Met hare wat vroeg in sy dertigerjare wit geword het, het hy nie ’n pruik nodig gehad om ’n Boccanegra of ’n Germont op die verhoog te word nie
Deur JOHAN MYBURG
Uitvoerings van Verdi se Requiem in die Metropolitan Opera in New York neem dikwels die vorm van ’n herdenking aan. Die Met se eerste uitvoering in 1901 was ’n herdenking van die lewe en dood van Verdi ’n maand tevore. So was dit in 1964 met die dood van John F Kennedy en in 2008 met die dood van Luciano Pavarotti.
Einde verlede jaar het die Met die Requiem met James Levine aangebied toe die nuus gekom het dat die Russiese bariton Dmitri Hvorostofski (55) gesterf het, twee jaar nadat hy met breinkanker gediagnoseer is. Dié Requiem-aanbieding is terstond aan Hvorotofski opgedra wat in 1995 sy debuut in die Met in die rol van Jeletski in Tsjaikofski se Koningin van skoppens gehad het. Dit was egter ses jaar tevore, in 1989, toe hy die BBC Cardiff Singer of the Worldkompetisie gewen het dat Hvorostofski wêreldwyd bekendheid verwerf het. In die laaste ronde het hy die Walliese Bryn Terfel uitgestof.
Kort daarna het hy konsertuitvoerings in Londen en New York begin gee. In dié programme het die Russiese repertorium dikwels ’n plek gekry en hy het gereeld saam met nóg ’n Russiese superster, die sopraan Anna Netrebko, opgetree. In 2013 het hulle ’n uitvoering in Moskou gegee en die DVD Live from Red Square het ’n topverkoper geword. Soos talle van sy tydgenote, onder andere Reneé Fleming en Dawn Upshaw, het Hvorotofski nie vir crossover-albums met populêre musiek teruggedeins nie. Nietemin is dit sy opnames in die opera- en klassieke genre wat groter indruk maak. As liriese bariton met ’n fluweelagtige stem was sy repertorium besonder wyd: benewens opera, veral Verdi, ook Neapolitaanse volksliedjies en liturgiese musiek.
LEES OOK: Klassieke klanke: Nadia Boulanger
Daarby was hy ’n aantreklike man – soms goedig die operawêreld se eie vleispaleis genoem. Met hare wat vroeg in sy 30’s wit geword het, het hy nie ’n pruik nodig gehad om ’n Boccanegra of ’n Germont op die verhoog te word nie. Hy het ook beskik oor “’n spesifieke, ouwêreldse kwaliteit met betrekking tot sy staan-en-sing-projeksie voor ’n waarderende gehoor”, het The Guardian in ’n huldeblyk oor hom geskryf. Hvorostofski het in Siberië grootgeword en aan die konservatorium in sy tuisdorp, Krasnojarsk, studeer. Nog voor hy sy studie voltooi het, het die plaaslike opera hom ’n betrekking aangebied.
In ’n onderhoud met The New York Times tien jaar gelede, het hy aangedui dat die stemopleiding wat hy in Rusland gemis het, die verkenning van bel canto was. Tydens die Stalin-era het kultuurkommissarisse gemeen bel canto is te elitisties en Europees en dat dit die vroeë Russiese stemtradisie gekorrupteer het. Derhalwe was bel canto ’n vloekwoord. Bel canto het hy self onder die knie gekry deur na opnames van die vernaamste Italiaanse bel canto-sangers te luister.
Drank het tot die verbrokkeling van sy eerste huwelik bygedra. “Ek kon maklik ná ’n uitvoering twee bottels vodka kafdraf,” het hy erken. In 2001 op Nuwejaar het hy ophou drink en ’n nuwe blaadjie omgeslaan. Hy het in Junie 2015 aangekondig dat hy kanker het en sy afsprake tot en met Augustus afgestel. In September is hy nietemin New York toe vir drie optredes as die hertog Di Luna in Il trovatore teenoor Netrebko. Jare nadat hy hom in Londen gevestig het, het hy in 2008 in ’n onderhoud gesê hoe ouer hy word, hoe nader voel hy aan Rusland. Hvorostofski is in St Petersburg begrawe.