Leonardo se Salvator Mundi sal voortaan in die Louvre in Aboe Dhabi te sien wees, voorlopig neffens sy La belle ferronnière, geskilder teen 1490, wat op lening van die Louvre in Parys is
Deur JOHAN MYBURG
Einde verlede jaar het die Louvre in Aboe Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) aangekondig dat Leonardo da Vinci se Salvator Mundi deur dié land se departement van kultuur en toerisme vir dié museum aangekoop is.
Aanvanklik is vermeld dat ’n Saoedi- Arabiese prins, Mohammed bin Salman bin Abdulaziz Al Saud, die skildery op ’n veiling van Christie’s in New York gekoop het. Dié Leonardo het in November opslae gemaak toe dit vir sowat R6,4 miljard opgeveil is en terstond die wêreld se duurste kunswerk geword het. Tot en met die veiling was dié skildery ook die laaste Leonardo in private besit. Kort daarna het dit aan die lig gekom dat die prins die skildery namens kroonprins Mohammed bin Salman gekoop het.
Hoe die sage ook al verder ontvou, dié skildery sal voortaan in die Louvre in Aboe Dhabi te sien wees, voorlopig neffens Leonardo se La belle ferronnière, geskilder teen 1490, wat op lening van die Louvre in Parys is. Salvator Mundi (Verlosser van die wêreld), om en by 1500 geskilder, is ’n voorstelling van Christus in Renaissance-kleredrag wat met die regterhand ’n seëngroet gee en in die linkerhand ’n kristalsfeer vashou, ’n simbool van sy heerskappy oor die ganse wêreld. Dit is juis dié aspek wat ’n netelige kwessie sou kon wees.
LEES OOK: Kuns: Leonardo en Die Mona Lisa
In die Moslemwêreld is Christus slegs ’n profeet, en dan is daar die siening in konserwatiewe kringe dat God se boodskappers in elk geval nie in kunswerke uitgebeeld behoort te word nie. Maar dit lyk asof niemand iets daaroor sê nie. Dié skildery is dié juweel in die jongste skatkamer van die VAE: die Louvre wat vir sowat R8,8 miljard in Aboe Dhabi gebou is en waarvoor ’n verdere sowat R7 miljard opgedok is om die naam “Louvre” te mag gebruik. Daarby betaal Aboe Dhabi die Louvre in Parys iets soos R3,3 miljard vir ’n leenooreenkoms om kunswerke oor die volgende tien jaar te mag gebruik. Maar die museum is ook deel van ’n groter kulturele groei in die Golf-streek.
In 2008 is die museum vir Moslem-kuns in Doha geopen en tans is die nasionale museum van Katar in aanbou. Daar is kritici wat daarop wys dat die Golf-state voortdurend Westerse instellings kopieer. Alles word ingevoer. In Aboe Dhabi is daar byvoorbeeld ’n kampus van die universiteit van New York sowel as die Sorbonne, daar is ’n hospitaal wat deur die Cleveland Clinic bedryf word, om nie te praat van KFC en Pizza Hut nie. Maar terug by die Louvre op die Saadiyat- eiland. Ontwerp deur die Franse argitek Jean Nouvel is dié museum, wat 24 000 m2 beslaan, die grootste kunsmuseum op die Arabiese skiereiland.
Daar is 6 000 m2 ruimte vir die permanente versameling en meer as 2 000 m2 vir tydelike uitstallings. Die effense gewelf, iets van ’n omgekeerde piering, laat gefilterde sonlig in – amper soos ’n palmboom wat skadu- en sonkolle by ’n oase in die woestyn gooi. See humanity in a new light, is die manier waarop besoekers gepor word om dié nuwe “universele” museum te besoek. Die gemene deler in kunsuitings, van prehistories tot eietyds, van ’n sfinks uit die antieke tyd tot ’n werk van Ai Weiwei, word chronologies vertoon. Die gemeenskaplike in die mensdom is volgens Louvre Aboe Dhabi die goue draad wat deur die permanente uitstallings geweef word.