Emma Renzi, die Suid-Afrikaanse sopraan het Italiaanse gehore aan haar voete gehad
Johan Myburg
Op 8 April het die sopraan Emma Renzi 90 geword. Haar verhoogloopbaan het verskeie hoogtepunte en eerstes ingesluit. Soos haar debuut in ? hoofrol in Milaan se La Scala op 1 Januarie 1967.
Boonop was sy die eerste Suid-Afrikaanse sanger wat dié verhoog betree het toe sy in dié opvoering van Verdi se Nabucco die rol van Abigaile gesing het. Daarna het sy aanbiedings van verskeie teaters gekry en dié rol die volgende twee jaar vir vyf operageselskappe gesing. Die deure van operahuise oral ter wêreld, in Europa sowel as Suid- en Noord-Amerika, het vir haar oopgegaan.
Renzi was 41 en haar loopbaan in Italië was goed op dreef. Nietemin het sy gereeld in Suid-Afrika kom optree waar sy in 1926 gebore is as Emmerentia Scheepers. In 1966 was sy juis besig om die rol van Abigaile te sing in Truk se voorstelling van Nabucco toe sy die kontrak as plaasvervanger vir dié rol in La Scala gekry het. Sy is terug en tydens die gebruiklike Nuwejaarsdag-middagaanbieding het sy haar buiging gemaak, met groot sukses.
In 1947, nadat sy haar musiekgraad aan die Universiteit van Kaapstad se musiekskool behaal het, het Emmerentia Scheepers besluit om haar studie in Londen aan die National Opera School te gaan voortsit. Daarna het sy saam met die Carl Rosa-operageselskap opgetree, steeds sangopleiding ontvang en in 1954 begin sing vir die English Opera Group wat Benjamin Britten in 1947 begin het.
In 1956 het sy die eerste Suid-Afrikaner geword wat op die Edinburg-fees in Skotland opgetree het.
Omdat die Italiaanse benadering tot sang haar stem optimaal gepas het, het sy haar in 1958, na ‘n konserttoer in Suid-Afrika, in Sisilië gaan vestig waar sy spesifiek stemleiding gekry het om die dramatiese eienskappe van haar stem te ontwikkel. Dis ook waar die naam Emma Renzi – makliker op die Italiaanse tong – beslag gekry het.
Toe sy in 1961 ‘n uitnodiging kry om die rol van Sieglinde in Wagner se Walküre in Karlsruhe te gaan sing, het sy na Duitsland verhuis. Ander rolle wat sy in dié tyd vertolk het, is dié van gravin Rosina Almaviva in Le nozze di Figaro van Mozart en dié van Amelia in Verdi se Un ballo in maschera. Dit is die einste rol wat Renzi in Johannesburg vertolk het tydens die opening van die Stadshouburg in 1962.
Presies 50 jaar ná die première van Puccini se Turandot in La Scala het Renzi in 1976 tydens die goue jubileum-gala ingestaan vir die Spaanse sopraan Monsarrat Caballe wat die rol sou sing. Renzi is vooraf gewaarsku om reg te wees en het in haar kleedkamer gewag. Turandot verskyn eers in die tweede bedryf op die verhoog en toe Caballe teen pouse nog nie haar daar was nie, het Zubin Metha, die dirigent, die ongeduldige Scala-gehoor (die pouse het 45 minute geduur) meegedeel dat Caballe nie die rol gaan vertolk nie. Die gehoor was só oproerig dat hy nie eers die naam van die plaasvervanger kon aankondig nie.
In dié omstandighede het die 50-jarige Renzi haar Turandot teenoor Gianfranco Cecchele as Kalaf gesing – nog ‘n klinkende sukses vir Renzi met haar ferm, sterk en sekure vertolking van dié rol.
In 1979 het sy haar Italiaanse loopbaan beëindig in die hoofrol in Boito se Mefistofele en teruggekeer na Suid-Afrika. Sy het kort daarna in Suid-Afrika begin klasgee – wat sy steeds, tot ‘n mindere mate, doen.
Emma Renzi tydens die viering van haar 90ste verjaardag in Johannesburg. Foto Linette van der Merwe
‘n Regstreekse opname van Emma Renzi en Gianfranco Cecchele se vertolking van “In questa reggia” uit die 1976-weergawe van La Scala se Turandot. Die dirigent was Zubin Metha.
Na die einde van dié opname kan ‘n mens duidelik hoor hoe Cecchele, nadat die gehoor gemor het omdat hy nié die (tradisionele) opsionele hoë C gesing het nie, skree: È scritto da Puccini (Dis soos Puccini dit geskryf het). Metha kom tot sy redding en dié skree op sy beurt: È molto coraggioso sempre urlare nel buio qui (Dis altyd baie dapper om hier in die donker te skree).
‘n Paar oomblikke later hoor ‘n mens Metha skree Basta! (Genoeg!) en ná ‘n luide hou op ‘n pouk bedaar die gehoor wel.
Die hoë C is nie gesing nie omdat die oogmerk met dié gala-uitvoering was om so na as moontlik aan die oorspronklike Scala-première te bly.
Renzi het verskeie toekennings en eerbetonings ontvang, onder meer die Orde van Verdienstelikheid van die Suid-Afrikaanse staatspresident, die Adelaide Ristori-toekennig deur die Italiaanse regering asook die Stella della Solidarieta van die Italiaanse regering. Die Potchefstroomse Universiteit het aan Renzi ‘n eredoktorsgraad toegeken.
Ter viering van haar 90ste verjaardag het van Emma Renzi se studente – voormalige én huidige studente – ‘n huldigingskonsert in Northwards in Johannesburg aangebied.