Tussen 1829 en 1845 het Felix Mendelssohn (1809-1847), een van die vernaamste komponiste van die Romantiek, ‘n reeks kort, liriese werke vir die klavier gekomponeer. Dié reeks is in agt volumes gepubliseer as Lieder ohne Worte (Liedere sonder woorde) en is waarskynklik Mendelssohn se bekendste werk vir klavier.
JOHAN MYBURG
Met die klavier wat in die 19de eeu besonder gewild geraak het as instrument in talle middelklas-huishoudings, was dié stukke manna uit die hemel. Die populariteit van dié stukke het voortgespruit uit die feit dat dit binne die bereik was van pianiste van uiteenlopende vaardighede. Dit is musiek met heelwat minder uitdagings as byvoorbeeld ‘n Chopin-etude.
Mendelssohn se uitgangspunt was dat musiek vir sigself moet spreek. Die musikale en emosionele kwaliteite, het hy gelgo, is deel van die musiek. Daarom het hy nagelaat om aanduidings te gee hoe sy musiek uitgevoer moet word.
Boonop het hy gereken woorde sowel as titels is oorbodig vir dié 48 liedere. Die musiek is voldoende, het hy volgehou. Daarmee het Mendelssohn uiting gegee aan die Romantiese ideaal dat musiek gevoelens kan uitdruk wat woorde nie kan nie.
“Mense kla dikwels dat dit onduidelik is wat hulle moet dink as hulle musiek hoor, terwyl woorde deur almal verstaan kan word,” het hy in 1842 in ‘n brief aan ‘n vriend geskryf. “Maar vir my is dit presies die teenoorgestelde. Wat die musiek waarvan ek hou vir my uitdruk, is gedagtes nie te onomlynd vir woorde nie, maar juis te omlynd vir woorde.”
As die komponiste van die vroeë Romantiek die oogmerk gehad het om musiek te gebruik om subjektiewe ervarings mee te verklank, dan kan daar kwalik ‘n meer beskrywende titel gevind word om die eerste helfte van die 19de-eeuse Romantiek mee te beskryf as Mendelssohn se Liedere sonder woorde.
Jakob Ludwig Felix Mendelssohn Bartholdy is in Hamburg, Duitsland, gebore. Sy ouer suster, Fanny, was eweneens pianis en komponis van Das Jahr, ‘n reeks karakterbeeldings van die 12 maande van die jaar. Nietemin staan sy steeds, ten onregte, bekend as Mendelssohn se suster.
Mendelssohn se oupa was Moses Mendelsohn, die Joodse wysgeer ten tyde van die Verligting in Duitsland. Hoewel Jode sedert die Franse Revolusie stadig aan wetlik meer regte bekom het, het Mendelssohn se pa, Abraham, die kinders klein laat doop en self ook die Christelike geloof aangeneem. Van 1812 af het die Mendelssohn-gesin bekend gestaan as Mendelssohn Bartholdy.
Op 11 het Mendelssohn begin komponeer; op 16 het hy met die Oktet vir strykers, op. 20, vorendag gekom en die volgende jaar die ouverture vir die Midsomernagdroom na Shakespeare se gelyknamige drama.
Benewens vyf simfonieë – waarvan die bekendstes is die No. 3 (Skotse simfonie), die No. 4 (Italiaanse simfonie) en die No. 5 (Reformasie-simfonie), met die laaste beweging geskoei op Marten Luther se koraal “Ein feste Burg ist unser Gott” – het Mendelssohn heelwat kamermusiek geskryf asook twee oratoriums: St. Paul in 1836 en Elijah in 1846. Twee werke albei met ‘n sterk skeut Bach.
In sy laaste jare het Mendelssohn met sy gesondheid gesukkel. Sy suster is in Mei 1847 dood aan beroerte en ses maande later het Mendelssohn op 38 gesterf ná ‘n reeks beroerte-aanvalle.
Luister hier na Daniel Barenboim se vertolking van Mendelssohn se Lieder ohne Worte vir Deutsche Grammophon.
Luister hier na Mendelssohn se Simfonie no. 5 in D/d, op. 107, ook bekend as die Reformasie-simfonie. Die dirigent voor die Nederlandse Kamerorkes is Ton Koopman.