Happenings was gesetel in die diepgaande geloof dat kuns deel van die alledaagse lewe kán word
Deur JOHAN MYBURG
Een woord wat ’n mens deesdae nie meer in die kunswêreld teëkom nie, is “happening”. Performance-kuns is nou dalk die naaste wat ’n mens aan dié verskynsel kan kom wat die 1960’s sy verskyning gemaak en almal aan die praat gehad het.
’n Tipiese happening was ’n geleentheid waartydens iets met ’n spesifieke visuele trefkrag of bekoring oënskynlik onbepland aangebied is – dikwels met ’n geskrewe teks én waarby repetisie betrek is. Soms was ’n narratief betrokke, maar dit was nie ’n voorvereiste nie. Die oogmerk was meestal om te verras, te skok, uit te daag, bang te maak of met afgryse te vul. Die 1960’s was maklik dié dekade van die 20ste eeu wat die meeste vorms van rebellie en opstand gesien het. Daar was die fel kritiek teen die VSA se betrokkenheid in Viëtnam, hippies wat eerder liefde as oorlog wou maak en die studenteopstande van 1968.
Rebellie teen kunselitisme het eweneens hoogty gevier en die galery of museum as vertoonplek van kuns het “as verwyderd van die lewe” onder skoot gekom. Happenings was gesetel in die diepgaande geloof dat kuns deel van die alledaagse lewe kán word, en was in wese die logiese voortsetting van abstrakte ekspressionisme. Trouens, ’n mens kan die oorsprong van happenings verder terug gaan haal – in die 1910’s en 1920’s in die werk van die Futuriste en die Dadaïste. Die verskil is wel dat waar Dada byvoorbeeld van die kyker blote aanskoue verwag het, het happenings veronderstel dat die kyker aktief deel van elke kunswerk moet wees.
LEES OOK: Kuns: The Evidence of Things not Seen
Een van die opspraakwekkendste happenings was die Amerikaanse kunstenaar Allan Kaprow (1927–2006) se Yard van 1961, wat uit net meer as 1 000 buitebande bestaan het wat in die ommuurde agterplaas van die Martha Jackson-galery in New York gepak is en waarop en waaroor mense kon klouter. Dit is opvallend dat kuns uit die galery gehaal is, maar nog nie heeltemal weg van die galery geneem is nie. In 1958 het Kaprow ’n opstel oor die nalatenskap van Jackson Pollock gepubliseer waarin hy op “concrete art” aandring, gemaak van alledaagse materiaal soos verf, stoele, kos, elektriese en neonlig, rook, water, ou sokkies, ’n hond en flieks. In dié teks het Kaprow die woord “happening” vir die eerste keer gebruik en onder meer daarvoor gepleit dat vakmanskap en permanensie in kuns liefs vergeet moet word.
Soos die geval met Pollock se skilderye, die sogenaamde “drip paintings”, het Kaprow in Yard heelwat aan toeval oorgelaat, hoewel die kunstenaar ook steeds taamlike seggenskap oor die werk behou het (soos in presies waar die buitebande geplaas moes word). Dit was juis die betrokkenheid van mense ín die kunswerk wat Kaprow se oogmerk was. “Die lewe is soveel interessanter as kuns,” het hy opgemerk. Drie jaar later, in 1964, het Kaprow Eat as happening in die Bronx aangebied. Besoekers kon deur die Smolin-galery in New York toegang van ’n uur per persoon bespreek. Op die “spyskaart” was wyn, appels, piesangs, brood, konfyt en gekookte aartappels. Twee vroue het vir besoekers wyn aangebied en aan toue van die plafon af het piesangs en appels gehang. ’n Man het besoekers herhaaldelik aangemoedig: “Get ‘em!” Die brood en konfyt kon slegs met behulp van ’n leer bereik word. Die besoeker se besluit wat om te eet, het dus die ervaring van die happening bepaal, wat juis Kaprow se oogmerk was.