Hoewel Rossini heelwat instrumentale musiek asook kantates en gewyde musiek geskryf het, is dit sy operas waarvoor hy onthou word
Johan Myburg
Gioachino Rossini (1792-1868) was net 18 toe hy opdrag gekry het vir sy eerste opera, La cambiale di matrimonio, ? komiese eenbedryf wat sy première in Venesië gehad het. Tussen 1810 en 1813 het hy ‘n hele klompie operas op die planke gehad in Bologna, Rome, Venesië en Milaan – party meer suksesvol as ander. Sy deurbraak het egter in 1813 gekom met Tancredi en L’Italiana in Algeri waarmee hy oornag die liefling van Italië geword het, maar ook in die buiteland roem verwerf het.
Toe ‘n nuwe direkteur vir Napels se vooraanstaande Teatro San Carlo gevind moes word, was Rossini die geskikte man vir dié pos.
Sy bekendste opera, Il barbiere di Siviglia, is in 1816 in Rome se Teatro Argentina aangebied. Dié opera, sy 17de, het selfs die aandag van Beethoven getrek waaroor dié by ‘n latere ontmoeting opgemerk het: “So jy is Rossini, die komponis van Il barbiere di Sivigla. Ek moet jou gelukwens. Dit sal gespeel word solank Italiaanse opera bestaan.”
Die eenvoudige verhaal van dié opera buffa in die bel canto-tradisie het die dorpsbarbier in die hoofrol wat ‘n graaf, vermom as die arm soldaat Lindoro, moet help op die hand te wen van die beeldskone Rosina. Sy word bewaak deur haar voog, dr. Bartolo, wat self van plan is om met haar te trou om op dié manier sy hande op haar erfgeld te lê. Met dié gegewe is geheime boodskappe, dronkgevegte en verwarrings oor identiteit nie vergesog nie.
Ná dié sukses het Rossini tot en met 1823 soveel as 20 operas geskryf met Otello as sy suksesvolste ernstige opera.
In 1822 is Rossini met Isabella Colbran, ‘n Spaanse sangeres wat hy in Napels ontmoet het, getroud. Ná die première van Semiramide in 1823 is hulle na Londen en het hulle daarna in Parys gevestig.
Op 32-jarige leeftyd is Rossini aangestel as die musiekregisseur van die Théâtre Italien in Parys, ‘n pos wat hy tot 1826 beklee het. In dié tyd het hy opdragwerk van verskeie operahuise gekry en ook van die toonaangewende Paris Opéra.
En toe het Rossini sy laaste twee operas, Le comte Ory, ‘n komiese opera in twee bedrywe, en Guillaume Tell, ‘n opera in vier bedrywe, is onderskeidelik in 1828 en 1829 in die Salle le Peletier van die Paris Opéra aangebied.
Laasgenoemde met ‘n libretto geskoei op ‘n verhoogstuk van Friedrich Schiller.
Waarom hy so vroeg, op 39, dié bedryf van operakomposisie verlaat het, weet nugter. Daar is mense wat meen dit was die dood van sy ma. Ander meen dit was sy gesondheid. En daar is dié wat meen hy was gewoon te ryk en te lui. Hoe ook al. In die laaste 40 jaar van sy lewe het hy hom toegelê op gewyde musiek – soos sy Petite messe solennelle van 1864 en die hersiene weergawe van 1867.
Colbran is in 1845 dood. Die huwelik was nie sonder meer gelukkig nie en kort daarna is Rossini getroud met Olympe Pelissier.
In 1848 is Rossini na Bologna om daar te woon en daarna na Florence. Hy is in 1868 dood in Parys en begrawe in Père Lachaise. In 1887 is die Inhoud van sy graf geskuif na Florence.
Kyk hier na ‘n aanbieding van Il barbiere di Siviglia in Teatro alla Scala (1999) met Juan Diego Florez (Almaviva), Sonia Ganassi (Rosina), Alfonso Antoniozzi (Bartolo), Roberto Frontali (Figaro), Giorgio Surjan (Basilio) en Tiziana Tramonti (Berta). Die dirigent Riccardo Chailly.
Oorweeg hierdie opname (in Frans) van Guillaume Tell. Die dirigent voor die koor en orkes van die Accademia Nazionale di Santa Cecilia is Antonio Pappano. Die soliste is Malin Byström, Marie-Nicole Lemieux; Gerald Finle en John Osborn. EMI 50999 0 28826 2 (3)