‘Ek wou nooit my lewe lank, soos Toscanini, dieselfde 50 musiekstukke oor en oor bestudeer nie. Dit sou my tot die dood toe verveel’
Deur JOHAN MYBURG
In die musiekwêreld staan 2018 nie-amptelik as “anno Leonardo” of gemakliker “die jaar van Lenny” bekend. Die jaar se konsertprogramme het vroeg Januarie al met uitvoerings van musiek deur Leonard Bernstein (1918–1990), die Amerikaanse komponis, dirigent, skrywer, musiekonderwyser, pianis en baanbreker vir musiekwaardering, op televisie begin.
Op 1 Januarie is Bernstein se musiek in etlike nuwejaarskonserte in Duitsland ingesluit en sy klaviermusiek was ook op ’n konsertprogram in Tehran, Iran. In die aanloop tot die Bernstein-feesjaar het die New York Filharmonie sy drie simfonieë uitgevoer en die Philadelphia-orkes en die Nasionale Simfonie-orkes van Boston het hul konsertseisoene met Bernstein-galas begin. Die Londense Simfonieorkes het sy jaar met die Simfonie no. 2 afgesluit. Afgesien van talle konsertuitvoerings regdeur die jaar het Sony ook pas ’n stel van 100 CD’s bekendgestel met uitvoerings uit die 1950’s en 1960’s toe Bernstein direkteur van die New York Filharmonie was.
Binnekort volg Deutsche Grammophon met ’n stel van 121 CD’s van regstreekse uitvoerings wat in die laaste 20 jaar van sy lewe gemaak is. Kort voor sy dood het Bernstein in ’n artikel in The Times op sy ryk en rustelose lewe teruggekyk en geskryf: “Ek wou nooit my lewe lank, soos Toscanini, dieselfde 50 musiekstukke oor en oor bestudeer nie. Dit sou my tot die dood toe verveel. Ek wil dirigeer, ek wil klavier speel. Ek wil vir Hollywood skryf, ek wil simfoniese musiek skryf. Ek wil aanhou probeer om, in die volle sin van die woord, musikus te wees. Ek wil ook klas gee, ek wil boeke skryf en ook gedigte. En ek dink ek kan reg aan al hierdie aspekte laat geskied.”
LEES OOK: Klassieke klanke: Kiri Te Kanawa
Terugskouend was hy in die kol. Hy hét op talle terreine sukses behaal. Kritiek het hy wel ook gekry. Veral dat hy te veel aangepak het. Toe hy van 1959 tot 1969 aan die hoof van die New York Filharmonie gestaan het, was daar vriende en kritici wat gemeen het hy moet uit dié pos bedank en as “redder van die Amerikaanse musiekspel” heeltyds vir die teater skryf. Ander het gemeen hy behoort hom as direkteur van dié befaamde orkes eerder op dirigeerwerk toe te lê. Die flambojante Bernstein – dit was ’n ander punt van kritiek: dat hy té uitspattig was – het nietemin onverstoord sy ding gedoen. Sy dirigeerstyl het sy asemlose gejaag deur die lewe geëggo.
Gaandeweg het die jong, energieke Bernstein ’n “onbeteuelde ou man geword wie se dirigeerwerk net so oordrewe geraak het,” is ná sy dood in ’n huldeblyk geskryf. Hy het aan matelose selftwyfel gely. Die voortvarendheid van die jeug met antwoorde vir alles het mettertyd gewyk. Sy laaste woorde was: “Wat is dit dié?” Maar, soos Mark Swed van die Los Angeles Times opmerk: “Amerika se grootste musikant was wie hy was en ons moet vrede maak met die feit dat hoe moeiliker hy geraak het, des te meer het hy as dirigent, komponis en as wyse man uitgeblink.”
Benewens die talle opnames wat hy gemaak het – hy was onder meer die man wat nuwe lewe aan Gustav Mahler se simfonieë in die VSA gegee het – was dit die onuitwisbare invloed wat Bernstein op geslagte se skoolkinders gehad het, wat uitstaan. Sy “Young People’s Concerts” wat hy van 1958 tot 1972 op CBS aangebied het, het musiek vir jong musici en musiekliefhebbers ontsluit. Kyk byvoorbeeld wat Bernstein doen in die program “Who is Gustav Mahler – Young People’s Concert – Bernstein & NY Philharmonic” op YouTube.