Die 21ste jaarlikse ABSA KKNK op Oudtshoorn is nog tot Saterdagaand in volle swang. Daar is iets van alles, van toneel, dans, komedie tot musiek, kunsuitstallings, pannekoek en kerrie en rys.
Maryke Roberts
Vanjaar se tema was: “Hoe spel jý fees?” Feespersoneel het oulike T-hempies gedra met “W is vir Welkom”, “V is vir Voorbok” en by die amptelike feesstalletjie kon jy rugsakke, T-hempies en hoedjies met allerhande pittighede op koop.
Die stalletjies wat regoor die feesterrein versprei is, het almal saamgespeel met oulike bordjies wat dinge verkondig soos “S is vir Spookasem” en “P is vir Pannekoek” en feesgangers het sommer vinnig dié rympie aangeleer wanneer hulle bestel!
Daar is vele nuwelinge op die fees, soos die komediant Nik Rabinowitz. Hy het gegrap en gesê hy was opgewonde om sy debuut by die KKNK te maak: “My vrou het wel gesê dat ek nie op ’n volstruis mag ry nie. Op ’n persoonlike noot sien ek daarna uit om my oupagrootjie, Morris Braude, se graf in Oudtshoorn te besoek. Dalk het ek ’n paar Boerejoodnefies en -niggies op die dorp waarvan ek nie weet nie.” Daar is nog een vertoning om 16:00 vanmiddag in die Rembrandtsaal.
Aanstaande week skuif hy aan na Die Boer Teaterrestaurant in Durbanville vir drie vertonings.
By die musiekproduksies was daar ook vele debute soos Jak de Priester se Ek reis na gister, en Bravo! Opera, Chriskras, Die ander konsert, Francois van Coke, Kahn, Klein Karoo Jazz wat op Vrydagaand gehou word en Kurt & Karen op Klavier, wat baie gewild was.
By die toneel het Wessel Pretorius se Al julle volke, en Buite blaf die honde swart, Dirk Ligter, In Glas, Moeder Moed en haar kinders, Skierlik en ander gedebuteer.
Komedies wat hul debuut by die 2015-fees gehad het, was onder meer Die Kaap is weer Holms, Die woema van ’n windgat wyfie met Shaleen Surtie-Richards en Sandton City Grootdoop.
Die dans-debuut produksie was Askoop.
Berni Searle is vanjaar se feeskunstenaar en is ná 15 jaar terug by die fees. Daar was ook werke van Peter Magubane, Die Afrikaners: ’n werk in wording, en Papa se fliek is dood: bewegende kunste wat byt, skop en krap in die Prince Vincent-gebou. Die landskapkunstenaar Georgia Papageorge se Skeur bied ’n kykie op die gevolge van ons dade wat die Groot Skeurvallei Afrika kan laat skeur en afbreek.
Onder die kunskwartier is daar verskeie plekke wat omskep is in tydelike kunsgalerye en ander permanente galerye wat spesiale fees-uitstallings het. Feesgangers kan kyk hoe die kunstenaars werk en met hulle oor hul werk gesels.
Dan kan feesgangers ook die historiese wandeling deur die dorp onderneem, wynproe, leer hoe om sjokolade te maak, met olifante kennis maak of net rustig in die Rivierbuurt sit en musiek luister.
SOURCES
Clifford Roberts