Sedert die Turner-prys, genoem na die Engelse skilder JMW Turner (1775-1851), in 1984 vir die eerste keer toegeken is, was daar nog feitlik elke jaar opspraak rondom dié prys met ’n algehele waarde van sowat R730 000. Johan Myburg skryf oor enkele van die opspraakwekkende wenners.
Johan Myburg
In 1995 het Damien Hirst (1965) die Turner-prys verower met sy Mother and Child (Divided) (1993), ‘n koei en kalf, gehalveer, en geïnstalleer in glaskaste met formalien.
Hirst, ‘n kunstenaar wat tot ‘n groot mate aspekte van dood in sy werk verken, het destyds mense na hul asem laat snak toe Mother and Child asoook The Physical Impossibility of Death in the Mind of Someone Living, ‘n tamaai haai in ‘n glaskas, ook in formalien, die eerste keer vertoon is.
Maar hy het jare later, in 2008, museumpersoneel in Tokio letterlik na hul asem laat snak toe hulle besef het die koei en kalf in die glaskaste is besig om te verrot.
Die Tokio-museum waar Hirst se werk tydelik vertoon sou word, moes inderhaas ’n latere weergawe van dieselfde werk laat kom van ‘n museum in Oslo.
Chris Ofili (1968) het in 1998 die Turner-prys gewen met skilderye waarin hy onder meer ook olifantmis gebruik het.
Hoewel sy kritici hom daarvan beskuldig dat hy olifantmis op sy skilderye spat, gebruik Ofili die mis net in gedroogde vorm op die doek en as verniste voetstukke vir die werke om op te staan.
Tracey Emin (1963) het die Turner-prys in 1999 gewen.
My Bed, (1998), die installasiewerk waarmee sy die prys gewen het, bestaan uit haar bed en voorwerpe uit haar slaapkamer.
Oor dié werk het dit behoorlik gegons. Die gekreukelde lakens het allerlei vlekke op gehad, op die vloer was onder meer kondome, onderklere en pantoffels.
Emin het aangevoer dit was die bed waarin sy etlike dae deurgebring het ná ’n depressiewe episode aangebring deur verhoudingsprobleme.
My Bed is deur die versamelaar Charles Saatchi vir £150 000 aangekoop.
Meer inligting
• Vir inligting oor vanjaar se benoemdes klik hier om tate.org.uk te besoek.
• As jy lus het vir ’n satiriese blik op die Turner-prys, klik hier om dié video wat draak steek met die prys te kyk.