Hoewel Nuwejaarskonserte reg deur die wêreld aangebied word, is dit die Oostenrykse stad Wene wat ’n tradisie van konserte op 31 Desember sowel as 1 Januarie gevestig het
Johan Myburg
Die bekendste van dié konserte is gewis dié een wat aangebied word deur die Weense Filharmoniese Orkes. Dié konserte word gewoonlik regstreeks en wêreldwyd uitgesaai en ver meer as 50 miljoen kykers in 90 lande het verlede jaar na dié joligheid sit en kyk.
Vanjaar is die Lettiese dirigent Mariss Jansons voor die Weense Filharmonie in die Musikverein se se Goue Saal vir twee konserte: die een op Oujaarsaand en die ander om 11:15 op Nuwejaarsdag. Die program van dié twee konserte was teen druktyd nog nie bekend nie.
Kaartjies vir albei dié optredes is lank reeds uitverkoop.
As gevolg van die enorme aanvraag word kaartjies vir die Weense Filharmonie se konserte op Ou- sowel as Nuwejaarsdag jaarliks op sy webwerf uitgeloot. Op dié manier kry musiekliefhebbers van reg oor die wêreld ’n gelyke kans om kaartjies te bekom. Tussen 2 Januarie en 29 Februarie vanjaar kan jy op die webwerf registreer om in aanmerking te kom vir die konserte vir 2016/7.
Kaartjiepryse wissel van R520 tot R16 000 vir die Nuwejaarskonsert, R370 tot R10 600 vir die Oujaarskonsert en R300 en R6 700 vir die voorskoukonsert.
Die program vir al dié konserte is dieselfde.
Die tradisie vir dié konserte is in 1939 begin toe die destydse dirigent, Clemens Krauss, die eerste Nuwejaarskonsert, met net die musiek van Johann Strauss II op die program, aangebied het.
Intussen is die repertorium uitgebrei hoewel die klem steeds bly val op die werk van Oostenrykse komponiste soos Hellmesberger, Mozart, Nicolai, Von Reznicek, Von Suppé en Ziehrer.
In 2009 het Haydn die program gehaal toe die laaste beweging van sy Simfonie no. 45 gespeel is ter viering van die 200ste herdenking van sy dood.
Gebruiklikerwys word die Nuwejaarskonsert afgesluit met ’n keur uit walse, masurkas, polkas en marse en jy kan seker wees “Die blou Donou” is op die encore-lys.
Dié konserte duur gewoonlik sowat twee en ’n half uur.
Vir Oujaarsaand is daar in Wene ’n hele paar konserte om uit te kies.
Die Schönbrunn-paleis bied op daardie aand ’n konsert aan en kaartjiepryse wissel van sowat R880 tot R1 880 per persoon. Vir R1 880 per persoon kry jy darem ook ’n glas vonkelwyn tydens pouse!
In dié paleis se Orangerie speel die Schönbrunn-paleisorkes werke van Mozart en Strauss, en twee sangers, ’n sopraan en ’n bariton, sluit by hulle aan.
In die Redoutensaal van die Hofburg-paleis speel die Hofburg-orkes ook op die Oujaar bekende walsmusiek en uittreksels uit operettes van Strauss, Kalman en Léhar. Die dirigent is Gert Hofbauer en vir dié konsert kan ’n mens tot R1.650 per persoon opdok.
Meer bekostigbaar is dalk die uitvoering van Vivaldi se Vioolkonserte wat bekend staan as “Die vier seisoene” wat in die St. Charles-kerk in Wene uitgevoer word. Kaartjiepryse wissel van R375 tot R550.
Oorweeg dié opnames
’n CD- en ook ’n DVD-opname van die Weense Filharmonie se 2014-konsert is beskikbaar onder die Sony Classical-etiket. Die dirigent by dié geleentheid was Daniel Barenboim.
Benewens die gewone gunstelinge is op dié CD ook die sogenaamde “Olyftak”-wals van Josef Strauss en die “Maanligmusiek” uit Richard Strauss se Capriccio ingesluit.
Ook onder die Sony Classical-etiket is die Weense Filharmonie se 2015-konsert op CD en op DVD beskikbaar. Die dirigent was Zubin Mehta, wat dié orkes ook in 1990, 1995, 1998 en 2007 in Nuwejaarskonserte gedirigeer het. Benewens die bekende Strauss-werke is ingesluit musiek van Von Suppé en Lumbye.
Kyk hier na die voorprent van die 2015-konsert, met Julie Andrews as gasvrou.