‘Toe moes ek in die eensaamheid van die Karoo, sonder leermeester, sonder ’n kunsskool, sonder boeke, begin en self ’n regverdiging vir elke streep van my kwas vind’
Deur JOHAN MYBURG
Soms het kuns uit eie bodem ’n ander oorsprong, in ’n ander land. Soos in die geval van die skilder Jean Welz. Jean Welz (1900–1975) is in Salzburg, Oostenryk, as Hans Max Friedrich Welz gebore. In Frankryk, waar hy in 1925 as argitek gaan werk het, het hy sy voornaam verander. In Parys het hy onder Alfred Loos gewerk, een van die voorste baanbrekers vir moderne argitektuur.
Dit was egter met ’n aanbevelingsbrief van Le Corbusier in sy binnesak waarmee hy in 1937 by Wits se departement van argitektuur in Johannesburg opgedaag het. Die dreigende Tweede Wêreldoorlog het Welz en sy vrou laat besluit om elders ’n heenkome te gaan soek. Hulle het op Suid-Afrika besluit. Wits het egter nie ’n betrekking oop gehad nie en Welz het vir private ondernemings in Johannesburg gewerk. Toe hy twee jaar later met tuberkulose gediagnoseer is, is hy in ’n sanatorium in Modderfontein opgeneem.
Hy moes sy werk prysgee en toe hy ontslaan is, het hy en sy gesin na Barrydale in die Klein-Karoo verhuis. Hoewel hy van jongs af ’n belangstelling in kuns gehad het en saam met sy argitektuurstudie ’n kursus in kunsopvoeding vir kinders geloop het, het hy homself leer skilder. In Elza Miles se boek oor die skilder, Die wêreld van Jean Welz, verwys sy na die feit dat Welz met die intellektuele rypheid van ’n 40-jarige man ná ’n ernstige siekte meteens ’n skilder geword het. “Toe moes ek in die eensaamheid van die Karoo, sonder leermeester, sonder ’n kunsskool, sonder boeke, begin en self ’n regverdiging vir elke streep van my kwas vind.” In 1941 is hy as hoof van die Hugo Naudé- kunssentrum op Worcester aangestel en dit is waar hy in alle erns begin skilder het.
LEES OOK: Kuns: Jean-Michel Basquiat
In 1942 het Welz sy eerste solo-uitstalling in Kaapstad gehad. In Julie het ’n skildery van Welz uit dié tyd, Stillewe met suurlemoene (1943), olie op bord, onder die hamer gekom. Die bod is op R220 000 toegeslaan terwyl die verwagte maksimumprys R400 000 was. In ’n brief wat later, in 1965, in ’n uitstallingskatalogus van sy broer se Galerie Welz in Salzburg gepubliseer is, het Jean Welz na sy skilderye as “geskilderde gedigte” verwys, ’n beskrywing wat Esmé Berman effe verder geneem het toe sy na hom het as “meteen ’n digter en ’n wetenskaplike” verwys, ’n skilder wie se werk wissel tussen nadruk op die intellek en nadruk op intuïsie, tussen rede en emosie. In sy talle studies van vrugte was dié vrugvorms vir hom ewe belangrik as wat appels vir Paul Cézanne was – “iets van die materiële beliggaming van die geometriese perfeksie van die sfeer”, aldus Berman.
En só vergestalt Welz dit in Stillewe met suurlemoene. Benewens die vorm en kleur van somerse suurlemoene is daar ook aanduiding van verval. Nie al die suurlemoene is geel nie – daar is ook dié in skakerings van wit en blougroen. Welz skep ’n stillewe (met die Franse vertaling “nature morte”) met die sterwende natuur in gedagte. Vrugte, soos blomme wat gepluk word om geskilder te word, is reeds aan die doodgaan. Dié vroeë skildery van Welz is ’n viering van lewe én sterflikheid, van gul somervrugte, maar eweneens van onbestendigheid. Maar daarby bied hy ’n skildersvoorskoot met rooi en blou verfvlekke. As aanduiding dat permanensie dalk net in kuns, net in die vorm van geskilderde gedigte, kan bestaan.