Daar is vanjaar ’n nuwe plekkie om by Clover Aardklop jou voete te laat rus en iets te kry om te drink en te eet: Die leefstylarea by die feesterrein.
Langs die Mooirivier onder lowergroen bome en ‘n bedoeïenetent vir koelte, kan jy smul aan heerlike kos, ‘n glasie wyn of boetiek-bier drink en na musiek luister terwyl die kinders veilig speel. Daar is stalletjies te kies en te keur en jou toegang tot die feesterrein sluit die aand se groot vertonings op die Clover-musiekverhoog in.
Die splinternuwe leefstylarea is beslis ‘n plek waar jy wil gaan kuier. Dit is geleë by die OFM-verhoog waar daar van 09:00 tot 18:00 lewendige musiek sal wees. Van die bekendes wat hier te sien sal wees, is Ses Snare, Pieter Smith, Elizma Theron, Jakkie Louw, Liza Brönner, Navi Redd, Jak de Priester en Pieter Koen.
Gratis wynproeë deur uniWines word daagliks aangebied met ‘n reeks wyne uit die Rawsonville-vallei. Die Du Toitskloof- en Arabella-landgoede bied ook van hulle wyn te koop aan. Boetiek-bier van Wild Clover is net die ding vir dié wat dink bier is die beste manier om jou dors te les.
Om te eet is daar kaasborde, olywe, koue vleise, wraps, tapenades en seekos. Clover Aardklop gaan pragtige feessakke te koop aanbied waarin jy al jou inkopies kan pak.
Die feesterrein het vanjaar 350 stalletjies. Daar is ‘n verskeidenheid produkte te koop – van klere, meubels, juwele en kuns tot boeke by die ATKV se boekwinkel. Daar is 70 kosstalletjies om alle smake se lus te stil – kerrie en rys, sosaties, paella, hamburgers, skyfies, pizza en pannekoeke.
Die FNB-musiekverhoog is van 09:00 tot 18:00 oop en dan weer van 20:00 tot laat met groot name soos Juanita du Plessis, Bok van Blerk, Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Bobby van Jaarsveld en Riana Nel wat gaan optree. Op 7 Oktober word die Wêreldbeker-rugbywedstryd tussen die Springbokke en die VSA om 16:45 op die grootskerm gewys. Ná elke aand se konsert word daar weer musiek vir die langasems gemaak.
Die FNB-pendeldiens sal sorg dat jy kommerloos van een plek na ‘n ander kan kom. Kaartjies is teen R10 vir ‘n enkelrit en R50 vir ‘n weekkaartjie beskikbaar. Die kaartjies is te koop by die hoofpendelhalte in Loopstraat, wat geleë is op die Potchestroom-kampus naby die Sports Village. Die pendeldiens vertrek stiptelik 30 minute voor die aanvang van enige produksie. SMS die woord “pendel” en die naam van die venue na 44347 indien jou pendel-taxi nie reeds by die venue vir jou wag nie.
Om op die terrein of in die leefstyl-area te kuier, sal jou ook nie ‘n plaas se geld kos nie. Indien jy ‘n terreinkaartjie het, is dit nie nodig om ‘n kaartjie vir die aand se konsert te koop nie. Dit werk ook omgekeerd: Indien jy reeds ‘n konsertkaartjie vir ‘n betrokke aand het, is dit nie nodig om toegang tot die feesterrein te betaal nie.
In die kindertent op die feesterrein kom kuier Tjiff & Tjaf, Sonja en Tjokker, Lollos én Oom Karoolus en Lente met hul onderskeie konserte en is daar elke dag van die fees om 10:00, 12:00 en 14:00 ‘n konsert. Vrydag 9 Oktober en Saterdag 10 Oktober is daar ook om 16:00 vertonings.
Vir ‘n minimale fooi is daar ‘n oppasdiens op die feesterrein waar ouers hul kinders in bekwame hande kan los, maar as ma en pa saam wil speel, is die toegang gratis. Daar gaan sandkuns gemaak word, met klei gespeel word, gesigte gaan geverf word en vir dié met baie energie is daar springkastele om op te baljaar. Die oppasdiens is van 09:00 tot 18:00 beskikbaar en die speelpark is daagliks van 10:00 tot laat in die aand oop.
Dit is nie nodig dat parkering ‘n probleem moet wees nie. Draai uit Govan Mbeki in Hennie Bingle-rylaan in en daar sal jy twee groot parkeerareas vind waar jou motor vir net R20 per dag veilig sal wees.
Die hekke na die feesterrein maak elke oggend van 6 tot 10 Oktober om 09:00 oop.