Liszt was op sy dag die ekwivalent van 20ste-eeuse pop- en rockkunstenaars ten opsigte van openbare aanhang en histerie by konserte
Tot en met die middel van die 19de eeu het kamermusiek grootliks die “gesprekspatroon” wat deur Haydn en Mozart gevestig is, gevolg. So het Schubert, Mendelssohn en Schumann byvoorbeeld kwartette geskryf waarin elk van die viertal ? bydrae lewer tot die musikale gesprek. Die rapport tussen die musikante is weerspieël in die instrumente.
En in dié tyd het huiskonserte gefloreer, ensembles en kwartette is op die been gebring en duisende werke vir kwartette is gepubliseer.
Maar teen 1850 het die superster in die vorm van die virtuoos sy verskyning gemaak en die glans van kamermusiek effe laat taan. Die nuwe gonswoord was die solo-uitvoering, in Engels die “recital”. Die klem op die individu in die kuns en musiek van die Romantiek het noodwendig gelei tot die siening van die kunstenaar as held en virtuoos.
Die was die era van Niccolo Paganini (1782-1840) en veral Franz Liszt (1811-1886), wat die begrip “recital” so volledig sy eie gemaak het. Liszt het tussen 1839 en 1847 meer as 1 000 solo-uitvoerings gegee en getoer van Portugal tot Ierland, en van Turkye tot Rusland.
Die beskrywing superster is nie vergesog nie. Liszt was op sy dag die ekwivalent van 20ste-eeuse pop- en rockkunstenaars ten opsigte van openbare aanhang en histerie by konserte. ‘n Aspek wat besonder goed verreken word in Ken Russell se 1975-rolprent oor Liszt, Lisztomania.
Nietemin was Lisztomanie meer as die titel van ‘n rolprent. Daar is verhale van mense wat sy beeltenis op borsspelde gedra het, vroue wat gestoei het om ‘n haarlok van hom in die hande te kry, of ‘n sakdoek of handskoene. Daar is ook die verhaal van ‘n vrou wat ‘n sigaarstompie in die straat opgetel het waaraan Liszt sou gesuig het, dit in ‘n glashouer geplaas het en die voorletters FL in diamante daarop laat aanbring het.
Benewens die eerbewyse as pianis, dirigent en komponis en al die lof wat Liszt toegeswaai is, het hy ook heelwat mediadekking gekry vir sy talle verhoudings met hooggeplaaste vroue. Ondanks dié eskapades het hy nietemin van 1861 tot 1870 in Rome gewoon waar hy diens gedoen het in die Rooms-Katolieke kerk.
Maar vir Paganini was die kerk se deure nie so oop nie. Die einste kerk het geweier dat hy ‘n Rooms-Katolieke begrafnis kry – deels vanweë die gerugte wat rondgegaan het dat Paganini ‘n soort pakt met die duiwel gehad het.
Van kleins af het Paganini die viool anders as sy maters hanteer. Bewys hiervan is sy vernuftige 24 kapries vir solo-viool. Op 45 het hy in alle erns begin met sy konsertloopbaan buite Italië en het hy opgetree in Hongarye, Oostenryk, Duitsland, Frankryk en Engeland. In 1829 het hy in Pole gespeel waar Fryderyk Chopin (1810-1849) hom hoor speel het en sy “Souvenir de Paganini” aan hom opgedra het.
Twee goed het Paganini en Liszt gemeen gehad: besonder lenige en groot hande en ‘n swak vir vroue.
In Paganini se geval het sy lang vingers uitsonderlike soepelheid na sy verbluffende spel gebring – tot dié mate dat hy byname gekry het soos die rubberman en die duiwel se violis. Die feit dat hy ‘n “Heksedans” op een enkele snaar kon speel, het nie gehelp om sy reputasie te red nie.
Liszt se vingerspan was volgens oorlewering 13 note, hoewel aanduidings bestaan dat hy tien met gemak kon bemeester.
Kyk na die lokprent van The Devil’s Violinst, ‘n fliek wat Bernard Rose in 2013 gemaak het oor die lewe van Niccolo Paganini. Die violis David Garrrett is te sien in die rol van Paganini.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/FTEb3RsN4jw” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
In dié weergawe wat van 1997 dateer is Evgeny Kissen voor die klavier in die Royal Albert Hall in Londen met Franz Liszt se “La campanella”, die derde van die ses Grande études de Paganini. Die stuk is in g-kruis. Die melodie kom uit Paganini se Vioolkonsert no. 2 in b.
Opnames om te oorweeg
t
Die Hongaarse pianis Georges Cziffra (1921-1994) word steeds gereken as ‘n uitsonderlike vertolker van Liszt se virtuose werk. Ten opsigte van tegniek word hy boonop gereken as een van grootste pianiste van die 20ste eeu. Op dié CD speel hy die tien Hongaarse rapsodieë van Liszt.
‘n Hedendaagse klaviervirtuoos is Arcadi Volodos gewis. Op dié CD speel hy die volgende Liszt-werke:
Années de pèlerinage, (“Suisse”)
Années de pèlerinage, (“Italie”)
St François d’Assise: La prédication aux oiseaux
Bagatelle sans tonalité
Hongaarse rapsodie no. 13 in a
“Weinen, klagen, sorgen, zagen”, prelude vir klavier (JS Bach)
Funérailles
La lugubre gondola II
En rêve, nocturne vir klavier
Itzhak Perlman se vertolking van die 24 kapries van Niccolo Paganini bly ‘n merkwaardige opname.