Tamar Mason is die kurator van die uitstalling Living Lines and Impressions: A Glimpse of Judith Mason’s Editions and Drawings
Deur JOHAN MYBURG
“As ’n middeljarige vrou raak mens onsigbaar,” het Judith Mason ’n jaar of nadat sy 60 geword het, opgemerk. “Dit pas my,” het sy bygevoeg. Tydens die uitstalling Judith Mason: A Prospect of Icons in die Standard Bank-galery in Johannesburg in 2008 het sy gesê in die Witrivier-omgewing waar sy woon, raak sy ’n bietjie van ’n kluisenaar. “Maar ek verkies dit so,” het sy weer bygevoeg.
Die opmerkings sou mens kon lees as ’n aanduiding van persoonlike omstandighede – laasgenoemde het sy op 70 kwytgeraak met verwysing na die feit dat sy nie meer by kunsuitstallings uitkom nie. Dit mag so wees, maar dié gewaarwordings kan netsowel van toepassing wees op Mason se kunspraktyk, op haar toenemende inkyk eerder as uitkyk. Dit het nie net in haar selfportrette gestalte gekry nie, maar ook in ’n skat van visuele en simboliese verwysings waarna sy deur die jare teruggekeer en verruim het.
Vir haar visuele taal het Mason ruim uit die fisieke sowel as die metafisiese wêreld geput. Ten opsigte van eersgenoemde was dit plant- en dierelewe wat haar belangstelling geboei het, maar eweso argeologiese artefakte en fossiele. Haar belangstelling het haar weetgierigheid aangevuur en sy het ondersoeke na mitologieë, godsdienste en natuurlik die letterkunde gedoen. Die Italiaanse digter Dante Alighieri was ’n bron na wie sy telkens teruggekeer het. Mason se dogter, Tamar Mason, is die kurator van die uitstalling Living Lines and Impressions: A Glimpse of Judith Mason’s Editions and Drawings wat vanjaar op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees aangebied word.
Dié uitstalling is van 26 Junie af in die White River Art Gallery op Witrivier te sien. Aan die hand van grafiese werk en tekeninge bied Tamar Mason ’n blik op dié kunstenaar wat in 2016 oorlede is en in haar loopbaan van 50 jaar in verskillende dissiplines gewerk het: skilder, teken, grafiese drukwerk, assemblages in gemengde media en kunstenaarsboeke. Mason se werk is in belangrike en groot versamelings opgeneem, openbaar sowel as privaat. Sy het Suid-Afrika op die Venesiese Biënnale in 1966 verteenwoordig, die São Paulo Biënnale van 1971, die Houston-kunstefees in 1980 en Art Basel, Miami Beach in 2008.
Judith Seelander Menge is op 10 Oktober 1938 in Pretoria gebore en het op Zeerust en Bosbokrand in Mpumalanga grootgeword. Sy het in 1956 aan die Pretoria High School for Girls gematrikuleer. Sy het kuns aan Wits studeer en daarna aan die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Pretoria, die Michaeliskunsskool van die Universiteit van Kaapstad en die Scuola Lorenzo de Medici in Firenze, Italië, skilderklas gegee. Oor haar beroep het sy by geleentheid gesê: “I paint in order to make sense of my life, to manipulate various chaotic fragments of information and impulses into some sort of order, through which I can glimpse a hint of meaning. I am an agnostic humanist possessed of religious curiosity who regards making artworks as akin to alchemy. To use inert matter on an inert surface to convey real energy and presence seems to me a magical and privileged way of living out my days.”