As deel van sy tiende internasionale somerfees speel die Kaapstadse Filharmoniese Orkes op 24 en 25 Februarie onder leiding van die Amerikaanse dirigent Victor Yampolsky al vyf klavierkonserte van Ludwig van Beethoven. Die Kaapse pianis François du Toit is die solis.
Dit gebeur nie dikwels dat gehore die geleentheid kry om dié konserte, geskryf tussen 1796 en 1811, in die bestek van twee aande te hoor nie.
Op 24 Februarie word die Klavierkonsert no. 1 in C, op 15; die Klavierkonsert no. 2 in B-mol, op. 19 en die Klavierkonsert no. 4 in G, op. 58 uitgevoer.
Die volgende aand, op 25 Februarie, kom die Klavierkonsert no. 3 in c, op. 37 en die Klavierkonsert no. 5 in E-mol, op. 73 (die sogenaamde “Keiserkonsert”) aan die beurt. Dié konsert word ingelei deur die Prometheus-ouverture, ook van Beethoven.
Oor dié marathon-uitvoering sê Du Toit: “Dit is inderdaad moordend en ek het dit nog nooit voorheen aangepak nie, maar wat is die lewe sonder uitdagings?
“Om die konsertprogram nie uitermatig lank te laat duur nie, is daar besluit om op die eerste aand slegs die drie klavierkonserte uit te voer, sonder ? ouverture. Die tweede aand sluit ? ouverture in gevolg deur die ander twee klavierkonserte.”
Du Toit word gereken as een van Suid-Afrika se voorste konsertpianiste. Op 15 het hy reeds voor die konsertvleuel ingeskuif en as student aan die Universiteit van Kaapstad (UK) is hy en Steven de Groote in 1988 gekies om as soliste saam met die Kaapstad-simfonieorkes ? konsertreis na Taiwan te onderneem.
Sy repertorium sluit werk in wat strek van Johann Sebastian Bach tot Hendrik Hofmeyr en in sy loopbaan het hy meermale opgetree saam met dirigente soos Bernhard Gueller, Omri Hadari, Alun Francis, Dawid de Villiers, Piero Gambo, Arjan Tien, Alexander Lazarev asook Yampolsky. Du Toit het in 1985, toe nog as student, die eerste keer saam met Yampolsky opgetree.
Benewens konsertoptredes saam met die Kaapstadse Filharmonie, die Johannesburg Philharmonic en die KwaZulu-Natalse Filharmoniese orkes is Du Toit ook bekend as lid van die UK-klaviertrio. Die ander twee lede van dié trio is Farida Bacharova (viool) en Anmari van der Westhuizen (tjello).
Saam met pianis Franklin Larey tree hy dikwels op as die Ixopo-klavierduo.
As begeleier het hy onder andere al opgetree saam met die Oostenrykse violis Wolfgang David, die Russies-Amerikaanse violis Philippe Quint, die Duitse violis Antje Weithaus en die Russiese violis Ilya Gringolts.
Du Toit is medeprofessor in klavier aan die UK.
Sy eerste solo-CD is in 2006 uitgereik: met werke van Bach-Busoni, Haydn, Mendelssohn en Chopin.
In 2010 het die Stellenbosse platemaatskappy Two Pianists ? CD uitgegee van ? konsertuitvoering wat in 1992 in die Kaapstad Stadsaal opgeneem is. Die dirigent voor die Kaapstad Simfonieorkes was Omri Hadari. Du Toit speel daarop die Klavierkonsert no. 1 in b-mol, op 23 (Tsjaikowski) en die Rapsodie op ? tema van Paganini op 43 (Rachaninoff) (TP1039060).
Kaapstadse Filharmoniese Orkes
Die KFO het in 1914 tot stand gekom as die Kaapstad Munisipale Orkes. Ter viering van die orkes se 100ste bestaansjaar het die boek A Century of Symphony met Louis Heyneman en Shirley de Kock Gueller as skrywers verlede jaar verskyn.
Benewens historiese foto’s bevat die boek ook herinneringe, anekdotes en verhale van spelers, dirigente en gehoorlede van dié orkes. A Century of Symphony is uitgegee deur Johnathan Ball.
Is dit nie moordend om al vyf konserte in twee aande te speel nie?
Dit is inderdaad moordend en ek het dit nog nooit voorheen aangepak nie, maar wat is die lewe sonder uitdagings? Om die konsertprogram nie uitermatig lank te laat duur nie, is daar besluit om op die eerste aand slegs die drie klavierkonserte uit te voer, sonder ? ouverture. Die tweede aand bestaan uit ? ouverture gevolg deur die ander twee klavierkonserte.
Hoe berei jy vir so ? marathon voor?
Natuurlik is dit belangrik om redelik fiks te wees en dit bereik ek deur my liefde vir swem. Dan word daar ook baie geoefen op die klavier en ? paar oefenlopies (play throughs) met een van my kollegas wat die orkesgedeelte speel op my tweede klavier. Die geheue is altyd maar ? probleem op my gevorderde ouderdom, maar daarvoor drink ek visolie dat die bieses bewe!
Waarom is op Beethoven besluit? Wat daarvan is vir jou die uitdagendste?
Beethoven is nog altyd een van my gunsteling-komponiste en om al die Mozart-konserte te speel, sou twee weke geneem het! Dit is nog altyd vir my baie lekker om nuwe klavierkonserte aan te leer en hoewel die vierde klavierkonsert nogal uitdagend is, geniet ek die voorbereiding en voel ek bevoorreg om dit te kan speel saam met die Kaapstad Filharmoniese Orkes.
Waarom is No’s. 1, 2 en 4 gekies vir die eerste aand en No’s. 3 en 5 vir die tweede aand? Enige spesifieke rede anders as tydsduur?
Die tydsduur is natuurlik ? groot invloed op die keuse, maar ook die stilistiese komponent van die verskillende klavierkonserte het die keuse beïnvloed. Die gehoor verwag natuurlik 1, 2, 3 en dan 4 en 5, maar soms hou ons daarvan om hulle te verras.
Het julle die No. 0 oorweeg vir die program?
Klavierkonsert No. 0 is nie oorweeg nie aangesien die orkesparte nog nooit opgespoor is nie en daar bestaan net sketse daarvan. Dit is ook ? ongelooflike jong werk wat Beethoven geskryf het toe hy 14 jaar oud was. Hoewel dit baie interessant is dra dit nie dieselfde gewig as die ander vyf konserte nie.
Jy ken Victor Yampolsky jare lank as dirigent. Hoe is die rapport tussen julle?
Ek het die eerste keer met Victor gespeel toe ek nog ? student was, dit was Liszt se e-mol-klavierkonsert, en dit was in 1985. Ons loop al 30 jaar saam en ek geniet elke oomblik om met hom saam te werk. Ek hoop natuurlik hy voel ook so.
Hoe is jou verhouding met die Kaapstad Filharmoniese Orkes?
Die Kaapstad Filharmoniese Orkes is soos ? familie vir my aangesien dit die eerste orkes (die ou CTSO) was met wie ek gespeel het in 1983. Ek ken baie van die lede op ? persoonlike vlak en het baie respek vir wat die musikante al uitgerig het oor die afgelope 100 jaar. Natuurlik bly die stadsaal vir my een van my mees geliefkoosde konsertsale om in op te tree.
Met die insinking in Johannesburg van die JPO is ? mens jaloers op Kaapstad en Durban. Waarom dink jy gedy klassieke musiek in die Kaap en in KZN?
Ons is baie bevoorreg om steeds ? baie goeie gehoor in die Kaap te hê wat die kunste ondersteun Daar is ook in die Kaap ? baie sterk borgskapetiek aangesien Kapenaars baie trots is op hulle orkes. Siende dat Bongani Tembi (uitvoerende hoof van KZNPO) so groot sukses gemaak het in Durban en hy nou sopas aangestel is om die ou JPO te herskep, het ek baie hoop vir klassieke musiek en ? uitstekende orkes in Johannesburg. Dit sou inderdaad ? tragedie wees as ? stad soos Johannesburg nie sy eie orkes het nie.
Hoe is jou planne vir dié jaar? Kom jy in Gauteng of die omgewing speel?
Tot dusver is daar nie planne om in Gauteng te kom speel nie, maar dinge verander sommer vinnig. Ek is op langverlof vir die eerste helfte van 2016 en beplan om my DMus klaar te maak. Dit neem baie van my tyd in beslag.