Alessandro Taverna, die Italiaanse pianis na wie verwys is as die “natuurlike opvolger van sy landgenoot Arturo Benedetti Michelangeli”, is in Augustus in Johannesburg vir ‘n optrede vir die Johannesburg Musiekvereniging.
Johan Myburg
Dié gloeiende getuigskrif deur ? resensent in die Britse dagblad The Independent het gevolg ná die Londense internasionale klavierkompetisie in April 2009 waar hy die tweede plek behaal het. Die koerant het voortgegaan en daarna verwys dat Taverna nooit ‘n vinger verkeerd plaas nie en elke noot weeg met die uiterste finesse. “Dié wat net sy meesterlike vertolking van Chopin se Klavierkonsert no. 1 in die eindronde gehoor het, sal nie weet watter merkwaardige musikus hy is nie: Sy vertolking in die halfeindronde wat Ligeti, Chopin, Bach en Strawinski ingesluit het, was 50 minute van foutlose poësie.”
In September 2009 het hy die einste Chopin in die eindronde van die Leeds- internasionale klavierkompetisie gespeel en die derde plek verower. Nietemin het The Guardian geen geheim daarvan gemaak nie dat hy eintlik as die wenner moes seëvier. “Hy het die Chopin gespeel met direkte dog geartikuleerde skoonheid. Hy het die verhoog beheer asof dit sy reg was en dit was duidelik dat hy dit terdeë geniet het.”
Maar dit was op die Minnesota internasionale klavierkompetisie in die VSA waar Taverna in 2009 aangewys is as die wenner. Benewens ‘n kontantprys en ‘n klavier het hy ook ‘n konserttoer gewen met ‘n debuut in New York en ‘n CD-kontrak.
Taverna is in 1983 in Portogruaro, net noord van Venesië gebore. Hy het eers, les ontvang in sy tuisdorp en in Imola, suid van Bologna, waar hy in 2008 se meestersdiploma verwerf het. Daarna is hy na die Accademia Santa Cecilia in Rome. Later het hy sy studie voortgesit in Hanover, Duitsland.
In 2009 het hy die dirigent Lorin Maazel se Castleton-fees in die Amerikaanse deelstaat Virginia geopen en waarna Maazel hom genooi het om onder sy baton die Klavierkonsert no. 3 van Prokofiëf saam met die Münchner Philharmoniker in die Gasteig in München asook in die Musikverein in Wene te speel.
In September 2011 het hy die Arturo Benedetti Michelangeli-prys van die Eppan-klavierakademie verower en die volgende jaar die Italiaanse Premio Giuseppe Sinopoli.
Hy tree meermale op in konsertsale in Italië, Frankryk, Brittanje, Japan en die VSA. Oor sy optrede in die VSA het Amerikaanse resensente verwys na die feit dat daar niks vertonerig aan Taverna is nie en dat hy as’t ware al sy energie in die klavier tregter. Die gevolg is dat die gehoor ingetrek word in sy betowerende klankwêreld.
Taverna se repertorium sluit in werk van komponiste van Charles Valentin Alkan tot Charles Wuorinen, met tussenin onder andere Bach, Beethoven, Chopin, Debussy, Haydn, Liszt, Mozart, Saint-Saëns, Scarlatti, Schumann en Scriabin.
As solis het hy al opgetree saam met verskeie vooraanstaande Europese orkeste.
Taverna het sedert 2008 Suid-Afrika by verskeie geleenthede besoek.
Hy is tans professor in klavier aan die L Perosi-konservatorium in Campobasso, noord van Napels. Hy gee gereeld meestersklasse in klaviertegniek en -spel, ook by die musiekskool van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.
Die uitvoering in die Linder-ouditorium in Parktown in Johannesburg op Saterdag 13 Augustus begin om 20:00. Bespreek by Computicket. Kaartjies kos van R165 tot R200.
[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/7TUb66IjiQg” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Dié video is die regstreekse opname van die eindronde van die Leeds- internasionale klavierkompetisie in 2009 toe Alessandro Taverna die Klavierkonsert no. 1 in e, op. 11 uitgevoer het saam met die Hallé-orkes onder leiding van sir Mark Elder.
Taverna se CD-opnames sluit in: