Drie Suid-Afrikaanse soprane is in die 2017/’18 Met-seisoen te sien: Golda Schultz, Elza van den Heever en Pretty Yende
Deur JOHAN MYBURG
Die Metropolitan Opera in New York het onlangs sy program vir die 2017/’18-seisoen aangekondig. Dalk is jy gelukkig genoeg om een of meer van dié produksies te kan bywoon. Maar onthou, daar is ook die moontlikheid om Met-produksies plaaslik in ’n Cinema Nouveau-teater te siene te kry.
Dít is gewis een van die Met se voortreflikste projekte: Om jaarliks tien manjifieke produksies met voortreflike rolverdelings in meer as 2 000 fliekteaters in 71 lande te vertoon in sy The Met: Live in HD-reeks. Dié reeks begin vanjaar in Oktober met sir David McVicar se voorstelling van Vincenzo Bellini se Norma. Die Met se openingsaand is op 25 September en in die rolverdeling is Sondra Radvanovsky in die titelrol, Joyce DiDonato as Adalgisa, Joseph Calleja as Pollione en Matthew Rose as Oroveso.
Dit is McVicar se sewende produksie vir die Met. Norma is maar een van die 26 werke wat die Met in dié seisoen aanbied. Dit sluit twee premières in, waarvan een ’n opdragwerk is en verskeie gehoorgunstelinge, asook Verdi se Requiem. In Oktober is die Britse komponis Thomas Adès die dirigent in die première van sy Met-opdragwerk, The Exterminating Angel, ’n opera op die 1962-rolprent van die Spaanse rolprentmaker Luis Buñuel geskoei. Die opera is in Engels en is ook in die Live in HD-reeks ingesluit. Die Met se produksie vir die Nuwejaars gala is ’n nuwe produksie van Giacomo Puccini se Tosca, met McVicar as die vervaardiger.
LEES OOK: Klassieke musiek: Pretty Yende
Kristine Opolais is as Tosca, Jonas Kaufmann as Cavaradossi en Bryn Terfel as Scarpia te sien. In latere aanbiedings vertolk Anna Netrebko die titelrol, Marcelo Álvarez dié van Cavaradossi en Michael Volle dié van Scarpia. In Maart kom Wolfgang Amadeus Mozart se Così fan tutte, in die 1950’s op Coney Island geplaas, aan die beurt, en die volgende maand Jules Massenet se operaweergawe van die Aspoestertjie-verhaal, Cendrillon. Joyce DiDonato is in die titelrol en die prins word deur Alice Coote vertolk. James Levine, die Met se emeritusmusiekdirekteur wat aan die einde van die 2015/’16-seisoen afgetree het, is terug as dirigent van Verdi se Requiem met as soliste Krassimira Stoyanova, Ekaterina Semenchuk, Aleksandrs Antonenko en Ferruccio Furlanetto.
Ander produksies sluit in Verdi se Luisa Miller, Giacomo Rossini se Semiramide, Richard Wagner se Parsifal en Richard Strauss se Elektra. Drie Suid-Afrikaanse soprane is in dié Met-seisoen te sien: Golda Schultz, Elza van den Heever en Pretty Yende. Schultz maak haar Met-debuut as Pamina in Die Zauberflöte. Sy het eers aan die Universiteit van Kaapstad en daarna aan die Juilliard-musiekskool in New York studeer.
Sy het haar debuut in 2015 in Salzburg as Sophie in Richard Strauss se Der Rosenkavalier gemaak. Van den Heever, wat haar Met-debuut in 2012 as Elisabetta in Maria Stuarda gemaak het, vertolk in dié jongste seisoen die rol van Chrysothemis in Elektra, en Yende sing die titelrol in Lucia di Lammermoor asook die rol van Adina in L’elisir d’amore. Yende het haar Met-debuut in 2013 in Rossini se Le comte d’Ory in die rol van Adèle gemaak. Die volledige lys operaproduksies in die 2017/’18-seisoen wat in Cinema Nouveauteaters te sien sal wees, is Norma, Die Zauberflöte, The Exterminating Angel, Tosca, L’elisir d’amore, La bohème, Semiramide, Così fan tutte, Luisa Miller en Cendrillon.