Johan Myburg resenseer Moeder Moed, Totius: Die rus is elders, Hemelruim en Son. Maan. Sterre
Johan Myburg
‘Moeder Moed en haar kinders’
“Vervloek is oorlog!” Dis die rou kreet wat Moeder Moed, ’n smous wat met haar wa en drie kinders munt slaan uit die terugslae van oorlog, teen die einde van Bertolt Brecht se Mutter Mut und ihre Kinder uiter. Ongedeerd het sy nié uit oorlog gekom nie. Trouens. Niemand kom ongedeerd uit oorlog nie.
Brecht se drama wat gereken word as die belangrikste anti-oorlog-drama nóg is ook vanjaar op Aardklop se program. Op die KKNK is dié produksie vroeër vanjaar bekroon met drie Kannas (Aletta Bezuidenhout as beste aktrise, Cintaine Schutte as beste vrouebyspeler en Deon Lotz as beste mansbyspeler).
Dié produksie se sukses berus op vele aspekte: In die eerste plek die briljante Brecht-teks wat in die tweede plek meesterlik vertaal en verwerk is deur Saartjie Botha. Brecht sou gehou het van die vertaling, is wat ’n mens deurentyd sit en dink terwyl jy kyk hoe Moeder Moed, kragtig dog ingehoue vertolk deur Aletta Bezuidenhout, haar wa wat vir haar bate sowel as las is, van slagveld tot slagveld laat trek.
Hoewel Brecht se drama afspeel tydens die 30-jarige oorlog in die 17de eeu in Europa, lees ’n mens sy aversie in die opkoms van die Nazisme en Fascisme van sy tyd duidelik. In die regisseurshand van Jerry Mofokeng, in die derde plek, kry dié gelade drama ’n verdere dimensie daar die klankbaan ’n onsigbare wêreld van perde wat runnik, helikopters wat gons, motors wat wegtrek ensovoorts vergestalt.
Laastens is die span akteurs op die verhoog Brecthtiaans betrokke – op dié manier dat die gehoor nie ’n emosionele band met die karakters vorm nie, maar eerder genoop word tot ’n herwaardering van die taferele wat afspeel op die verhoog.
• Vandag 14:30, 8 Oktober 18:30, 9 Oktober 10:00 en 14:00 en 10 Oktober 14:30 en 18:30.
• Ouditorium. R130. 120 minute.
• Foto: Aletta Bezuidenhout as Moeder Moed
‘Totius: Die rus is elders’
Dié woordkunsprogram volg in ’n mate op die program ‘God die digter’, die vroeëre program oor die poësie van TT Cloete. Olga Leonard en Babette Viljoen, wat ‘God die digter’ saam met Cloete op die verhoog aangebied het, brei nou die musicale kragte uit na ’n violis, Izelle Claassen. Die verteller is Louis van Niekerk.
’n Kleinkoor (wat nie in die programnotas aangedui is nie) lewer die hoogtepunt in die produksie: ’n uitvoering van die eerste strofe van Totius se berymde psalm 23.
Die program is saamgestel deur Pierre-André Viviers wat ook die regisseur is.
Benewens gawe toonsettings van Totius se bekendste gedigte is die aanbieding bloot biografies en bra vervelig.
• Vandag 14:30, 8 Oktober 09:30, 9 Oktober 09:30 en 10 Oktober 12:30.
• Laerskool Mooiriver. R120. 90 minute.
‘Hemelruim’
Dié produksie is Nico Scheepers se vertaling van die Britse dramaturg Nick Payne se Constellations. Britse resensente was gaande oor dié stuk toe dit in 2012 daar geopen het. Die Daily Telegraph se resensie het onder meer melding gemaak van die feit dat Payne se drama net meer as ’n uur duur, maar dat dit voller geprop is as ’n stuk drie maal so lank.
Die vertaalde weergawe het net meer as 90 minute geduur en die twee bekwame akteurs, Tinarie van Wyk Loots en Paul du Toit, was vir die eerste 30 minute kwalik hoorbaar bokant die gedruis van die (broodnodige) lugversogers.
Dié teaterervaring het daartoe gelei dat ’n mens begin voel het die stuk is te lank en dat die herhalings nie altyd doelmatig is nie.
Ten spyte van dié kritiek is Payne se stuk kragtig en takel dit ’n onderwerp wat nog besonder onontgin is en wat ’n al groter gesprekpunt gaan word. Meer as dit kan ’n mens nie sê sonder om die aap uit die mou te laat nie.
• Vandag 20:00, 8 Oktober 09:00, 9 Oktober 13:00 en 10 Oktober 15:30.
• Gimmies. R120. 90 minute.
‘Son. Maan. Sterre.’
In dié debuutwerk van die Britse dramaturg Alice Birch takel sy kindermolestering as onderwerp. Die oorspronklike Many Moons is deur Saartjie Botha knap vertaal en die rolverdeling bestaan uit Wilhelm van der Walt, Greta Pietersen, Tinarie van Wyk Loots, Louis van Niekerk en Lida Botha.
Aanvanklik kom dié stuk voor as ’n reeks monoloë waarin vier van die vyf karakters besin oor onder meer die liefde. Mettertyd snap ’n mens ’n samehang wat vaagweg herinner aan Robert Altman se 1993-fliek, Short Cuts.
Die regisseur is Christiaan Olwagen.
Dié onthutsende drama het ’n ouderdomsbeperking van 16.
• Vandag 10:00, 9 Oktober 20:00 en 10 Oktober 09:00
• Boys High. R130. 65 minute.
VOORSKOU VIR DONDERDAG
Lucy’s Party word beskryf as ’n tragikomedie met Albert Pretorius in die rol van Jason, “deurtrek van die foute en nietemin ongelooflik menslik”.
Die regisseur is Tara Notcutt. Lucy’s Party is die sesde produksie wat Pretorius en Notcutt saam aanpak.
• Vandag 09:00, 9 Oktober 12:30 en 10 Oktober 19:00
• Boys High. R100. 60 minute
• Foto: Albert Pretorius
Klein jakkalsies is ’n nuwe komedie met Leon Kruger as skrywer én regisseur. Die rolle word vertolk deur Diaan Lawrenson en Jody Abrahams.
• Vandag 12:00, 9 Oktober 17:00 en 10 Oktober 14:30.
• POK-saal. R120. 70 minute
• Foto: Diaan Lawrenson
Amanda Strydom – Die hele boksemdaais is ’n produksie waarin Strydom van haar bekendste liedjies sing met persoonlike vertellings en staaltjies. Haar begeleier op die klavier is Coenraad Rall.
• Vandag 17:00, 9 Oktober 14:00 en 10 Oktober 10:00.
• Konservatoriumsaal. R130. 70 minute.
Die aanwesigheid van die afwesigheid – TT Cloete hier teenwoordig is ’n musiekproduksie met Awie van Wyk as samesteller, musiekregisseur en regisseur. Dié produksie word beskryf as ’n viering van die lewe van dié digter wat vroeër vanjaar op 91 dood is.
• NG Kerk Miederpark. R70. 60 minute.
• Foto: TT Cloete
SOURCES
Verskaf