Met sy skildery van die Amerikaanse vlag noop Jasper Johns die kyker om dié simbool van nasionalisme opnuut te ondersoek
Deur JOHAN MYBURG
Is dit ‘n vlag of is dit ‘n skildery? Dit was destyds die kommentaar van ‘n kunskritikus na aanleiding van die Amerikaanse kunstenaar Jasper Johns se Flag (1954/55). Dis maklik om nou, net meer as 70 jaar later, dié opmerking met ‘n sweem van sarkasme te lees.
‘n Mens moet wel in gedagte hou dat die 1950’s ander uitdagings gebied het en dat die omstandighede anders was as vandag. Wat ‘n mens net weer daarop bedag maak dat jy kuns altyd in konteks moet sien.
Toe Jasper Johns (1930) dié werk gemaak het, was abstrakte ekspressionisme met vrye kwashale en emosioneel gelade kleurgebruik die neiging – dink maar aan die werk van Jackson Pollock. In die vroeë 1950’s het Johns, toe vroeg in sy 20’s, besluit om hom in alle erns op sy loopbaan toe te lê en al sy bestaande werk te vernietig. Hy wou voortaan werk skep wat anders as dié van sy voorgangers en tydgenote lyk.
Sy gebruik van herkenbare simbole, soos die Amerikaanse vlag, ‘n teiken, nommers, ensovoorts, was destyds onbekende terrein in die visuele kunste. Teenoor die mate van vryheid wat abstraksie gebied het, het die simbole wat hy toe geskilder het, hom kwalik enige beweegruimte gelaat. Die ontwerp sowel as die kleurgebruik was as ’t ware vir hom gegee. Daaraan kon hy min verander.
Hou ‘n mens dít in gedagte, word die kritikus se vraag ‘n aanduiding van die dubbelsinnigheid wat in dié kunswerk opgesluit is – dubbelsinnigheid op talle vlakke, want hoewel dit ‘n skildery is, het dié werk ook trekke van beeldhouwerk.
In ‘n onderhoud het Johns later gesê hy het een nag gedroom hy verf die Amerikaanse vlag – dié vlag wat in die 1950’s die simbool van ‘n Amerikaanse droom was wat by die dag groter geword het. “Die volgende oggend het ek die materiaal gaan koop wat ek nodig gehad het, en begin werk,” het hy gesê: drie doeke gemonteer op laaghout, koerantpapier en verf wat bestaan het uit ‘n mengsel van warm was en pigment (genoem enkoustiek, ‘n tegniek wat die antieke Egiptenare graag gebruik het).
Kyk ‘n mens met jou vooropgestelde idees oor die Amerikaanse vlag na Johns se skildery, is dit gewoon net ‘n ou Amerikaanse vlag met 48 sterre (Hawaii en Alaska het eers in 1959 bygekom) wat jy sien. Van naby (sien detailfoto) sien ‘n mens benewens die drie panele met doek die repe koerantpapier en die tekstuur en onegaligheid in die verf/was-aanwending. Die Amerikaanse vlag is “iets wat die verstand reeds ken,” het Johns gesê, maar aangedui dat hy in sy aanbieding die kyker wou noop om dié simbool van nasionalisme en wat nie al nie, te ondersoek.
Maar bowenal het Johns se Flag invloed gehad op haas elke kunsbeweging sedert die 1950’s tot en met vandag. Deur die kyker te noop om via sý verkenning van die kulturele konteks na alledaagse goed rondom hulle te kyk en dít deel van kuns te maak, het Johns ‘n gesprek met die kykers aan die gang gekry. Soos Andy Warhol het Johns daarin geslaag om die grense wat tradisioneel tussen die alledaagse lewe en kuns bestaan het, af te breek.
Maar Johns het meteen ook die tafel gedek vir konseptuele kuns en die kuns van die postmoderne era wat sou volg. En in samewerking met John Cage, Robert Rauschenberg en Merce Cunningham het die performance-kuns van die 1960’s en 1970’s in Johns se werk al beslag gekry.