’n Mens kry in die kunsmusiektradisie kwalik nóg musiek so gepas vir die Kersgety as die Kersfees-oratorium wat Johann Sebastian Bach op 50 in 1734 geskryf het.
JOHAN MYBURG
’n Mens kry in die kunsmusiektradisie kwalik nóg musiek so gepas vir die Kersgety as die Kersfees-oratorium wat Johann Sebastian Bach op 50 in 1734 geskryf het. Die eerste uitvoering van dié werk was in Leipzig tydens die Kersgety van daardie jaar.
Van 1723 tot en met sy dood in 1750 was Bach in Leipzig verantwoordelik vir die musiek in die stad se vyf groot kerke.
Bach se Kersfees-oratorium is ’n gehoorgunsteling waarin die verhaal van die geboorte van Christus vertel word aan die hand van dele uit die Evangelies met arias en korale wat die verhaal illustreer. Dié oratorium bevat terselfdertyd van Bach se vindingrykste orkestrasie.
Anders as die oratoriums vir die Pase en vir Hemelvaart is dié oratorium nie ’n enkele komposisie nie, maar eerder ses kantates vir ses feesgeleenthede tydens die Kersgety.
Op YouTube kan jy by hier luister na die volledige oratorium uitgevoer deur Philippe Herreweghe met die koor en orkes van die Gentse Collegium Vocale. Die soliste is Barbara Schlick (sopraan), Michael Chance (alt), Howard Crook (tenoor) en Peter Kooy (bas).
Die eerste deel, met Kersdag in gedagte, handel oor die geboorte van Christus; die tweede, geskryf vir 26 Desember fokus op die aankondiging van die geboorte aan die herders en die derde deel, geskryf vir 27 Desember, fokus op die hulde wat die herders aan die pasgebore Jesus bring.
Die vierde deel, geskryf vir Nuwejaarsdag, handel oor die besnydenis en naamgewing van Christus; die vyfde deel, geskryf vir die eerste Sondag van die nuwe jaar, handel oor die besoek van die wyse manne en die slotdeel, geskryf vir Epifanie, gaan oor die hulde wat die wyse manne bring.
As dié Weinachts-Oratorium, BWV 248, in geheel uitgevoer word, duur die uitvoering sowat drie uur.
Soos in die Matteus- en Johannes-Passie dien die tenoor as verteller wat die Bybelse verhaal oordra. Om onderskeid te maak tussen narratief en kommentaar word al die evangelise resitatiewe (die Bybelteks) secco (droog) weergegee, met ander woorde met enkele akkoorde deur die tjello of orrel. Die ander resitatiewe het begeleiding deur die strykers.
Hoewel die librettoskrywer onbekend is, vermoed kenners dit was die Duitse digter Christian Friedrich Henrici wat onder die skuilnaam Picander die tekste bewerk het.
Heelwat van die musiek in die Kersfees-oratorium is sogenaamde parodieë, musiek wat Bach oorgeneem het uit van sy bestaande (sekulêre kantates).
Uit die Matteus-Passie haal Bach byvoorbeeld die melodie aan van die lied wat daar bekend is as “O Haupt voll Blut und Wunden” – in die eerste deel as “Wie soll ich dich empfangen” en ook in die triomfantelike slotkoraal as “Nun seid ihr wohl gerochen”.
Luister hier na “Wie soll ich dich empfangen”:
[iframe width=”350″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/1cf4P5xuEus” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Telkens voorsien van nuwe teks bly die melodie in dié korale egter dieselfde – dié van Hans Leo Hassler (1564-1612) wat eens ’n liefdeslied was met die woorde “Mein G’mut ist mir verwirret”.
Oorweeg dié opnames
Volgens die gesaghebbende tydskrif Gramophone is die beste opname van Bach se Weinachts-Oratorium, BWV 248, dié van Nikolaus Harnoncourt saam met die Weense Arnold Schönberg-koor en Concentus Musicus Wien. Die soliste is Christine Schäfer, Bernarda Fink, Werner Güra, Gerald Finley en Christian Gerharer. Die stel met 2 CD’s is opgeneem in 2007.
Benewens dié opname is die een op Naxos (3 CD’s) ook beskikbaar. Die Hongaarse radiokoor en Failoni-kamerorkes staan onder leiding van Géza Oberfrank. Die soliste is Ingrid Kertesi (sopraan), Judith Nemeth (alt), Jozsef Mukk (tenoor) en Janos Tóth (bas).