“Meyerbeer het onsterflikheid bereik,” het Frédéric Chopin in 1831 opgemerk
Johan Myburg
Roem (of vergetelheid) is gekoppel aan meer as talent, vernuf en harde werk. Neem as voorbeeld die verhaal van die Duitse komponis Giacomo Meyerbeer (1791-1864). In sy leeftyd het hy die reputasie gehad as die suksesvolste komponis van grand opera. In die 20ste eeu is sy musiek kwalik gehoor en vandag word sy operas selde opgevoer.
In 1841 het Richard Wagner opgemerk: “Parys se Opéra is sterwend. Alle oë is op die Duitse messias, Meyerbeer, om tot die redding te kom.” Maar dit was die einste Wagner wat later, veral ná Meyerbeer se dood, ? veldtog gevoer het om sy musiek te diskrediteer. Grootliks omdat Meyerbeer van Joodse afkoms was.
Meyerbeer (1791-1864) is gebore as Jacob Liebmann Beer in Tasdorf naby Berlyn, destyds die hoofstad van Pruise, die seun van ? welvarende sakeman. In 1811 het hy sy van verander na Meyerbeer en in 1817, tydens studie in Italië, sy voornaam na Giacomo.
Sy oogmerk met dié besoek was om hom eerstehands te vergewis van die Italiaanse kultuur en opera. Aan ? vriend het hy geskryf: “Ek besoek museum na museum, teater na teater, met die toewyding van ? Wandelende Jood.”
Dis in Italië waar hy kennis gemaak het met Gioachino Rossini wat die vorige jaar, in 1816, sy operas Il barbiere di Siviglia en Otello in Napels op die planke gehad het.
Ná ? aantal operas met die model van Rossini in gedagte is Meyerbeer se opera Il crociato in Egitto in 1824 in Venesië opgevoer en die volgende jaar in Londen en Parys. Dié opera was terloops die laaste opera geskryf met ? castrato-rol. Il crociato in Egitto het Meyerbeer in die kalklig geplaas, maar dit was met sy Robert le diable van 1831 waarmee hy eers Parys en daarna die wêreld aan sy voete gekry het.
Oor dié opera, vry vertaal as Robert die duiwel, het Frédéric Chopin, wat op openingsaand in die gehoor was, gesê: “Dit is ? meesterstuk. Meyerbeer het hiermee onsterflikheid bereik.” Franz Liszt het verskeie werke vir klavier, geskoei op Robert le diable geskryf – onder meer die Réminiscences de Robert le diable met Valse infernale as subtitel.
Ná Robert het onder meer die ewe suksesvolle Les Huguenots (1836), Le prophète (1849) en die jaar ná sy dood L’Africaine (1865) gevolg.
Lof was daar wel vir sy operas. Maar eweso kritiek – en nie juis kritiek op ? musikale vlak nie. Mendelssohn het gemeen die onderwerp van Robert le diable was nie edel genoeg nie en Schumann het te velde getrek teen Les Huguenots omdat “? ware Christen-sentiment” sou ontbreek. Maar dit was Wagner wat aanvanklik so vol lof was wat in 1850 ? artikel, “Das Judenthum in der Musik” (Joodsheid in musiek), Meyerbeer en Mendelssohn by name aangeval het. Die artikel staan steeds bekend as ? baken in Duitse anti-Semitisme.
Hoewel Wagner heelwat aan Meyerbeer te danke het en Meyerbeer ? leeue-aandeel gehad het aan die voorbereidingswerk vir die Gesamtkunstwerk waarvoor Wagner later bekend was, was Wagner venynig in die uitwissing van Meyerbeer se nalatenskap. Op die puin van Meyerbeer se werk het Wagner sy sukses gebou.
Later is Meyerbeer se operas onderdruk deur die Nazi-regime en mettertyd het van Meyerbeer ses “onsterflikheid” niks oorgebly nie. Die enigste opera wat nog opgevoer word, is Les Huguenots.
Wat jy as kunstenaar vermag bied nie altyd die deurslag nie. Dis meer dikwels wie jou werk steun of dit verdoem.
[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/r_SMGDKObWM” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Kyk na Joan Sutherland se vertolking van “O Beau pays de la Touraine” uit Meyerbeer se Les Huguenots. In dié konsertweergawe, opgeneem in 1982, is Richard Bonynge voor die klavier. Die rol van Marguerite de Valois is een van die heldinnerolle in bel canto wat Sutherland haar eie gemaak het. Haar eerste verskyning in dié rol was in 1962 vertolk in La Scala in Milaan.
Luister na die bekende Kroningsmars uit Meyerbeer se Le prophète.