Wat Chopin met ? enkele klavier vermag het, is en bly uitsonderlik
Johan Myburg
Die klavier is die een instrument wat die virtuose komponiste van die Romantiek Franz Liszt en Frédéric Chopin gemeen het. Boonop is hulle ? jaar uit mekaar gebore. Maar dis dalk waar die ooreenkoms eindig.
Liszt was die rock-ster van sy dag met veral vroue swymelend in die voorste rye van konsertsale terwyl Chopin in sy leeftyd kwalik meer as 30 openbare uitvoerings gegee het. Maar dan was die flambojante Liszt ‘n bewonderaar van Chopin. Met Chopin se debuut in Parys in 1832 – Chopin was 22 en Liszt 21 – was Liszt daar en het hy opgemerk: “Die luidste applous sal nie genoeg wees vir hierdie talentvolle musikant nie; een wat ‘n nuwe fase van poëtiese gevoel ingelui het en dit so innoverend met sy kunsvorm verenig het.”
Fryderyk Chopin (1810-1849) is in Pole gebore en is van kleins af as ‘n “wonderkind” beskou. Op sewe was hy bedrewe genoeg om ‘n openbare konsert te gee en op 17 het hy twee polonaises gekomponeer. Hy het aan die Warschau Lyceum studeer en op 20 die Klavierkonsert no. 1 in e sowel as die Klavierkonsert no. 2 in f gekomponeer.
In dieselfde jaar, 1830, is hy na Wene en toe die revolusie in Pole uitbreek, het hy sy reis voortgesit na Parys en hom in 1831 daar gevestig en nooit weer na Pole teruggekeer nie. Hy het in 1835 Franse burgerskap aanvaar en die Franse weergawe van sy naam aangeneem.
In Parys het Liszt en Chopin tussen 1833 en 1841 verskeie keer saam opgetree – die laaste keer was op 25 en 26 April in die Salle Pleyel en die Paris Conservatoire tydens ‘n geldinsamelingsgeleentheid vir die Beethoven-monument in Bonn. Dié is in 1845 onthul.
In 1836 het Chopin die Franse skrywer George Sand (gebore Amantine-Lucile-Aurore Dupin) (1804-1876) ontmoet en sy onmiddellike reaksie was: “Wat ‘n onaantreklike mens is la Sand nie. Is sy werklik ‘n vrou’n” Twee jaar later het hulle ‘n verhouding begin en die opvatting is dat sy meteen vir hom ‘n intellektuele gesel, minnaar en moeder was.
Sedert sy kinderdae was Chopin se gesondheid nooit wonderlik nie en in 1839 was hy dodelik siek. Chopin, Sand en haar twee kinders het die winter (November 1838 tot Februarie 1839) op Majorka deurgebring in die hoop dat sy gesondheid sou verbeter. Die eilandverblyf was ook ‘n manier om weg te kom van een van Sand se vorige minnaars, Félicien Mallefille.
Toe die godvresende Majorkane besef Sand en Chopin is nie getroud nie, het die twee en die kinders met moeite losies gekry in ‘n klooster – wat nie besonder warm was nie.
In die klooster in Valldemossa het hy nietemin die Preludes, op. 28 geskryf en hy het begin werk aan die Ballade op. 38, no. 2, twee Polonaises, op. 40 en die Scherzo op. 39, no. 3.
Oorlewering het dit dat die Prelude in D-mol, op 28, no. 15, die sogenaamde “Reëndruppel-prelude”, die aanhoudende reën in ‘n geut verbeeld. Die Prelude is gemerk “sostenuto” (teruggehoue) en dis die ruim gebruik van pedaal wat die tempo vertraag.
Chopin is in 1849 op 39 dood aan tuberkulose. Sy werke vir klavier en orkes kan op een hand getel word en om dié rede word hy dikwels oor die hoof gesien as “groot komponis”. Wat Chopin nietemin met ‘n enkele klavier vermag het, is en bly uitsonderlik.
Luister na ‘n uitvoering deur Yundi van Chopin se Prelude in D-mol, op 28, no. 15.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/tmXjrkdQatw” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Luister na ‘n opname met Murray Perahia voor die klavier van Chopin se Etude in a, op. 25, no. 11 (“Winterwind”).
[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/RWgpvYdh4Y4″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Kyk en luister na Chopin se Klavierkonsert no. 1 in e, op. 11. Die pianis is Martha Argerich en die dirigent voor die Sinfonia Varsovia is Jacek Kaspszyk. Dié opname is in 2010 in Warschau gemaak.