Die wenner van die Absa L’Atelier-kunskompetisie asook dié van die Gerard Sekoto-prys is op 16 Julie in Johannesburg aangekondig.
Johan Myburg
Liberty Battson, ’n Pretoriase kunstenaar, is die wenner van die gesogte L’Atelier-prys wat haar onder meer in staat stel om vir ses maande te gaan woon en werk in die Cité Internationale des Arts in Parys.
Battson het dié prys verower met ’n tweeluik, Odds of an Artist like Me, in motorspuitverf op doek (sien hooffoto).
Kyk dié video vir Battson se verduideliking van haar kunswerk:
[iframe width=”264″ height=”149″ src=”//www.youtube.com/embed/XFfM1Q4-mrY?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Die Gerard Sekoto-prys wat die wenner in staat stel om vir drie maande in die Cité te woon en werk, is gewen deur Mbavhalelo Nekhavhambe met sy videowerk Press Accident.
Nekhavhambe was in 2012 ook een van die tien finaliste in die Absa L’Atelier-kompetisie.
Vanjaar se twee merietepryswenners is Bevan de Wet en Luyanda Zindela.
De Wet wen verblyf van twee maande by Kunst:Raum van die Sylt-stigting op die Sylt-skiereiland noord van Hamburg in Duitsland, en Zindela wen met die medewerking van die Ampersand-stigting verblyf van ’n maand lank in New York.
De Wet het die beoordelaars beïndruk met sy Decorus in Gryphus II, ’n grafiese werk met ets en reliëfwerk. Zindela het sy prys behaal met ’n foto in ’n vergulde raam, Umkhumbi wakaMedusa.
Die ander ses finaliste is Helena de Waal, Justin Dingwall, Franli Meintjes, Kirstie Nel, Nicole Rowe en Leanne Shakenovsky.
Die Absa L’Atelier-kompetisie, vanjaar vir die 29ste keer aangebied en allerweë gereken as een van die invloedrykste kunskompetisies in die land, word aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse nasionale verenigings van die visuele kunste (SANAVA). Kunstenaars jonger as 35 kan aan dié kompetisie deelneem.
Die Gerard Sekoto-prys word aangebied in samewerking met die Franse ambassade, die Franse instituut in Suid-Afrika en Alliance Française.
Die finaliste in alfabetiese volgorde is:
Liberty Battson (1990) het haar kunsstudie aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Haar diptiek, Odds of an Artist Like Me, bestaande uit twee panele (180x52cm elk), lewer op ’n lighartige manier priemende kritiek op die (beperkte) moontlikhede wat ’n kunstenaar (soos sy) het om sukses te behaal.
Haar werk (met ’n meegaande legende) is ’n grafiek wat verskeie brokke inligting oor die kunswêreld kommunikeer. Soos dat 4,1 persent van kuns wat in groot permanente versamelings opgeneem is, gemaak is deur vrouekunstenaars; of dat 5 persent van alle kunstenaars op een of ander stadium in hul loopbaan aan ernstige depressie ly.
Die feit dat Battson die kompetisie met dié werk gewen het, verhoog die ironie onderliggend in Odds of an Artist Like Me.
Helena de Waal het haar kunskwalifikasie behaal aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein.
Met haar Underlying Unity, ’n werk in keramiek en gemengde media (114x45x45cm), gebruik sy ’n keramiekkruik gemonteer op ’n voetstuk as metafoor vir die mens se uiterlike (gedrag). Kyk jy egter van bo af in die kruik (en voetstuk in), kom die gelaagdheid van die mens se innerlike metafories aan die lig.
Bevan de Wet (1979), oudstudent aan die Rhodes-Universiteit in Grahamstad, rakel met sy ets en reliëfwerk, Decorus in Gryphus II (177x117cm), iets van ’n mitologiese taal op waarmee hy gestalte gee aan ’n griffioen (soos wat ‘n mens aantref op die De Wet-familiewapen).
Justin Dingwall het fotografie studeer aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie.
Sy foto Mary 1 (94x69cm) is deel van Albus, ’n voortgaande projek waarin Dingwall onder meer aspekte van albinisme en geïdealiseerde veronderstellings van skoonheid verken.
Franli Meintjes (1982) het haar kunsgraad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Sy was verlede jaar ook een van die Absa L’Atelier-finaliste.
Haar Runaway Greed (151x192x2cm) in gemengde media, ’n werk saamgestel uit 30 panele, bring fasette van armoede en oorvloed in ‘n Afrika-konteks na vore. Die verhouding tussen die historiese oorheersing van Europese kolonialisme op die vasteland, Westerse heerssug en regeringskorrupsie kom in dié werk ter sprake.
Mbavhalelo Nekhavhambe (1981) se videowerk, Press Accident, lewer kommentaar op sprekers (op TV) wat in Engels ’n toespraak moet maak terwyl die spreker se beheer van dié taal gebrekkig is. Die vraag waarmee die kyker gelaat word is: Beteken dit noodwendig dat ’n mens intelligent is as jy Engels kan praat?
Nekhavhambe was in 2012 een van die Absa L’Atelier-finaliste.
Kirstie Nel (1991) het haar kunsstudie aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi.
Haar Things South Africans Say & Things Americans Say (110x150x140cm) is twee handgebinde kunstenaarsboeke waarin sy mense van dié twee lande se opvattings oor verkragting in woord en monodrukke vergestalt.
Nicole Rowe (1982) het haar kunsstudie aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie voltooi.
In haar Alice in Wonderland Syndrome (142x112cm), akriel geraam agter geriffelde stortglas, verbeeld sy van die neurofisioloog Heinrich Kluver se visuele hallusinasies, wat van 1926 dateer. Rowe het dié tekeninge 16 keer vermenigvuldig.
Leanne Shakenovsky (1986) het haar kunsgraad aan Wits se kunsskool behaal.
Vir haar Perfect Family I, II, III (71x128cm) in gemengde media op perspeks het Shakenovsky fotomateriaal van ‘die volmaakte gesin’ ge-Google en dié beelde gekoppel aan kinders se interpretasie van die volmaakte gesin. In dié werke kom vooropgestelde idees en sosiale konstruksies van normaliteit aan die orde.
Luyanda Zindela (1991) het aan die Durban Universiteit van Tegnologie studeer.
Sy foto Umkhumbi wakaMedusa (49x59cm), aangebied in ’n ornate goue raam, roep by die kyker meteen iets op van die teenstelling en selfs spanning tussen motoriste en voertuie op ’n openbare pad. Die figure agter op die bakkie kan netsowel voorvaderlike passasiers wees wat straks onsigbaar ’n reis onderneem.
Vorige wenners van die Absa L’Atelier-kunsprys sluit in:
- Penny Siopis (1986)
- Clive van den Berg (1987)
- Diane Victor (1988)
- Marco Cianfanelli (2002)
- James Webb (2008)
- Pauline Gutter (2013)
Die sameroeper van die 2014 beoordelaarspaneel was Colbert Mashile. Op die paneel was Lerato Bereng, Antoinette Murdoch, Johan Myburg en Fred Scott.
Klik op die foto’s onder om al die finaliste se kunswerke te sien.