In die vroeë 19de eeu was dit die drie komponiste Gioachino Rossini, Gaetano Donizetti en Vincenzo Bellini wat in Italië ‘n nuwe operatradisie tot standgebring het.
Omdat opera soveel meer toeganklik was (en dalk steeds is) as die soort musiek wat in konsertsale aangebied word, was Rossini (1792-1868) teen 1825 beroemder en selfs bekender as die grote Ludwig van Beethoven (1770-1827). Hoewel operasangers kort tevore nog meer verdien het as komponiste, het die prentjie vinnig verander met suksesvolle operas wat met nuwes aangevul moes word.
Benewens Rossini se bydrae tot die sogenaamde bel canto-styl het hy ‘n leeue-andeel gehad in die totstandkoming van neuriebare melodieë, vinnige ritmes en die “Rossini-crescendo”, ‘n tegniek wat inhou dat spanning opgebou word deur ‘n frase te herhaal, elke keer harder en op ‘n hoër toon.
Terwyl droë dialoog voorheen aan die orde van die dag was, het libretto-skrywers nou resitatiewe, arias, duette, ensembles en koorgedeeltes ingespan om die storie te vertel. Op hul beurt het komponiste gesorg dat orkeste ‘n groter aandeel kry in die musikale inkleding van die verhaal.
‘n Aria is byvoorbeeld begin met ‘n inleiding deur die orkes. Daarna begin die sanger met ‘n liriese cantabile wat teen ‘n stadiger tempo verloop en wat dikwels besinnend, nadenkend of droewig is. Dié word gevolg deur die vinniger en vuriger cabaletta waarmee hartstog, intense vreugde of woede vertolk word. In sommige gevalle bied ‘n tempo di mezzo ‘n brug tussen die cantabile en die cabaletta.
Ouvertures, die musikale inleidings tot operas, en veral dié van Rossini, het weg van die operaverhoog vinnig ‘n tweede lewe gekry as deel van konsertprogramme – juis vanweë die gewildheid daarvan. Die gebruik om ‘n simfoniekonsert te begin met ‘n ouverture, gevolg deur ‘n solokonsert en ná pouse die simfoniese werk, is terloops iets wat vandag nog wêreldwyd gevolg word.
Die ouvertures bestaan gewoonlik uit twee dele: ‘n langerige stadiger inleiding met ‘n liriese melodielyn vir die houtblasers gevolg deur ‘n vinniger gedeelte wat triomfantelik eindig.
As ‘n mens enkele van die gewildste Italiaanse operas voor 1850 moet uitsonder sal dié lysie gewis insluit Rossini se Il barbiere di Siviglia (1816), La Cenerentola (1817), Semiramide (1823) Le comte Ory (1828) en Guillaume Tell (1829); Bellini se La sonnambula (1831), Norma (1831) en I Puritani (1835); en Donizetti se Lucia di Lammermoor (1835), L’elisir d’amore (1832) en Don Pasquale (1843).
Italië is bekend vir sy operahuise. Die oudste en bekendste operahuise is Milaan se La Scala, Bologna se Teatro Comunale, Venesië se La Fenice en Napels se Teatro di San Carlo.
La Scala is in 1778 gebou en is dié Italiaanse operahuis – die tuiste van Rossini, Bellini, Donizetti en later Verdi. En van die vindingrykste kenmerke van dié operahuis is die konkawe kanaal onder die orkesput se houtvloer wat aan dié teater glo sy uitsonderlike akoestiek verleen. La Scala is in 2004 gerestoureer.
Die Teatro Comunale in Bologna het sy deure in 1763 geopen, 29 jaar voor dié van La Fenice (die Feniks). Getrou aan sy naam is dié operahuis reeds twee keer deur vuur verwoes. Dié operahuis in die San Marco-omgewing is onlangs opgeknap.
Napels se Teatro di San Carlo wat dateer van 1737 is die wêreld se oudste teater wat nog in gebruik is en was tot en met die opening van La Scala Italië se voorste operahuis. Verskeie van Rossini se operas het op dié verhoog gedebuteer.
Die straataansig van Milaan se La Scala.
Die binnekant van die roemryke Las Scala.
Detail van die interieur van La Fenice.