In Handskrif beeld Henk Serfontein die vroue as broos en tegelyk bedrewe, as kwetsbaar en tegelyk kompleks uit
Deur JOHAN MYBURG
Die Kaapstadse kunstenaar Henk Serfontein het sy stempel as skilder, as dokumenteerder van vergetelheid, van heugenis en bowenal van die tekstuur van donkerte afgedruk. Lees ’n mens gewoon die titels van sy solo- uitstallings sedert die eerste een 22 jaar gelede, kry jy in woorde ’n prentjie van die trajek waarop hy is: Labyrinth of Remains (Johannesburg) in 1996, Labyrinthe de mémoire et mythe (Parys, Frankryk) in 1997, Memorabilia (Kaapstad) in 2002, Travelling the Margins (Johannesburg) in 2009 en Urban Tension (Barcelona, Spanje) in 2011.
In sy skilderye verbeeld hy plekke wat nie aan die hoofroetes lê nie, plekke wat op die kantlyn vooruitgang sien verbygaan het. Of verlate stedelike parkeergarages. Dikwels nagtonele wat die gevoel van verlatenheid des te meer oproep. Waarvan die kyker deurgaans bewus is, is die gebrek aan toegang tot die plekke. Die tonele van plattelandse geboue – ’n woonhuis op die straat, ’n winkelvenster, ’n verligte straattoneel – is net so ontoeganklik as die leë parkeerterreine. ’n Mens staan oor ’n afstand na die buitekant en kyk terwyl die binnekant onbereikbaar bly.
Die “slapende” geboue onthul niks van die binnelewe nie en die kyker word slegs met die buitekant gekonfronteer, en word op dié manier as ’t ware op ’n afstand gehou. Dié gevoel word versterk deur nagtonele van woonwaens en geparkeerde, of dalk luierende, motors – voertuie wat enige oomblik sonder waarskuwing die niet kan inry. Die skemeragtige buitekant van die lewe het Serfontein na sy tekeninge in houtskool en gemengde media op papier oorgedra. Dié werk het hy in Momentum in Johannesburg (2017) en Winterslaap in Stellenbosch (2017), as ’n skemerwêreld van labirinte en vergetelheid met portrette van ’n slapende Wilma Stockenström vertoon.
LEES OOK: Kuns: Nel Erasmus
Sy jongste uitstalling was Handskrif in September by die Tuin van digters-fees op Wellington. Dié uitstalling met portrette en tekeninge van die hande van sewe vrouedigters – Jeanne Goosen, Lina Spies, Diana Ferrus, Wilma Stockenström, Joan Hambidge, Melanie Grobler en Antjie Krog – is dalk ook ’n aanduiding van die buitekant van ’n verhulde lewe. In sy woorde verbeeld Serfontein die “onbewaakte, intieme oomblikke van elke digter”. Hy beeld die vroue as broos en tegelyk bedrewe, as kwetsbaar en tegelyk kompleks uit. Hy laat dié eienskappe huiwer, sonder om die een prominensie bo die ander te gee. Sonder om die vroue in die portrette tot eendimensionele beeltenisse te reduseer.
Aan die buitekant herken jy die digters in hul portrette, maar, soos met die nagtonele, bly die kyker durend van die private binnelewe bewus. Soos met olie werk hy ook met houtskool in laag op laag – met minder fokus op lyn as op bewerkte oppervlak, op lig en tonaliteit. Die hele oppervlak van die papier verdonker hy met houtskoolpoeier en neem weg, vee uit totdat suggestie meer as beeld gestalte kry. Omgekeerd werk hy dus van donker na lig, van meer na minder en bewerk met sy monochromatiese beelde ’n ekonomie wat op minder as meer neerkom.
In sy verkenning van die topografie van die gesig kry Serfontein se portrette trekke van landskappe. Staan jy digby, raak jy bewus van die ryk, bewerkte oppervlak, van lae, van ’n strata ervarings. Bekyk jy die tekeninge van die hande van naby, raak dit landkaarte met kontoere, gemarkeer met bakens wat met tyd saam tot stand gekom het. Besoek ook https:// deskgram.net/henkserfontein