Die Lente-seisoen van die Kaapstad Simfonieorkes (KSO) kom op 1 Desember in die Kaapstad-stadsaal tot ‘n einde met ‘n uitvoering van ‘n laat 19de-eeuse horingkonsert en twee vroeg 20ste-eeuse werke. Die dirigent is Daniel Boico.
Op die program is die Horingkonsert no. 1, op. 11 van Richard Strauss, Die wonderbaarlike Mandaryn-suite van Béla Bártok en Die planete van Gustav Holst. Die solis is die Amerikaanse horingspeler Michael Thornton.
Boico, deesdae die mede-gasdirigent van die KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes in Durban, word wyd geloof vir sy dinamiese, opwindende en verbeeldingryke benadering tot orkesliteratuur. Musiek was nog altyd deel van sy lewe – sy pa was die konsertmeester van die Orchestre de Paris en sy ma ? pianis.
Boico, ‘n voormalige liriese tenoor, is in Israel gebore en het grootgeword in Frankryk en die VSA. Sy sangopleiding het hy ontvang aan die universiteit van Wisconsin waarna hy komposisie en orkestrasie gestudeer het onder leiding van Victor Yampolsky en later sy studie voortgesit het in St. Petersburg onder leiding van Ilya Musin.
Thornton is professor aan die universiteit van Colorado in Boulder. Voordat hy aangesluit het by die Colorado-simfonieorkes was hy hoofhoringspeler van die Honolulu-simfonieorkes en gas-hoofspeler van die St. Paul-kamerorkes en die Toronto-simfonieorkes asook van die Philadelphia-orkes.
Strauss (1864-1949) het sy eerste Konsert vir horing in E-mol (1882) op 18 geskryf toe hy student was aan die universiteit van München. Sy pa, Franz, was een van die voorste horingspeler van sy dag en die jong Strauss het met dié instrument grootgeword.
Dié kort werk is in drie bewegings (allegro, andante, allegro) en ‘n uitvoering daarvan duur selde langer as 18 minute.
Die Hongaarse komponis Béla Bártok (1881-1945) het sy eenakter danspantomime Die wonderbaarlike Mandaryn tussen 1918 en 1924 geskryf. Ná die eerste opvoering in Keulen, Duitsland, in 1926 is dié ballet daar verbied op grond van “onsedelikheid”. Die burgemeester van Keulen, wat Bártok voor stok gekry het oor dié skandalige danswerk, was niemand anders nie as Konrad Adenauer wat ná die Tweede Wêreldoorlog Wes-Duitse kansellier geword het.
Die werk is daarna in Praag aangebied, maar die sukses van die werk het gekom uit die suite-weergawe daarvan.
Teen 1916 het die Britse komponis Gustav Holst (1874-1934) sy orkessuite in sewe dele, bekend as Die planete, voltooi. Die sewe dele, deur Holst aangedui as Mars, the Bringer of War (geskryf in 1914); Venus, the Bringer of Peace (1914); Mercury, the Winged Messenger (1916); Jupiter, the Bringer of Jollity (1914); Saturn, the Bringer of Old Age (1915); Uranus, the Magician (1915) en Neptune, the Mystic (1915), is meer astrologies as astronomies van aard (daarom is die aarde uitgesluit in dié lys planete) en verwys na emosies en die invloed van die planete op die psige.
In 1916 was die Eerste Wêreldoorlog aan’t woed en ‘n uitvoering van Holst se nuwe werk moes wag tot die einde van die oorlog. Hoewel daar in 1918 ‘n private uitvoering met die jong Andrian Boult op die podium was, is die eerste openbare uitvoering van dié werk wat later ‘n groot gehoorgunsteling sou word, in Londen in 1920 gegee met Albert Coates as dirigent.
Dié KSO-konsert begin om 20:00 en kaartjies daarvoor kos van R150 tot R230.
Michael Thornton, Amerikaanse horingspeler wat saam met die KSO optree in die Horingkonsert no. 1 van Richard Strauss.
Kyk hier na die Szeged- kontemporêre dansgeselskap se weergawe van Bártok se Die wonderbaarlike Mandaryn.
Daar is verskeie goeie CD-opnames van Holst se Die planete beskikbaar, onder meer dié van James Levine, Simon Rattle en Zubin Metha.
Kyk na ‘n uitvoering van Gustav Holst se suite Die planete. Die dirigent is Maciej Tarnowski voor die orkes en koor van die Narodowej-Filharmoniese Orkes.