Drie Suid-Afrikaanse soliste tree op in die laaste konsert van die KZN Filharmonie se lenteseisoen
Johan Myburg
Die KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes sluit sy Lenteseisoen op 22 Oktober af met Carl Orff se Carmina burana en Richard Strauss se Tod und Verklärung (Dood en verheerliking), op. 24.
Van dié program sê Bongani Tembe, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KZN Filharmonie, die oogmerk is om met dié twee werke die lente, en daarmee saam die fleur van die lewe, te vier. “Tod und Verklärung besin oor lewe in die aangesig van die onvermydelike dood en Carmina burana eggo iets hiervan: Ons lewe is uitgelewer aan Fortuna wat haar gelukswiel tol en só ons lot bepaal.”
Vir die uitvoering van Carmina burana is die dienste bekom van die Suid-Afrikaanse soliste: Beverley Chiat, Nicholas Nicholidis en Njabulo Madlala. Drie kore tree ook op: die SA Singers, die Clermont-gemeenskapskoor en die Durban- simfoniese koor.
Die KZN Filharmonie word gedirigeer deur die Russies gebore Daniel Raiskin.
Die Duitse komponis Carl Orff (1895-1982) het sy Carmina burana (Liedere van Beuern) in 1935 gekomponeer. Die woorde vir dié komposisie kom uit die net meer as 250 gedigte en dramatiese tekste wat hoofsaaklik van die 11de of 12de eeu dateer en in 1803 in die Benediktbeuern-klooster in Bavaria gevind is. Dié versameling word toegeskryf aan die goliarde, ’n groep Middeleeuse skrywers wat op Latyn kommentaar gelewer het met hul satiriese, dikwels onkiese kroegliedere.
Carmina burana bestaan uit 25 onderdele. Die werk word gesing in Latyn en Middeleeuse weergawes van Duits en Frans.
Fortuna Imperatrix Mundi (Geluk, Heerser van die wêreld)
1. O Fortuna (koor)
2. Fortune plango vulnera (koor)
I – Primo vere (In die lente)
3. Veris leta facies (kleinkoor)
4. Omnia sol temperat (baritone)
5. Ecce gratum (koor)
Uf dem anger (In die veld)
6. Tanz (orkes)
7. Floret silva (koor)
8. Chramer, gip die varwe mir (koor)
9. a) Reie (orkes)
b) Swaz hie gat umbe (koor)
c) Chume, chum, geselle min (kleinkoor)
d) Swaz hie gat umbe (koor)
10. Were diu werlt alle min (koor)
II – In Taberna (In die kroeg)
11. Estuans interius (bariton)
12. Olim lacus colueram (tenoor en manskoor)
13. Ego sum abbas Cucaniensis (bariton en manskoor)
14. In taberna quando sumus (manskoor)
III – Cour d’amours (Hof van die liefde)
15. Amor volat undique (sopraan en seunskoor)
16. Dies, nox et omnia (bariton)
17. Stetit puella (sopraan)
18. Circa mea pectora (bariton en koor)
19. Si puer cum puellula (drie tenore, bariton en twee basse)
20. Veni, veni, venias (dubbelkoor)
21. In trutina (sopraan)
22. Tempus est iocundum (sopraan, bariton en seunskoor)
23. Dulcissime (sopraan)
Blanziflor et Helena (Blansefloer en Helena)
24. Ave formosissima (koor)
Fortuna Imperatrix Mundi (Geluk, Heerser van die wêreld)
25. O Fortuna (koor)
’n UItvoering van Carmina burana duur net minder as een uur.
In sy toondig Tod und Verklärung (Dood en verheerliking) wat Richard Strauss (1864-1949) in 1889 voltooi het, beskryf hy die dood van ’n kunstenaar. Die sterwende man dink terug aan die onskuld van sy kinderdae, sy gesukkel om homself gevestig te kry, die verwerwing van aansien en te slotte die verheerliking (transfiguration) wanneer hy die “onmeetlike hemel” bereik.
’n Uitvoering van dié werk duur sowat 25 minute.
Die vier dele is gemerk Largo (Die siek man op die rand van die dood); Allegro molto agitato (Die stryd tussen lewe en dood); Meno mosso (Die sterwende se lewe flits verby) en Moderato (Die verheerliking).