Johan Myburg is tans by Aardklop en laat ons weet wat hy van Donderdag se opvoerings gedink het
Johan Myburg
’n Mens kan kwalik glo dat Athol Fugard se People Are Living There al amper 50 jaar oud is. Dié stuk wat van 1968 dateer is onlangs in die Markteater in Johannesburg aangebied en in een van die gelukkigste samewerkings in ’n lang tyd ook ingesluit in vanjaar se Aardklop-program.
Vir dié onlangse weergawe is van André Odendaal as regisseur tot die rolverdeling van huis uit Afrikaanssprekend: Anna-Mart van der Merwe is te sien as Milly, Carel Nel as Don, Francois Jacobs as Shorty en Dania Gelderblom as Sissy.
Deur die jare het verskeie aktrises lyf gegee aan die veeleisende rol van Milly. Van der Merwe maak dié rol haar eie deur onder meer daarin te slaag om in uitspraak onder die vel te kom van die Port Elizabethse Mildred Constance Jenkins. Die konneksie met Afrikaners in dié Fugard strek immers verder as net die karakters van Shorty en Sissy.
People Are Living There speel af in ’n losieshuis in Braamfontein iewers in die 1960’s en Milly is die spil waarom alles draai. Haar weerloosheid, op ’n spits gedryf deur haar 50ste verjaardag wat aanbreek, word die leimotief aan die hand waarvan aspekte van vergetelheid en verlies verken word. Waansin bly nie uitgesluit nie en kry onder meer gestalte in die impromptu-verjaardagpartytjie wat die skyn van uitgelatenheid en ’n “good time” moet hê.
Benewens Van der Merwe se kragtoer is dit Jacobs as die eenvoudige bokser/posman wat beïndruk. Hy wek deernis en met knap tydsberekening bied hy dikwels verposing in ’n emosioneel gelade verhoogstuk.
Odendaal se interpretasie van tyd, verlore tyd en die paniek wat minderwordende tyd tot gevolg het, word deurgaans soos ’n sekondêre spanningslyn volgehou.
Hoewel Fugard in dié drama by tye diep delf is die stuk geen tragedie nie – dis eerder tragikomies. En hoewel die lewe van gewone mense (soos Don dit uitdruk) soms absurd is, is dit Milly se uitbundige lag wat ’n mens bybly wanneer die ligte verdoof.
• Girls High. 8 Oktober om 13:00, 9 Oktober om 19:00 en 10 Oktober om 09:00.
• Foto van Anna-Mart van der Merwe
Ma! deur Marieda Swanepoel is ’n debuutwerk wat bestaan uit ’n snoer vinjette wat aspekte belig van ’n gespanne verhouding tussen ’n ma en dogter (albei aktrises). Die ma is ’n befaamde verhoogaktrise en die dogter kom uit rehab en probeer haar weg vind as sepie-aktrise. Gaandeweg verinnig die verhouding.
Met potensieel boeiende gegewe word Ma! nietemin nie ’n koherente verhoogstuk nie – die lang tussenspele wat die onderdele skei is te direktief en die kyker voel geboelie om te voel wat hy of sy dalk self nié voel nie.
• In die rolverdeling is Annelisa Weiland en Franci Swanepoel. Die regisseur is Gert van Niekerk.
• Girls High. 8 Oktober 16:30, 9 Oktober 16:00 en 10 Oktober 14:00
Gisteraand het Laurika Rauch in ’n stampvol ouditorium op die NWU-kampus in Potchefstroom vertel waar die titel van haar program, Nie as ek sing nie, vandaan kom. Sy het jare gelede een aand voor ’n optrede erge tandpyn gehad. Toe iemand haar kort voor sy moes opgaan vra of die pyn nie te erg is nie, het sy geantwoord: “Ek het pyn, maar nie as ek sing nie.”
Met dié titel, wat eweneens die titel van ’n outobiografie sou kon wees, het sy haar gehoor geneem op ’n kort reis deur die musiekskat wat sy sedert die vroeg-tagtigs opgebou het.
Nog voordat Merwede van der Merwe in 1979 met die Musiek en liriek-program op TV begin het, was Rauch deel van die Musiek en liriek-konserte wat in die Laager van die Markteater in Johannesburg aangebied is. Baanbrekerswerk is wat Rauch en ander in dié jare gedoen het om sinvolle Afrikaanse musiek onder meer op die radio te kry.
In 1979 het haar Debuut verskyn (wat goue-status behaal het). Dié het sy die volgende jaar opgevolg met ’n Jaar in my lewe en in 1981 met Vir jou. Daarna het die CD’s teen ’n gereelde tempo verskyn.
Haar Aardklop-konsert, die eerste in nege jaar op dié fees, was so reg in die kraal van haar waarderende gehoor: Van Die gang tot Kinders van die wind is ingesluit. En van Blou tot Toemaar die donker man.
• Saam met haar op die verhoog was Devereaux van der Hoven-Oosthuizen (klavier), Juan Oosthuizen (kitaar) en Vernette Rautenbach Wessels (agtergrondsang).
• NWU-ouditorium. 8 Oktober 10:00
• Foto van Laurika Rauch
HOOGTEPUNTE OP VRYDAG SE PROGRAM
Die Kaap is weer Holms is ’n komedie-produksie met Marion Holm. Die regisseur is Chris Vorster.
• Girls High. 9 Oktober 09:00 en 10 Oktober 16:30
• R130. 75 minute
Tjello en orrel is ’n musiekproduksie met Anzél Gerber (tjello) en Zorada Temmingh (orrel). Die program sluit werk in van Gabriel Fauré, Girolamo Frescobaldi, Antonio Vivaldi, Robert Schumann en Hendrik Hofmeyr.
• Miederpark NG Kerk. 09 Oktober 11:00
• R100. 60 minute.
In Hardop word kom digters Danie Marais, Loftus Marais, Bibi Slippers en Toast Coetzer byeen met die klanke van Buckfever Underground vir ’n skemeruur van woorde wat weerklink oor dinge wat die hart van vol is.
• Boeke-oase. 9 Oktober 18:00.
• Gratis. 60 minute.