Die Innibos-kunstefees bied vanjaar ’n uitstalling aan wat fokus op die maniere waarop hedendaagse kunstenaars die landskap hanteer
Deur JOHAN MYBURG
Daar is kwalik ’n genre binne die Suid-Afrikaanse skilderkuns wat tans meer in die kollig behoort te staan as die landskap. Met grondbesit, grondbesetting en kwessies soos grondonteiening in die nuus, vermoed mens kunstenaars gaan hierop reageer en aan dié sentimente gestalte gee. Die kunste is immers ’n barometer van die samelewing. Landskapskilderye bring ’n mens direk in kontak met identiteit en oriëntasie – wie jy is en wie jy binne ’n bepaalde plek of omgewing is.
Dit aan die een kant, maar landskapskilderye vra ook vrae oor aspekte soos ruimte, tyd en plek, mag, eienaarskap, verknogtheid, geskiedenis, geheue en herinnering. Gedagtig hieraan bied die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees vanjaar ’n uitstalling aan wat ondersoek instel na die maniere waarop hedendaagse kunstenaars wat in die medium van olie of akriel op doek of bord werk, die landskap betrag en takseer. Dié uitstalling, Landskappe, word van 25 tot 30 Junie in die Burgersentrum in Nelspruit vertoon. In plaas van die gebruiklike feeskunstenaar wie se werk op dié fees in die kollig gestel word, is dit vanjaar die landskap wat die plek as hoofuitstalling inneem.
Hoewel werk uit verskillende registers vir dié uitstalling getrek is, bly dit ’n seleksie en wil dit hoegenaamd nie voorgee om verteenwoordigend of omvattend te wees nie. Daar is ’n magdom kunstenaars wat die landskap op verrassende maniere verken en in uiteenlopende mediums karteer – van video- tot grafiese werk. Nietemin is dit olie en akriel op doek of op bord wat in dié uitstalling aan die orde kom – met ander woorde die “tradisionele” landskapskildery. Om ’n blik te gee op die tradisie waaruit die huidige landskapskilders ontwikkel het, is ’n paar werke van ouer Suid-Afrikaanse skilders, met die samewerking van Aspire Art Auctions, ingesluit.
LEES OOK: Kuns: Die geboortetoneel
Hoewel die oogmerk is dat die skilderye te koop aangebied word, is vier werke uit die permanente versameling van die Mbombela-munisipaliteit ook ingesluit – landskappe van Keith Alexander, Walter Battiss, Mell Brigg en Michael Selekane. Dié skilderye is nie te koop nie. Nietemin is die fokus van die uitstalling op hedendaagse kunstenaars wat grotendeels of ten minste beduidend in dié genre werk, of enkeles wat met ’n aweregse aanslag op die landskap kom. Van die kunstenaars wie se werk ingesluit is, is Andries Bezuidenhout, Olaf Bisschoff, Ronel de Jager, Heidi Fourie, Pauline Gutter, Andrew Hamlet, Andre Knoesen, MJ Lourens, Clare Menck, André Naudé, Nhlanhla Nhlapo, Hermann Niebuhr, Willem Pretorius, Henk Serfontein, Cobus van Bosch en Jaco van Schalkwyk.
Werk van die Johannesburgse kunstenaar Collen Maswanganyi is ook vanjaar by Innibos te sien. Hy takel die verskynsel van belasting en tiendes in sy uitstalling. Oudergewoonte lewer Maswanganyi met humor en kleurryke beelde sosiale en ook politieke kommentaar. Soms op die man af, maar immer goedig. Dié uitstalling is ook in die Burgersentrum te sien. Twee ander uitstallings by vanjaar se Innibos het albei kos as tema. Oppitafel is ’n uitstalling wat John-Anthony Boerma met werk van onder andere Anton Bosch, Hanlie Bosch, Celemphilo Dlamini, Rene Eloff, Wendy Malan, Reuben Mpangane, Diane Victor en Leigh Voigt insluit. Dié uitstalling is by Hoërskool Nelspruit se mediasentrum te sien. In die Witrivier-galery is kurator Dana MacFarlane se Mosterd na die maal te sien. Anton en Hanlie Bosch stal van hul werk, onder meer pottebakkerswerk, by Hoërskool Nelspruit se mediasentrum uit.