‘Ek het as ‘n ander mens na Suid-Afrika teruggekom,’ is al hoe Van Heerden sy aanpassing in sy vaderland beskryf
Deur JOHAN MYBURG
Johan van Heerden se kunstalent loop wyd. Hy kon as ’t ware enige rigting inslaan en sukses behaal – die verhoog was ’n opsie, ‘n sangloopbaan was ’n moontlikheid en as visuele kunstenaar het hy in beeldhou, skilder, grafiese sowel as juweliersontwerp uitgeblink.
Maar dit was as beeldhouer wat hy naam gemaak het. Tot dié mate dat daar al na hom as die vader van niefiguratiewe beeldhouwerk in Suid-Afrika verwys is. Toe Van Heerden in 1952 oorsee is om in Parys (waar anders!) te gaan studeer, was dit nog met die oog daarop om sy vaardigheid as skilder te verfyn. Toe Van Heerden op 22 vanaf Bloemfontein in Parys aankom, kon hy homself help met sy basiese Frans in die groot stad waar hy mettertyd talle mede-Suid- Afrikaners teëgekom het: skrywers Jan Rabie, Bartho Smit en Uys Krige, skilders Nel Erasmus en Marjorie Wallace, en die orrelis Stephan Zondagh.
Met min geld tot sy beskikking het hy soggens vloere gewas en benewens ‘n paar frank ook ontbyt op die koop toe verdien. Aan die Académie de la Grande Chaumiere het hy onder leiding van Edouard MacAvoy skilderkuns studeer totdat ’n medestudent hom op ‘n dag genooi het om ’n klas van Ossip Zadkine by te woon. Die Russies gebore Zadkine (1890-1967) het in daardie stadium Vrydae aan die Grande Chaumiere klas gegee en Van Heerden het in Zadkine die mentor gevind van wie hy altyd gedroom het. Zadkine het hom as student aanvaar en vir net meer as ’n jaar het Van Heerden alles van dié man geleer wat hy kon.
LEES OOK: Kuns: Candice Breitz en Mohau Modisakeng
Daarna is hy daar weg omdat hy “nie op Zadkine se batterye wou leef nie”, maar sy eie ding wou doen. Ná ‘n draai by die Ècole des Beaux Arts waar hy grafiese kuns studeer het, is hy in 1955 terug huis toe. “Ek het as ‘n ander mens na Suid-Afrika teruggekom,” is al hoe Van Heerden sy aanpassing in sy vaderland beskryf. Sy ervarings in Parys het hy in werk ingeploeg en onmiddellik met uitstallings begin. In 1956 was hy die enigste Suid-Afrikaner wat om die Guggenheim- internasionale kunsprys meegeding het. Hy het aan die kunsskool van die Pretoriase Technikon begin klasgee, met juweliersware begin eksperimenteer – wat hy onder meer in Washington en Florence vertoon het – en beeldhouwerk in hout, metaal en ciment fondu aangepak.
Ná verskeie opdragwerke vir beelde in vlekvrye staal het Van Heerden hom teen 1974 op beeldhouwerk toegespits. Gaandeweg het hy sy eie manier gevind om in gestroopte abstraksies aan kragtige beweging, aan die soepel spel van aanwesig- en afwesigheid en bowenal aan die soeke na die opperste vorm uiting te gee. Sedert sy jong dae as beeldhouer daag Van Heerden steeds konvensionele begrip uit, op soek na die “ander kant” van begrip, en beeld hy juis dít uit. Van Heerden het woorde nog nooit eintlik vertrou nie. En oor sy eie werk gebruik hy min woorde. Juis omdat die beelde so sterk en duidelik ‘n taal van hul eie praat. Deesdae woon hy in die huis wat hy en sy vrou, wat ‘n paar jaar gelede dood is, in 1963 op die oewer van die Krokodilrivier naby Broederstroom begin bou het. Vroeër vanjaar is hy op 87 terug Parys toe om vir ‘n paar weke, ná ’n loopbaan van 60 jaar, in sy spore te gaan loop. Die spore wat hy in Suid-Afrika getrap het, is selfs dieper.