Drie Suid-Afrikaanse soliste tree op in die laaste konsert van die KZN Filharmonie se lenteseisoen
Johan Myburg
Die KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes sluit sy Lenteseisoen op 22 Oktober af met Carl Orff se Carmina burana en Richard Strauss se Tod und Verklärung (Dood en verheerliking), op. 24.
Van dié program sê Bongani Tembe, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KZN Filharmonie, die oogmerk is om met dié twee werke die lente, en daarmee saam die fleur van die lewe, te vier. “Tod und Verklärung besin oor lewe in die aangesig van die onvermydelike dood en Carmina burana eggo iets hiervan: Ons lewe is uitgelewer aan Fortuna wat haar gelukswiel tol en só ons lot bepaal.”
Vir die uitvoering van Carmina burana is die dienste bekom van die Suid-Afrikaanse soliste: Beverley Chiat, Nicholas Nicholaidis en Njabulo Madlala. Drie kore tree ook op: die SA Singers, die Clermont-gemeenskapskoor en die Durban- simfoniese koor.
Die KZN Filharmonie word gedirigeer deur die Russies gebore Daniel Raiskin.
Beverley Chiat
Beverley Chiat (sopraan) het eers aan die Universiteit van Kaapstad se operaskool studeer en daarna aan die Royal Northern- musiekkollege in Mancehster in Brittanje.
Pryse wat sy reeds verower het, sluit in dié van die Britse Peter Moores-stigting.
Chiat se operarolle sluit in dié van die Koningin van die nag in Die Zauberflöte (Mozart), Susanna in Le nozze di Figaro (Mozart), Oscar in Un ballo in maschera (Verdi), Gilda in Rigoletto (Verdi) en Lucy in The Telephone (Menotti).
Benewens operarolle sluit haar repertorium in die Mis in C en d (Mozart), Stabat Mater (Rossini), Simfonie no. 2 en no. 4 (Mahler) en Carmina burana (Orff).
Nicholas Nicolaidis
Nicholas Nicolaidis (tenoor) het aan die Universiteit van die Witwatersrand sang studeer en gespesialiseer in voordrag. Tydens sy studiejare het hy die Elizabeth Connell/Samro-prys sowel as die Joyce Barker-prys ontvang.
In 2003 het hy Samro se oorsese beurs vir sang verower en in Londen gaan studeer aan die Royal College of Music.
As “liriese tenoor” sluit sy repertorium in oratoriums, Lieder, musiekspele en operettes. Onder die oratoriums waarin hy opgetree het tel die Kersfees-oratorium (Bach) en die Johannes- en Matteus Passie (Bach). Sy Lieder-repertorium sluit in “Alleenstryd” (Hofmeyr), Lieder eines fahrenden Gesellen (Mahler), Die schöne Müllerin (Schubert) en Dichterliebe (Schumann).
Nicholaidis het rolle in talle Gilbert & Sullivan-operettes vertolk, onder meer dié van Major-General Stanley in The Pirates of Penzance, Ko-Ko in The Mikado en Giuseppe in The Gondoliers.
Njabulo Madlala
Njabulo Madlala (bariton), verlede jaar se Standard Bank Jong Kunstenaar vir musiek, is in Durban gebore en is ’n bekende in dié stad se konsertsale. Hy het by verskeie geleenthede saam met die KZN Filharmonie opgetree, onder andere saam met Arjan Tien en Richard Cock. Saam met die Durbanse pianis Christopher Duigan het hy in sy tuisstad maar ook verder in Lieder-uitvoerings opgetree.
Madlala het in 2012 die gesogte Kathleen Ferrier-kompetisie gewen en twee jaar later die Royal Overseas League-kompetisie. Daarbenewens is hy ook ’n Britten Pears- jong kunstenaar en ’n genoot van die Samling-stigting.
Operarolle sluit in dié van Don Fernando in Fidelio (Beethoven), Bello in La fanciulla del West (Puccini) en Schaunard in La bohème (Puccini). Onder sy konsertprogramme tel “Ich habe genug” (Bach) en Lieder eines fahrenden Gesellen (Mahler).
Die Duitse komponis Carl Orff (1895-1982) het sy Carmina burana (Liedere van Beuern) in 1935 gekomponeer. Die woorde vir dié komposisie kom uit die net meer as 250 gedigte en dramatiese tekste wat hoofsaaklik van die 11de of 12de eeu dateer en in 1803 in die Benediktbeuern-klooster in Bavaria gevind is. Dié versameling word toegeskryf aan die goliarde, ’n groep Middeleeuse skrywers wat op Latyn kommentaar gelewer het met hul satiriese, dikwels onkiese kroegliedere.
Carmina burana bestaan uit 25 onderdele. Die werk word gesing in Latyn en Middeleeuse weergawes van Duits en Frans.
Fortuna Imperatrix Mundi (Geluk, Heerser van die wêreld)
1. O Fortuna (koor)
2. Fortune plango vulnera (koor)
I – Primo vere (In die lente)
3. Veris leta facies (kleinkoor)
4. Omnia sol temperat (baritone)
5. Ecce gratum (koor)
Uf dem anger (In die veld)
6. Tanz (orkes)
7. Floret silva (koor)
8. Chramer, gip die varwe mir (koor)
9. a) Reie (orkes)
b) Swaz hie gat umbe (koor)
c) Chume, chum, geselle min (kleinkoor)
d) Swaz hie gat umbe (koor)
10. Were diu werlt alle min (koor)
II – In Taberna (In die kroeg)
11. Estuans interius (bariton)
12. Olim lacus colueram (tenoor en manskoor)
13. Ego sum abbas Cucaniensis (bariton en manskoor)
14. In taberna quando sumus (manskoor)
III – Cour d’amours (Hof van die liefde)
15. Amor volat undique (sopraan en seunskoor)
16. Dies, nox et omnia (bariton)
17. Stetit puella (sopraan)
18. Circa mea pectora (bariton en koor)
19. Si puer cum puellula (drie tenore, bariton en twee basse)
20. Veni, veni, venias (dubbelkoor)
21. In trutina (sopraan)
22. Tempus est iocundum (sopraan, bariton en seunskoor)
23. Dulcissime (sopraan)
Blanziflor et Helena (Blansefloer en Helena)
24. Ave formosissima (koor)
Fortuna Imperatrix Mundi (Geluk, Heerser van die wêreld)
25. O Fortuna (koor)
’n UItvoering van Carmina burana duur net minder as een uur.
1016 vk5 carmina
Richard Strauss
In sy toondig Tod und Verklärung (Dood en verheerliking) wat Richard Strauss (1864-1949) in 1889 voltooi het, beskryf hy die dood van ’n kunstenaar. Die sterwende man dink terug aan die onkuld van sy kinderdae, sy gesukkel om himself gevestig te kry, die verwerwing van aansien en te slotte die verheerliking (transfiguration) wanneer hy die “onmeetlike hemel” bereik.
’n Uitvoering van dié werk duur sowat 25 minute.
Die vier dele is gemerk Largo (Die siek man op die rand van die dood); Allegro molto agitato (Die stryd tussen lewe en dood); Meno mosso (Die sterwende se lewe flits verby) en Moderato (Die verheerliking).
Die konsert in die Durbanse stadsaal begin om 19:30. Bespreek by Computicket. Besoek www.kznphil.org.za/concerts vir nog inligting.