Dit is belangrik om jou hart te volg, maar eweso om jou huiswerk te doen as jy kuns wil koop
Deur JOHAN MYBURG
Is daar riglyne om in gedagte te hou as ’n mens kuns wil aankoop? En hoe weet jy wie se werk om te koop?
Die eerste ding om in gedagte te hou, is dat dit raaiwerk is om die toekoms te probeer lees. Niemand kan ’n toekomstige kunsmark honderd persent voorspel nie. Soveel belowende kunstenaars, met alle eienskappe van ’n ster van die toekoms, het al verskiet. Miskien is om kuns te koop op die ou einde baie dieselfde as om ’n nuwe motor te koop. Lank voordat jy begin somme maak of jy die motor kan bekostig, weet jy reeds in watter rigting jou kop staan. Jy het alles wat jy kan op die internet oor die betrokke model opgelees en jy weet watter kleur jy wil hê. Jy was al meermale by die handelaar en jy sien oral soortgelyke modelle rondom jou op die pad.
Dieselfde soort beginsels geld wanneer jy kuns wil aankoop: Dit is belangrik om jou hart te volg, maar eweso om jou huiswerk te doen. Dié benadering bied jou geen waarborge nie, maar kan jou dalk aan die gang kry om jou eerste aankoop te doen. Daar is mense wat meen die kunswêreld is ontoeganklik en snobisties. Namate jy meer kennis en selfvertroue opdoen en opbou, gaan die kunswêreld meer toeganklik en minder snobisties word. Besluit dus van watter soort kuns jy hou, wat jy wil aankoop en hoeveel jy wil bestee. En dan begin die lekker deel: Stel jouself aan soveel as moontlik bloot.
LEES OOK: Kuns uit eie bodem: Diane Victor
Deesdae is dit nie meer moeilik nie. Galerye, handelaars en kunstenaars het bykans almal ’n webwerf of ’n teenwoordigheid op Facebook. Daar kan jy jou in die gerief van jou huis van ’n hele wêreld van kuns vergewis. Jy kan ook galerye besoek. Maak seker dat jy op die adreslys van ’n galery is wat werk vertoon waarvan jy hou. En vestig jou oog op ’n kunstenaar wat ernstig oor sy of haar loopbaan is. Kunstefeeste kan jou ook die geleentheid bied om werk van uiteenlopende aard te sien te kry, van opkomende sowel as gevestigde kunstenaars. En moenie kunsskoue, soos die Johannesburgse Turbine Art Fair (www.turbineartfair.co.za), uit die oog verloor nie. Dit is dalk net die plek waar jy kuns teen bekostigbare pryse kan teëkom en die kunstenaar self ontmoet!
As jou begroting beperk is, oorweeg dan grafiese werk soos etse, litografiese drukke, monodrukke en syskermdrukke. Grafiese drukwerk is goedkoper omdat daar ’n beperkte oplaag van die werk beskikbaar is. Nietemin is elke stuk ’n oorspronklike kunswerk wat genommer is. Daar is talle versamelaars wat in kuns op papier spesialiseer. Dink maar byvoorbeeld aan Diane Victor se voortgaande etsreeks, Disasters of Peace, wat nog beskikbaar en bekostigbaar is (www.artvault.co.za).
Hou ’n oog oop vir werk van The Artists’ Press (www.artprintsa.com) en Artist Proof Studio (www.artistproofstudio.co.za) vir grafiese drukwerk van die hoogste gehalte. As grafiese drukwerk vir jou ’n nuwe wêreld is, kom meer van dié belangrike dissipline binne die visuele kunste te wete. As jy naby ’n kunsskool of universiteit woon, woon studente-uitstallings by. Dit is die ideale geleentheid om met jong talent in kontak te kom. En les bes: Lees soveel moontlik oor kuns, oor kunsbenaderings en -praktyke, oor mediums en prosesse … en stel jouself aan kuns bloot.