Hoewel die oorsprong van die hedendaagse klavier toegeskryf word aan Bartolomeo Cristofori (1655-1731) van Padua in Italië, het dié instrument heelwat voorlopers gehad.
Johan Myburg
In die Middeleeue was daar verskeie eksperimente met snare wat geslaan word om klank voort te bring. Maar dit was in 1555 dat Nicola Vicentino, ’n Renaissance-komponis, ’n beskrywing gegee het van klavichord, ’n instrument wat die loop van die musiekgeskiedenis ingrypend sou beïnvloed. Die klavichord het ’n meganisme wat die snare slaan.
Daar is mense wat meen dié instrument se klank ten opsigte van intimiteit is ongeëwenaar. Johann Sebastian Bach het byvoorbeeld ’n voorliefde vir klavichord gehad.
In die vroeë-Barok (1580-1630) was ’n verskeidenheid klawerbordinstrumente beskikbaar – familie van die klavesimbel, ’n instrument waarmee die snare gepluk word: die kleiner virginal, muselar en die spinet. Die klavesimbel het anders as die klavichord ’n meganisme wat die snaar pluk.
Die meganisme wat vir dié instrumente gebruik is, het verhoed dat die speler kwalik harder of sagter kon speel. ’n Harde aanslag op die klawers sou maar net ’n stampgeluid tot gevolg hê en geen uitwerking op die volume hê nie. Daarom is ‘n tweede stel snare toegevoeg om nóg ’n nuanse te bewerkstellig. Met die regterhand is die solo-deel gespeel op die laer manuaal terwyl die linker op die boonste subtieler manuaal ’n begeleiding bewerk het.
Die middelbeweging uit Bach se Italiaanse concerto is aanduiding hiervan by 3 minute 50 sekodes.
[iframe width=”350″ height=”197″ frameborder=”0″ allowfullscreen=”” src=”https://www.youtube.com/embed/53orVeGmtwM?rel=0″]
’n Verdere leemte van die klavesimbel is dat klank nie gehou kan word nie – daar is geen pedaal wat die klank kan laat dra soos byvooorbeeld by die latere klavier nie.
Musiek vir die klawesimbel
Die Barok in Italië, Duitsland, Engeland en Frankryk het talle komposisies vir die klawesimbel opgelewer.
In Engeland het veral William Byrd (1540-1623) vir dié instrument geskryf, in Frankryk was dit Francois Couperin (1668-1733) en in Italië Domenico Scarlatti (1685-1757). Scarlatti het 555 sonates vir dié instrument geskryf.
Maar dit was Bach (1685-1750) wat heelwat vir die klavesimbel geskryf het – onder meer Das wohltemperierte Klavier en die Goldberg-variasies.
Luister hier na Bach se Das wohltemperierte Klavier, Boek 1, BWV 846-869. Die klavesimbelspeler is Léon Berben.
Klawesimbel in die 20ste eeu
Verskeie 20ste-eeuse komponiste het concertos (vir klavesimbel en oreks) geskryf. Onder hulle Manuel de Falla en Francis Poulenc. Luister byvoorbeeld na die Finale uit Poulenc se Concert champêtre. Die solis is Jean-Patrice Brosse. Georges Prêtre is voor die Orchestre Philharmonique de Monte-Carlo.
CD’s om te oorweeg
• Johann Sebastian Bach: Goldberg Variations. Christiane Jaccottet (klavesimbel). Point Classics
• Francis Poulenc: Concert champêtre. Aimée van de Wiele (klavesimbel). Paris Conservatoire Orchestra onder leiding van Pierre Dervaux. EMI CLASSICS