Die 16de eeu was die hoogtepunt van die Renaissance, die hergeboorte van die kunste, wetenskap en filosofie in Wes-Europa.
Johan Myburg
Dit was die tyd van Desiderius Erasmus, Nicolaus Copernicus, Galileo Galilei, dit was die tyd van die Hervorming en die begin van Henry VIII se Anglikaanse Kerk. Dit was die tyd van Michelangelo, Rafael en Leonardo da Vinci, die tyd van William Shakespeare en Miguel de Cervantes. Die lys is verbluffend lank.
In hierdie tyd het komponiste gewyde en sekulêre musiek verfyn en ’n grondslag gestel waarop die volgende geslagte kon voortbou.
Instrumente van die tyd
Tipiese instrumente van die 16de eeu was ’n soort vedel, ’n vetter voorloper van die viool en met snare wat nie so styf gespan is nie. Nog snaarinstrumente was die chittarone, ’n groterige soort baskitaar, maar met ’n besonder lang nek, en die luit. Onder die houtblaasinstrumente was die blokfluit die bekendste en die skalmei of herdersfluit waarskynlik die oudste. Die virginal, die tafelmodel van ’n kleinerige spinet, was ’n gewilde instrument van die tyd. Hoewel die orrel in Winchester teen die middel van die 10de eeu reeds met 400 pype gespog het (dit het 70 mans gevat om die blaasbalk gepomp te kry en twee om die orrel te bespeel), het die orrel hom in dié tyd as kerkinstrument begin vestig.
Belangrike komponiste van dié tyd
Thomas Tallis (1505-1585), ’n Engelse komponis, was eers orrelis van die Waltham-abdy in Essex, toe verbonde aan die Canterbury-katedraal en eindelik komponis aan die hof van koning Henry VIII, koning Edward VI, koningin Mary en koningin Elizabeth I. Met Calvinisme wat meer veld begin wen het, is polifoniese sang in kerk ontmoedig en is klem gelê op woorde wat duidelik hoorbaar moes wees. Tallis het nege psalmmelodieë geskryf, waarvan een die inspirasie was vir Ralph Vaughn Williams (1872-1958) se Fantasia on a Theme of Thomas Tallis van 1910.
Luister na Vaughan Williams se Fantasia on a theme of Thomas Tallis, uitgevoer deur die BBC-simfonieorkes onder leiding van Andrew Davis.
Giovanni da Palestrina (1525-1594), ’n Italiaanse komponis, gebore as Giovanni Pierluigi, was orrelis van katedraal in Palestrina. Hy is deur pous Julius III as koorlid van die pouslike koor, maar toe die pous uitvind hy is getroud, is Palestrina ontslaan. Nadat Palestrina se vrou, twee seuns en broer dood is aan die pes, is hy in 1571 terug Vatikaan toe waar hy tot en met sy dood komponis was. Palestrina het ‘’n beduidende invloed gehad op kerkmusiek en hy het honderde komposisies nagelaat. Die “Gloria” uit sy Magnificat is die basis van die Paassang “Victory (The Strife Is Over)”.
John Dowland (1563-1626), ’n Engelse komponis en befaamde luitspeler, het in Frankryk, Italië en Denemarke gewerk voordat hy eindelik aangestel is aan die hof van die Engelse koning James I. Dowland het bekendheid verwerf vir sy melancholiese liedere. Een van die bekendste is “Come Again, sweet love doth now invite” uit Dowland se First Booke of Songes or Ayres van 1597. Sting het in 2006 dié lied ingesluit op sy album Songs from the Labyrinth. Daar word dikwels na Dowland verwys as die Bob Dylan van die Shakespeare-era.
Hier is twee video-opnames van dié Dowland-lied. Eerstens dié van Steven Rickards (kontratenoor) en Dorothy Linell (luit)
en dan ook dié van Sting en Edin Karamazov (luit)
Hans Leo Hassler (1564-1612), ’n Duitse komponis wat onder meer in Venesië gestudeer het. Hy het heelwat gewyde musiek vir Protestantse sowel as Rooms-Katolieke gebruik geskryf, hoewel dit vir ‘’n liefdeslied is waarvoor hy postuum bekend geword het. Hassler se vyfversige, sekulêre “Mein G’müt ist mir verwirret” van 1600, oor ’n man wat smoorverlief is, het Johann Sebastian Bach se aandag aangegryp en die melodie geword vir sy bekende “O Haupt voll Blut und Wunden” uit die Matthäus Passion.
Luister hier na Hans Leo Hassler se “Mein G’müt ist mir verwirret” uitgevoer tydens die Garden of Delight-konsert in die St Mary’s Episcopal Church, Pacific Grove, VSA.
Luister hier na Johann Sebastian Bach se “O Haupt voll Blut und Wunden” uit die Matteus-passie, uitgevoer deur die Collegium Vocale Gent onder leiding van Philippe Herreweghe.
In 1975 het die Amerikaanse sanger Paul Simon die einste melodie ingespan vir sy “American Tune”.
Vir jou CD-rak
As jy ’n CD-opname van Dowland wil aanskaf, kan jy dié een van La Nef met die tenoor Michael Slattery oorweeg: Dowland in Dublin. Die consort bestaan uit Sylvain Bergeron (luit), Sean Dagher (chittarone), Gregoire Jeay (fluite), Alex Kehler (vedel), Amanda Keesmaat (baroktjello). ATMA Classique ACD2 2650. Hier is ’n video-opname van La Nef se “Come Again”.