In Vrouekeur van 1 April skryf Johan Myburg oor die Afrikaanse kunslied en ? Nuwe CD wat pas verskyn het met ? versameling van dié liedere
JOHAN MYBURG
Die inligting hier onder is ter aanvulling van die Vrouekeur-rubriek.
In 1944 het dr. Con de Villiers in ? artikel in Die Huisgenoot nie net oor die deugde van die Afrikaanse kunslied geskryf nie, maar sommer ook die ondeugde van orkesbegeleiding by die uitvoering van kunsliedere bespreek.
“Omdat die lied wesentlik kamermusiek is moet die begeleiding nie oorlaai word nie, anders word die lied opgeblase en vulgêr en die belangrike stemnuanserings is net op piano en forte aangewese. Die natuurlike en tradisionele liedbegeleiding is die klavier, of hoogstens ‘n snaarkwartet soos in sommige liedere van Richard Strauss. ‘n Lied met orkesbegeleiding is ‘n onding: dan word die lied ‘n dramatiese toneel, soos Saint-Saens se “Fiancee du timbalier”. Hoe skoon Mahler se Kindertotenlieder met orkesbegeleiding ook mag wees, voel ‘n mens nogtans dat die grense van die liedvorm oorskry word en dat daardie soort ekshibisionisme eintlik in die opera tuishoort.”
Met De Villiers se verwysing na dié “onding” in gedagte, luister na dié besonderse opname van S Le Roux Marais se “Heimwee” – mét orkesbegeleiding – uitgevoer deur die tenoor Stephen Eyssen. Nie die naam van die orkes of die dirigent word genoem nie.