar ook die weg berei vir 20ste-eeuse musiek.
In 1853 het Brahms kennis gemaak met drie musici wat sy vriende en tegelyk sy grootste ondersteuners geword het: die violis Joseph Joachim en Robert en Clara Schumann. Aan Joachim het hy sy Vioolkonsert in D, op. 77 opgedra en ná Schumann se dood het Brahms en Clara Schumann vriende gebly.
Brahms het homself onderhou as konsertpianis, dirigent sowel as uit die opbrengs van komposisies wat hy aan uitgewers verkoop het. Daarbenewens was hy redakteur met die oog op publisering van die musiek van CPE Bach, François Couperin, Schumann, Schubert en Chopin.
Brahms het musiek vir omtrent alle genres geskryf: simfonieë, kamermusiek, klaviermusiek, Lieder en koorwerke. Waaraan hy nie geraak het nie, is opera.
Na Brahms word dikwels, ten onregte, verwys as konserwatief en te akademies. Nietemin staan die vernuwing wat Brahms teweeggebring het uit soos ‘n paal bo water. Hy het aldeur met kombinasies vorendag gekom wat kragtige en verrassende benaderings ingesluit het en die Romantiese idioom uitgebrei het.
Sy bydra tot vernuf en vakmanskap is bewonder deur komponiste soos Arnold Schönberg en Edward Elgar. Die noukeurige aard van Brahms se werk was juis die inspirasie vir ‘n hele geslag komponiste.
Op 57 het Brahms aangedui sy dae van komponeer is verby. Hy het egter nie by dié besluit gehou nie en voor sy dood op 63 onder meer ‘n Klarinettrio, ‘n Klarinetkwintet en twee Sonates vir klarinet gekomponeer.
Terwyl hy aan’t skrywe was aan die Vier ernste Gesänge (Vier ernstige liedere) het hy kanker ontwikkel en op 3 April 1897 gesterf.
Oorweeg dié ‘treffers’ uit Brahms se pen
- Klavierkonsert no. 1 in d, op. 15. ‘n Konsert van epiese omvang. Die première was ‘n mislukking en kritici het dié werk uitmekaar getrek. Brahms se oogmerk was om die klavier en die orkes as gelykwaardige partye te hanteer
- Die Duitse Requiem, op 45. Brahms se grootste werk en die een wat sy reputasie as komponis reg deur Europa bevestig het
- Simfonie no. 1, op. 68. Die simfonie waarmee Brahms dié roemryke genre (veral ná Beethoven) betree het.
- Vioolkonsert in d, op 77. ‘n Konsert, opgedra aan sy vriend Joseph Joachim, met ‘n besonder komplekse deel vir die solis. Die derde beweging het ‘n energieke Hongaarse finale.
- Akademiese Feesouverture, op. 80. Brahms se “dankie” vir die eredoktorsgraad wat die Breslau-universiteit aan hom toegeken het.
Brahms se Akademiese Feesouverture, op. 80 met Leonard Bernstein as dirigent.
‘n Voorbeeld van Brahms se liedkuns: Bernarda Fink (mezzosopraan) en Roger Vignoles (klavier) met “Bei dir sind meine Gedanken”.
Hélène Grimaud as solis in Brahms se Klavierkonsert no. 1 in d, op. 15 saam met die Suidwes-Duitse Radio-simfonieorkes. Die dirigent is Michael Gielen.